Saul Onder Die Profete?

1 September, 2026

1 Samuel 10:9-16

Saul het op ‘n wolkie gesweef. Hy het homself geknyp om doodseker te maak dat hy nie dalk droom nie! Boonop het alles presies gebeur soos die ou profeet voorspel het. By Selsa het twee manne hom tegemoet geloop en hom vertel dat die donkies opgespoor is en dat sy pa baie bekommerd is oor hom. By Elon-Tabor het hy die drie manne teëgekom waarvan die profeet vertel het, en hulle het hom die twee brode gegee nét soos Samuel gesê het.

As Saul na dese nog énigsins getwyfel het, het ál sy twyfel soos mis voor die son verdwyn toe hulle by Gibea aankom. Daar tref hulle die groep profete aan wat van die hoogte afkom onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere. Saul het hulle half ongelowig aangegaap. Hier is die laaste helder en duidelike bewys! Saul voel iets in hom opwel, ‘n onweerstaanbare drang om te gaan meedoen waarmee hierdie profete besig is. Saul raak só meegevoer dat hy nét daar en dan by die groep aansluit en saam met hulle as profeet begin optree. Die Gees van God het kragtig in hom gewerk, so lees ons in 1 Sam. 10:10.

Dit was ‘n totaal ander Saul wat hier saam met die profete was. Só het niemand hom nog ooit gesien nie! “Wat het met Kis se seun gebeur?” het die mense van Gibea mekaar afgevra. “Is Saul ook onder die profete?” Vir sy vriende was dit totaal onverstaanbaar, want só het hulle vir Saul beslis nie geken nie! Hy was beslis nie die soort mens wat jy tussen ‘n klomp profete sou verwag nie. “Is Saul ook onder die profete?” het ‘n spreekwoord geword wat selfs vandag nog gebruik word.

Maar wat het met hom gebeur? Eenvoudig: Die Here het in sy lewe gekom! Die Heilige Gees het oor hom vaardig geword. Die Gees het hom toegerus vir sy nuwe roeping, want sonder die krag van die Heilige Gees sou hy nooit as te nimmer die mas kon opkom nie. Saul het ’n reuse taak op sy skouers gehad. Israel se twaalf stamme het op daardie stadium elkeen op sy eie gefunksioneer. Saul se taak sou wees om hierdie klomp losstaande stamme ‘n volk te maak wat sou kon opstaan teen die magtige Filistyne en die ander vyande wat hulle so geboelie het.

Is so iets vandag nog moontlik? Verséker! Wanneer iemand homself bereid verklaar om die Heilige Gees toe te laat om sy/haar lewe oor te neem, kan asemrowende dinge gebeur. Só ‘n persoon se lewe verander handomkeer wanneer die Heilige Gees oorneem. Die bekendste geval in ons geskiedenis is sekerlik Ds. Andrew Murray wat beskou word as die grootste geestelike werker van ons tyd. Vandag is daar talle soortgelyke mense wat kragtig deur die Here gebruik word bloot omdat hulle die Heilige Gees toegelaat het om volle beheer oor te neem.

Maar dit is nie net die groot name nie. Mense uit die alledaagse lewe word dikwels getransformeer om die hande, voete en mond van God te word en sodoende talle wonderwerke te verrig.

Die groot geheim is om minder te word en jou totale afhanklikheid van God te besef. En juis in jou swakheid lê onmeetlike krag opgesluit.

In die Bybel is daar natuurlik ook talle sulke voorbeelde van mense wat deur die Gees gelei is. Nie eers gepraat van mense soos Moses nie. ‘n Eenvoudige voorbeeld is die Samaritaanse vrou by die put. Sy het ‘n liederlike reputasie gehad en sy wou nie eers met ander mense kontak maak nie. Toe Jesus haar egter van die “lewende water” gee, bring sy ‘n hele dorp in beroering en lei hulle na Jesus. Eers wou niemand met haar praat of na haar luister nie. Nou luister almal aandagtig na haar as sy hulle van Jesus vertel. Wat het die verskil gemaak? Die Gees van God in haar! Selfs sonder enige geleerdheid, status of reputasie word sy ‘n magtige instrument in God se hand.

Gideon was só bang, dat hy in ‘n parskuip weggekruip het. Toe die Gees egter oor hom kom, durf hy ‘n magtige leër aan met ‘n klein handjievol manskappe.

Die mal man wat in die begraafplaas by Gerasa weggekruip het, het weereens ‘n hele landstreek aan die brand gepreek deur vir die mense van Jesus te vertel. En so is daar Paulus, Petrus, Timoteus en nog talle ander wat van niks na aardskuddend gegaan het toe die Heilige Gees in hulle oorgeneem het.

En wat van my en jou? Is dit óóit vir ons moontlik? Is ons nie dalk te nietig, te klein, te ongeleerd, te bang, te watookal nie?

Ja! Duisendmaal JA! Natúúrlik is dit vir ons moontlik! Dit is binne die mag van elke gelowige om kragtig deur die Heilige Gees gebruik te kan word. Al wat dit van my vra, is om in volle oorgawe myself aan die Gees oor te gee. Om Hom ten volle te vertrou en die besluit te neem dat ek my eie wil en my eie belange opsy sal skuif sodat slegs die belange van God vooropgestel word in my lewe.

Is dit maklik? Ja en nee. Nee, want ons is so verknog aan ons eie belange, veral geld, dat ons dit nie wil laat los nie. Maar ook ja, want as ons opreg die stap wil neem, is die Heilige Gees daar om ons die krag daarvoor te gee.

Gebed:

Here, ek wil vandag my hele lewe aan U toewy. Heilige Gees, neem asseblief volle beheer oor!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026