Saam met die Leeus

15 October, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Saam met die Leeus

Daniël 6:19-29

Video - Oudio

Leeus is skrikwekkende gediertes. Mooi ja, maar hulle kan vrees in ‘n man inboesem! Het jy al ooit in die veld gestap en op kraakvars leeuspore afgekom? Kyk, daardie kat het ‘n menéér van ‘n poot, en sy toonnaels is beslis nie so stomp soos myne nie! Dis daardie slag dat ‘n man loop en omkyk-omkyk, of daar nie dalk ‘n kat agter jou aansluip nie!

Marloth Park - dis nou waar my boshuisie was - het vir homself naam gemaak met sy leeustories. Baie van die inwoners het eerstehands te doene gekry met die groot katte - sommiges bitter ongemaklik naby. Maar die groot nuus het gekom toe ‘n man deur een van hulle aangeval is. Een van die sekuriteitswagte het die aand gaan kuier op sy trapfiets, en in ‘n trop leeus vasgery. Hy was baie gelukkig om met sy lewe daarvan af te kom, maar hy het lank in die hospitaal gelê. Daarna was daar nog ‘n paar aanvalle, en die mense het begin kriewelrig raak. Maar die storie wat my koue rillings gegee het, was die Mosambieker wat die nag deur die bos gesluip het, net so ‘n entjie van my huis af. Hy het ‘n sonpaneel gesteel. ‘n Leeu het hom gegryp en opgevreet, sodat daar net ‘n voet oorgebly het. Jy speel nie met ‘n wilde leeu nie!

Nou-ja, die arme ou Daniël is tussen die spul leeus ingesmyt, en die put se opening is geseël. Koning Darius was nou nie juis gelukkig met die toestand van sake nie, en hy het ‘n slapelose nag deurgebring. Dit het skaars begin lig word die volgende oggend, toe draf hy af na die leeukuil. Ek dink hy het ‘n knop op sy maag gehad van pure senuwees. Wat sou hy daar aantref? ‘n Hopie bene? Dalk net ‘n bloedplassie? Angstig roep hy: “Daniël....”, Aag, die arme man kon dit mos nooit as te nimmer oorleef het nie. Al wat daar uit daardie put kan kom is die eggo van sy eie stem, en dalk die tevrede kreun van dikgevrete leeus. Maar net om sy gewete te sus, roep hy ‘n bietjie harder: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?”

Was Hy in staat? Wat ‘n vraag! Is enigiets vir die Lewende God te groot? Ek dink Darius het hom asvaal geskrik toe hy ‘n antwoord kry uit die leeukuil uit: “Mag die koning lank lewe......”

Toe Daniël daardie middag in die stinkende leeukuil gesmyt is, het sy hart sekerlik in sy keel geklop. Wat sou hy daar aantref? Sou hulle hom onmiddellik verskeur? Sou hy baie pyn verduur? “Here God, bewaar my asseblief”, het Daniël sekerlik gebid. As hy hardhandig op die bodem land, knyp hy sy oë styf toe, en wag vir die eerste aanval. Maar dit kom nie. Hy maak sy oë oop - in die half-donker sien hy hoe die leeus van hom wegskram. Dit wil amper lyk asof hulle bang is vir hom. “Dankie Here”, bid Daniël, want onmiddellik besef hy dat God hom weereens gered het. Sy drie vriende het ongedeerd uit die vuuroond gestap, en nou die leeus..... Deurentyd voel hy die teenwoordigheid van iemand anders saam met hom in die kuil - ‘n engel? Dit kan nie anders wees nie! God het Sy engel gestuur om die bekke van die leeus te sluit!

Dit was nou nie juis wat jy ‘n gemaklike nag sou noem nie, en Daniel was maar bitter bly toe hy die koning se stem teen dagbreek hoor.

Maar dit is nie waar die verhaal eindig nie. Darius besef dat hy aan die neus gelei is deur ‘n klomp jaloerse amptenare. Hy gee die bevel dat hulle van hulle eie medisyne terugkry, en dat hulle in die leeukuil gegooi word. Skielik is die leeus weer hulle ou selwers, en skaars vat die manne grond daar onder, of hulle word wreedaardig verskeur. Darius skryf ‘n brief aan al die volke in sy koninkryk waarin hy opdrag gee dat God vereer moet word. Hy sluit die brief af met ‘n loflied tot eer van God.

Die verhale van Daniël was bedoel om ‘n volk ‘n boodskap van hoop te gee. Die eerste lesers van hierdie boek was vasgevang in ‘n verskriklike verdrukking onder die regering van Antiogos IV Epifanes. Die skrywer het weer die verhale van Daniël gaan opdiep om vir hulle te sê dat, soos wat God die manne uit die vuuroond gered het, en vir Daniël uit die leeukuil verlos het, so sal Hy hulle uiteindelik ook verlos van hulle onderdrukker. Hoop op God! Hy is in staat om te red.

Ook vandag loop ons rond met reuse bekommernisse – die verskrikking van Kovid 19, ‘n wêreldekonomie wat besig is om in duie te stort. Baie mense kry finansieel bitter swaar omdat hulle hulle werk verloor het as gevolg van die pandemie. Dan is daar nog aardverwarming wat besig is om ons planeet te vernietig, besoedeling, moord, roof, stakings. Ook vir óns het Daniël se verhale vandag ‘n wonderlike boodskap van hoop, want ons kan verséker weet dat God in beheer is, selfs in die mees onmoontlike situasies. Deur alles kan ons grenslose blydskap ervaar.

Gebed:

Here, dankie vir hierdie wonderlike verhaal van hoop. Dankie dat ek ook vandag kan besef dat U tot absoluut alles in staat is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026