Miga 2:1-5
Die deure van die luukse kantoor swaai oop en ‘n man stap in. Die ontvangsdame sien sommer dadelik aan sy gesig en hele houding dat hierdie man baie omgekrap is. Haar hart klop in haar keel! “Hier kom moeilikheid, moeilikheid met ‘n hoofletter M!”
“Ek wil die eienaar van hierdie besigheid onmiddellik spreek asseblief! Ek is Ds. Miga van Moreset.”
“Ek is jammer Dominee, Meneer Grootbaas is nie nou beskikbaar nie.” Sy weet sommer dat haar baas kniediep in die sop is oor sy skelm besigheidspraktyke, en sy probeer hom beskerm.
“Baie dankie,” sê Ds. Miga beleefd, en voor die arme stotterende dametjie kan keer, stap hy summier in Mnr. Grootbaas se kantoor in en trek die deur agter hom toe. Sy begin haar goedjies bymekaar maak, want sy weet al sommer klaar dat sy hierna beslis in die pad gesteek gaan word!
Miga kyk vanoggend die sakemanne en -vroue reguit in die oë. Nee, dit is nie omdat hy omgekrap is dat hy dit doen nie - dit is in opdrag van God dat hy daar staan. Die manier wat hulle sake doen, kom onder die vergrootglas, en wat hy daar sien, lyk beslis nie kosjer nie. En dan deel Miga die nuus mee, inderdaad gladnie goeie nuus nie, want hy val sommer dadelik met die deur in die huis met “Ellende!” Hierdie woordjie het meer om die lyf as wat ons vermoed, want dit is ‘n woord wat by ‘n begrafnis gebruik was om die mense se droefheid en hartseer uit te druk oor die persoon wat gesterf het. In vandag se terme sou dit wees soos om jou eie doodsberig in die koerant te moet lees.
Nou moet ons baie duidelik verstaan, dat niemand sonder sonde is nie, en dat almal maar die een of ander tyd struikel, dikwels sommer baie keer op een dag. Maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie. Wanneer Miga die sakelui aanspreek, is dit oor ‘n doelbewuste, beplande, goed-deurdagte gekonkel. Hulle planne word met groot sorg uitgewerk, uitgedink en beplan. Daarna word dit in die nag bespreek met sakevennote. Maar dit bly nie net by beplanning nie, hierdie duistere planne word dan in dade omgesit en uitgevoer.
Alles kom neer op hebsug, want die geldgierige sakemanne wat alreeds baie geld het, wil nog meer en meer hê. En dit maak nie saak wie daaronder ly nie, en hoeveel skade die ander persoon berokken word nie. Die probleem is dat die slagoffers van sulke oneerlike saketransaksies nie maar net hulle geld of eiendom verloor nie, maar verder ook hulle menswaardigheid. Ek het dit al so dikwels gesien hoe so ‘n slagoffer in sak en as gaan sit. Hulle is te bang om ander mense in die oë te kyk. Daar kleef ‘n stigma aan hulle. Hulle vriende vermy hulle of skryf hulle doodeenvoudig totaal af. En die ongemaklike vrae wat gevra word, so asof dit nou hulle eie skuld is dat hierdie ding gebeur het. Dis vernederend, om die minste te sê!
Die probleem met duistere sakebedrywighede, is dat dit nie alleen die slagoffers raak nie. Sonde teen ander mense is ook terselfdertyd sonde teen God. Sakemanne wat hulle besig hou deur ander onskuldige mense te beroof (daar is nie ‘n ander woord daarvoor nie!) sal uiteindelik ontdek dat hulle groot wins omswaai in ‘n reuse verlies. My ou skoonmoeder het altyd gesê dat die wiel stadig draai, maar draai, draai hy! Eendag sal dít wat jy gesaai het na jou terugkom! En Miga beklemtoon hierdie feit, want soos wat hulle onregmatig ander se geld en eiendom ingepalm het, sal hulle ook hulle eie geld, eiendom en grond verloor, en mense gaan spotliedjies oor hulle sing. Vir God is oneerlike besigheid totaal onaanvaarbaar!
Die probleem kan egter baie erger wees ook, want as jy so ver afgedwaal het van God af dat jy doelbewus ander mense indoen en hulle skade berokken, dan het jy dalk al ook so ver afgedwaal dat jy jou geloof kan verloor. Dat jou vertroue nie meer in Jesus is nie, maar in jou eie (skelm) krag en slimmigheid. En wanneer dit gebeur het, het jy dalk jou kans verbeur om die ewige lewe te kan erf.
My liewe vriend/vriendin, as jy vandag daar is, dan pleit ek by jou om jou saak met die Here reg te maak. Gaan maak reg waar jy verbrou het en vra God om vergifnis. Maar die belangrikste van alles, is om weer jou vertroue in Jesus alleen te plaas. Saggeus, die tollenaar het gaan regmaak waar hy verbrou het, en die mense wat hy beroof het dubbel terugbetaal (Lukas 19). En toe volg hy Jesus.
Gebed:
Here, vergewe my asseblief waar ek iemand skade aangedoen het met slinkse sakepraktyke. Help my om reg te maak waar ek verbrou het.