Seënbede

4 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Seënbede

Hebreërs 13:20-25

VIDEO | LUISTER

Aan die begin van die Hebreërbrief het ons gekyk na die noodsaaklikheid van vernuwing. Ons het ook gesien hoeveel pyn vernuwing vir ‘n mens kan bring - hoedat jy swaar sug wanneer jy van ou bagasie moet ontslae raak. Dink maar aan die pyn wanneer jy skielik besef dat ‘n sentimentele ding waarmee jy jou hele lewe saam geleef het, skielik moet weg, want daar is nie meer plek daarvoor nie. Ja, ek het self ook al lang trane gehuil oor nikswerd goed wat vir my slegs sentiment inhou en niks meer nie - goed wat net ék alleen sal waardeer, en waarby niemand anders gaan baatvind nie.

Maar dan het ek terselfdertyd ook die wonderlike bevryding beleef wanneer hierdie ou goed van jou skouers af is - weg, sodat jy dit nooit óóit weer in die hande kan kry nie. Soms voel ek half jammer daaroor, maar die skielike vryheid is wonderlik!

Ja, ons kyk terug na die verlede met groot nostalgie, as die “Goeie Ou Tyd”, toe alles soveel beter en mooier was as vandag. Maar ons vergeet maklik van die slegte dinge uit die verlede, en nou sien ons slegs die mooi spitse van toentertyd raak, en ons raak terselfdertyd warm onder die boordjie oor die slegte dinge waaraan ons vandag onderworpe is. As ons egter ‘n lysie gaan opstel, dan sal ons baie gou agterkom dat die hede, selfs ná al die vernuwings gladnie so sleg is nie!

As ek maar terugdink aan my “nostalgiese” jongdae, dan wil ek graag die opwinding van jonkwees onthou - die berge wat ons uitgeklouter het en al die lekker dinge wat ons saam gedoen het. Maar dan ril ek as ek terugdink aan my geestelike lewe - ‘n lewe waarin ek wél betrokke was in die kerk, maar nooit werklik die Jesus van die kerk geken het nie. Nou het ek dalk nie meer die opwinding van jonkwees nie, maar die opwinding wat Jesus my gee is tienkeer groter as wat ek óóit sou kon kry in my prille jeug!

Die afgelope paar jaar het daar nuwe waardes in my lewe gekom, en ek geniet dit terdeë. Nadat ons 'n paar jaar gelede deur 'n reuse finansiële krisis gegaan het, het die Here vir my nuwe deure oopgemaak wat my talle geleenthede bied om die Evangelie met baie mense te kan deel. En dis opwindend! Dit is dikwels nie 'n maklike taak nie, maar ek kry troos uit die seënbede in Hebreërs 13:20-21.

Die eerste ding wat ek sien, is dat God vrede gee. Hy het my alreeds vrede gegee oor dinge wat ek moes agterlaat. En nou gee Hy my vrede oor ‘n moeilike taak wat soms op my skouers lê - uitdagings wat dikwels soos reuse berge voor my uittroon.

Die tweede, wonderlike ding wat ek hier lees, is dat ek nie alleen staan in die taak nie, want Jesus is daar vir my - reg langs my. Nie alleen is Hy uit die dood teruggebring nie (v 20) - ja, Hy LEEF! - maar Hy is ook die groot Herder van Sy kudde. Wie is die kudde? Ek en jy - die gelowiges. As Herder weet ek dat Hy my op die regte pad sal lei, en my bring waar Hy weet die beste weiveld is. Lees gerus maar weer Psalm 23!

Hierdie vernuwing in my lewe het alreeds ‘n geweldige groot klemverskuiwing gemaak: Van een waar ek sélf koning gekraai het - dikwels met tragiese gevolge - na een waar ek my laat lei deur die Herder, en waar ek veilig is in Sy kudde.

Hierdie seënbede hou egter nie daar op nie: In vers 21 lees ek ook dat God my die nodige toerusting gee vir die taak. Hy rus my toe met alles wat goed is, sodat ek Sy wil kan doen - aldus die Hebreërskrywer. Is dit nie wonderlik nie?! Ja, natúúrlik is daar ‘n verantwoordelikheid op myself om my te láát toerus - ek kan nie maar net terugsit en sê: “God rus my mos toe!” nie. Ek moet Sy toerusting soek en dit my eie maak. Maar die feit is dat ek die héél beste Leermeester het wat jy kan kry.

Die vraag is: Wat behels hierdie toerusting? Waarheen lei dit uiteindelik? Die antwoord is heel eenvoudig: Ons moet aan die einde van die dag vir God aanneemlik wees. Nie volgens menslike standaarde nie, maar volgens God se standaarde. Ek moet dus geleenthede aangryp waar ek geestelik kan groei – Bybelskool, Bybelstudiegroepe ens.

My gebed vir jou, aan die einde van die Hebreërbrief, is ook wat die skrywer sy lesers toebid - dat jy jou sal laat toerus deur die Een wat álles weet van toerusting. Verder dat jy die verlede sal agterlaat en sal nastreef om aanneemlik gemaak te word vir God. Onthou: dit gaan nie oor óns nie, maar oor Hóm alleen, want “Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid!

Die skrywer sluit af met die wonderlikste trooswoord van alle tye: “Die genade van God sal by julle almal wees!” Mag jy vandag ook op ‘n baie tasbare wyse die genade van God ondervind!

Gebed:

Here, ek bid vanoggend dat U wonderlike genade en vrede sal rus op elkeen wat hierdie dagstukkie lees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Het Jy MY Lief?
11 December, 2025
God se liefde in die Psalms
10 December, 2025
Die HERE is My Herder
9 December, 2025
Hoe Wyd is God se Liefde?
8 December, 2025
Onverganklike Liefde
5 December, 2025