Saai Sonder Ophou

29 June, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Saai Sonder Ophou

Matteus 13:1-9

VIDEO | OUDIO

Ek kamp ‘n klompie jare gelede met ‘n spannetjie Voortrekkertjies in ‘n pragtige kloof op ‘n plaas naby Ballito. Ons neem slegs die noodsaaklikste benodigdhede saam. ‘n Tent was nie beskou as een van die noodsaaklikhede nie. Die kinders moes ondervind hoe dit voel om onder die sterre te slaap. Met ‘n nou suikerpaadjie ry ons tot ‘n entjie van die kloof af, en dan stap ons die laaste ent. Voor ons doem ‘n lowergroen woud op, byna ondeurdringbaar. ‘n Helder waterstroompie kabbel tussen die woudreuse deur. In die klam grond sien ons die spore van bosbokkies, duikertjies en bosvarke. Met groot opgewondenheid begin die kinders kamp maak. Ek asem die heerlike, klam woudlug diep in my longe in. Skemer begin toesak oor ons, en die kinders kry die opdrag om vuurmaakhout te gaan soek en ‘n vuur aanmekaar te slaan vir die nag.

En dis toe nou net hier waar die moeilikheid begin! Ek lag in my mou want ek weet hoe ‘n byna onbegonne taak dit is om hier in die klam woud ‘n vuur te maak werk. Ek het boonop aspris nie vuuraanstekers saamgebring nie. Een van die dinge wat die groepie kinders hierdie naweek moet leer, is dat nie alles in die lewe sommer maklik kom nie en om vuur te maak is een van daardie dinge. Hier is ons in ‘n ongerepte woud, sonder ablusiegeriewe en die dorpsjapies leer ook gou dat ‘n stort, wasbak en toilet luukshede is. Maar nou is hulle vol lewenslus en ywerig word daar gesoek na droë hout wat jy, terloops, nie sommer in so ‘n woud kry nie want alles is klam. Uiteindelik kom hulle daar aan, elkeen met ‘n arm vol hout. Maar hier begin die moeilikheid éérs, want om hout te kry is een ding, maar om dit brand te maak is ‘n héél ander saak. Met groot belangstelling sit ek en kyk hoe hulle vuurhoutjie-na-vuurhoutjie trek om die klam gras aan die brand te kry. Uiteindelik is daar ‘n vlammetjie, en dan blaas en hyg en proes dit om die vlammetjie lewendig te hou. Pikdonker het al oor ons toegesak voordat die eerste houtjies vlamvat!

Ure later, nadat kos gemaak is met groot moeite, sit ons en kyk na die sterretjies wat deur die blaredak vir ons loer. Die grillerige kerm-skreeu van ‘n Bosnagapie weerklink êrens deur die digte bome. Die kinders is doodmoeg, maar opgewonde oor hierdie avontuur wat hulle vir altyd sal onthou. Die vuurtjie is nou nie juis wat jy ‘n reuse sukses kan noem nie. Meeste van die houtjies is te klam en hulle maak net rook. Ander is so nat dat hulle gladnie eers aan die brand kom nie. Maar die enkeles wat tog vlam gevat het maak alles die moeite werd.

Die gelykenis wat Jesus vertel oor die saaier, laat my baie dink oor daardie spesiale tye wat ek in die veld saam met my Voortrekkertjies deurgebring het. Soos wat die saad nie alles wou groei nie, so wou alles in die veld ook nie werk nie. Maar net so het ek ook ondervind dat dit met koninkrykswerk ook nie altyd werk nie. In my jong dae het ons dikwels in Welkom gaan straatwerk doen. Dit was met groot entoesiasme en verwagtinge van ‘n groot oes nuwe bekeerlinge, wat ons dikwels die strate ingevaar het. Maar dan moes ons baie keer teleurgesteld huistoe gaan, met slegs ‘n enkele nuwe siel wat vir die Koninkryk gewen is. Dikwels is die vuur-en-vlam straatwerkers aan die einde van die dag moedeloos oor die karige oes.

Jesus se gelykenis van die saaier vertel dan ook van baie “mislukkings”, want baie mense hoor die Woord en dit is slegs enkele hoorders wat positief reageer. As dit met Jesus gebeur, dan hoef ons nie sleg of moedeloos te voel nie want dan weet ons mos wat om te verwag as ons sélf ook gaan saai in God se lande. Dit is vir ons ‘n wonderlike troos! Nou kan ons ook weet dat ek en jy nie die saadjie wat ons saai aan die lewe hoef te kry nie. God sal lewe gee. Hy is die enigste Een wat lewe kán gee! Ons moet maar net aanhou saai, wetende dat, alhoewel baie saad verlore sal gaan, daar die enkeles is wat sal groei. En dan sal die engele in die hemel juig!

So stuur ek hierdie dagstukkies elke oggend aan duisende mense regoor die wêreld. Ek weet dat slegs ‘n gedeelte van die mense wat dit lees positief daarop reageer. Nogtans is dit vir my ‘n lewenstaak. Ek stuur dit egter elke oggend met groot entoesiasme uit, want êrens is daar iemand vir wie vandag se dagstukkie baie beteken. Dit maak ‘n verskil in daardie persoon se lewe. Ek kry dikwels briewe van persone wat vertel wat dit vir hulle beteken en dan is alles die moeite werd. En dan, kry ek soms ‘n briefie van iemand wat deur hierdie dagstukkie geroer is om na Jesus te soek. As ek dan die geleentheid gebied word om daardie persoon na Jesus te lei, jubel en juig ek want dan weet ek dat die saad wat ek gesaai het nie deur die wind verstrooi is nie, maar op vrugbare aarde geval het en baie vrug sal dra!

Ek wil jou vandag aanspoor om te saai. Baie van jou saad sal verlore gaan maar moenie daaroor bekommerd wees nie, want iewers langs die pad gaan jou saad vrugbare aarde tref, en dan gaan daar ‘n juigkreet uitstyg in die hemele.

Gebed:

Here, my gebed is vanoggend dat ook hierdie saad wat ek vandag saai, nie leeg sal terugkom nie maar dat dit iewers op vrugbare grond sal val en groei en baie vrug sal dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026