Lukas 6:20-26
Jesus gaan sit teen die hang van ‘n berg. Onderkant Hom drom ‘n reuse skare saam. Hy beduie vir hulle om te gaan sit, en dan sak ‘n doodse stilte toe as Jesus begin om Sy beroemde bergpreek te lewer. Almal is in groot afwagting want Sy woorde gryp jou aan die hart, só anders as die Skrifgeleerdes se hoogdrawende preke.
Jesus begin om met die armes te praat. Die meeste van die mense hier aan Sy voete val in hierdie klas, selfs die twaalf manne wat Hy as apostels uitgekies het. Hulle is vissermanne en hulle het vrywillig al hulle karige aardse besittings net so gelos om Jesus te volg. Hulle het sékerlik eers waarlik hulle volle afhanklikheid van God begin besef die dag toe hulle dissipels geword het. Skielik was daar nie meer die inkomste uit hulle vissersbedryf nie en toe moes hulle ander mense in die oë kyk vir kos.
Armoede en swaarkry is dikwels nodig in jou lewe om jou totale afhanklikheid van God te besef! Die teenoorgestelde is dikwels ook waar, dat rykdom gevaarlik kan wees, in die sin dat jy kan vergeet van jou afhanklikheid van God. ‘n Ryk persoon moet baie harder werk aan sy geestelike lewe as ‘n arme want dit is soveel makliker om selfversekerd en egosentries te wees.
Ons moet hierdie uitspraak van Jesus oor die Koninkryk van God in die wydste sin verstaan. Die redding van God neem ook armoede weg. Dit beteken dat Hy ten volle moet heers oor alle aspekte en omstandighede in jou lewe. Hy moet in beheer wees van jou besittings sowel as jou gees.
Die volgende uitspraak raak so baie van ons. Ons word daaraan herinner dat wanneer ons honger of hartseer is, ons steeds nooit, óóit deur God vergeet word nie. In die wêreld van Jesus is die sosiale strukture oorheers deur diegene met baie besittings. Niemand het iets verniet gekry nie, en dikwels het mense honger gely.
Vandag is dit steeds so. Honger mense is steeds baie pertinent met ons. Ek het al sélf honger geken in my lewe, maar ek het in daardie tyd die liefde van Jesus so geweldig intens ervaar. En wanneer droefheid dreig om jou te verswelg, moet jy weet dat Hy elke oomblik daar is vir jou. Ek het al so dikwels gesien by ‘n begrafnis, dat die persoon se lewensmaat steeds kan glimlag en nie uitmekaar geskeur word deur droefheid nie, bloot omdat sy God se wonderlike nabyheid en troos ondervind.
Jesus praat vervolgens met diegene wat verstoot is deur die samelewing. So dikwels word so ‘n persoon uitgeskel en selfs vermy soos iets wat sleg is. ‘n Baie goeie voorbeeld hiervan sien ons ‘n bietjie later in Jesus se bediening, waar Hy sit en gesels met ‘n Samaritaanse vrou. Sy het ‘n reputasie gehad en sy moes wag tot almal by die put weg was voordat sy kon gaan water haal, uit vrees vir die skewe, spottende kyke en verwyte. Ja, sy het wel in sonde geleef en dit was dalk haar eie skuld. Maar toe ontmoet sy vir Jesus. Hy keer alles onderstebo. Nadat sy van Hom af weg is, het sy die wêreld aan die brand gehad toe sy nie kon ophou om vir al die mense wat haar so vermy het, te vertel van die wonder van Jesus nie. Hierdie verstote vrou was die oorsaak dat talle mense uiteindelik vir Jesus ontmoet het.
Jesus kan steeds vandag jou omstandighede so totaal omkeer as jy Hom net wil toelaat om dit te doen!
In hierdie parallel gaan dit egter meer oor iemand wat verstoot word as gevolg van sy verbintenis met Jesus. Ook dáár kan wonderwerke gebeur wanneer jy die dag besef dat dit nie oor jou as persoon gaan nie, maar oor God. Jesus sê hier ‘n baie waar ding: “Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde…!” As jy beledigings of ‘n koue skouer begroet met ‘n opregte borrelende vreugde, sal jou teenstanders nie weet wat hulle getref het nie. Daardie vreugde moet egter nie aangeplak wees nie, maar diep uit jou hart kom.
Paulus het dit prakties so wonderlik uitgeleef. Toe sy rug stukkend geslaan is en hy en Silas vasgeketting in die tronk hulle wonde sit en lek, het hulle gedoen wat hulle die beste kon doen - om lofliedere tot God te sing! Die resultate was absoluut verstommend. En later toe hy vir jare in die vuil, stinkende Romeinse gevangenis ingekerker was, was hy steeds ‘n bondel borrelende vreugde!
Jesus is die Een wat al die verskil maak. Iemand wat Jesus nie het nie, sal in die beste omstandighede nooit ware vreugde kan ondervind nie. Vir die gelowige is dit die wonderlikste vreugde beskikbaar. Dit verg egter ook iets van jou kant af - jy moet dit jou eie maak! Besef vandag dat Jesus jou die potensiaal gee om daardie borrelende vreugde te ondervind. Ek daag jou uit: gaan leef dit prakties uit! Die verskil in jou lewe sal absoluut verstommend wees!
Gebed:
Dankie Here, dankie vir ‘n wonderlike lewensvreugde wat U my gegee het. Help my aseblief om vir geen oomblik daarvan te vergeet nie!