1 Samuel 9:1-20
Wanneer hy deur die dorp stap, raak die meisies se knieë lam! ‘n Bitter aantreklike man! Boonop nog baie lank ook – staan kop en skouers uit bo al die manne. En dan is sy pa nog boonop skatryk! Saul is enige meisie se droom!
Op ‘n dag kies ‘n klompie van Kis se donkies koers die berge in. Kis, dis nou Saul se pa, is nie gelukkig nie en Saul kry die onbenydenswaardige taak om die belhamels te loop soek.
“Maar Pa,” wil hy nog protesteer, “daardie esels kan énige plek wees! Hoe moet ek hulle nou opspoor?”
“Dis jou probleem Saul!” En daarmee is die saak afgehandel. Sommer dadelik val Saul in die pad saam met een van sy pa se slawe om die wegloopgediertes te loop soek.
Die Efraimsberge word van hoek tot kant deursoek sonder ‘n spoor van die donkies. Omdat Saul sy streng pa ken, soek hulle al verder en verder weg. Dae gaan verby sonder ‘n spoor van die donkies.
Drie dae lank soek Saul en uiteindelik is hy moedeloos: “Kom ons draai om!” Maar die slaaf het ‘n ander plan: “Ek weet van ‘n man van God wat in die stad hier naby bly. Kan ons nie dalk by hom gaan aanklop vir raad nie?”
Saul wil nog protesteer. Hy het dan nie eers iets waarmee hy die profeet kan betaal vir sy dienste nie. Maar die slaaf krap in sy sakke rond en haal ‘n paar silwerstukkies uit. “Dis dalk nét genoeg om die profeet se raad te kry!”
Naby die stad kom hulle ‘n groepie meisies teë: “Weet julle of die siener in die stad is?” Die meisies se knieë word skoon lam oor hierdie mooi man. Al giggelende en bloedrooi gebloos vertel hulle vir Saul dat hy sal moet gou maak, want die profeet het nou nét hier aangekom en hy is alweer op pad om iewers te gaan offer.
Samuel het lank met die Here geworstel oor hierdie koning wat die volk wil hê. “Wees rustig, Samuel,” het die Here vir hom gesê, “Ek sal op die regte tyd vir hulle ‘n koning gee.”
Een oggend, pas nadat Samuel in sy tuisdorp Rama aangekom het na een van sy reise, praat die Here met Samuel: “Samuel my kind, die tyd het aangebreek. Ek stuur moreoggend vir jou die man wat jy as koning moet salf vir die volk. Ek het geluister na die volk se versugtinge en Ek het besluit om hulle iemand te gee wat hulle kan red van die Filistyne.”
“Hoe sal ek weet dat dit die regte man is?” wil Samuel nog vra, maar die Here antwoord hom: “Hy is ‘n jong man uit Benjamin. Jy sal hom sommer dadelik herken!”
Saul en sy slaaf draf haastig na die stad om betyds by die profeet te kom voordat hy te besig raak met offerandes. Wanneer hulle die stadspoorte binnekom, sien hulle ‘n waardige ou man en Saul stap reguit na hom toe. Hierdie lyk na iemand wat beslis sal weet waar om die Profeet te kry.
Dan hoor Samuel duidelik die stem van God: “Samuel, hier is die man van wie Ek vir jou gesê het, ‘Dit is hy wat oor my volk beheer sal uitoefen.’”
Die jong kêrel wat hier na hom aangestap kom is ‘n mooi jong man, fris gebou en langer as enige van die Israeliete wat hy ken. Daar is iets koninkliks in sy stap! “Dankie Here,” prewel Samuel.
“Meneer,” vra Saul eerbiedig toe hy by die ou grysaard kom, “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis?”
“Ek is die siener,” kom Samuel se antwoord. “Kom, jy moet saam met my na die hoogte gaan om te offer. Jy eet vandag saam met my, en vanaand slaap jy by my oor.”
Saul is uit die veld geslaan. Hoe kan hierdie man hom sommer so uitnooi vir ete? Hy ken hom nie eers nie!
“Moet jou nie verder bekommer oor jou pa se donkies nie,” slaan die profeet Saul se voete verder onder hom uit, “hulle is nou al drie dae weg, maar wees gerus, hulle is reeds opgespoor.”
Saul is stomgeslaan: “Hoe weet die profeet al hierdie dinge? Hoe het hy geweet van die donkies?” Gelate stap hy en die slaaf saam met Samuel. Maar Saul se gemoed is verward. Hy verstaan nou net mooi gladnie wat aan die gang is nie!
Op die oog af is dit ‘n groot toeval dat Saul nou juis die donkies moes gaan soek naby Rama, baie ver van die huis af. En dat Samuel nou juis op die regte oomblik daar moes opdaag.
Toeval? Nee, baie beslis nie! Die Here het elke klein detail haarfyn beplan. Hoe het die slaaf byvoorbeeld geweet dat daar ‘n “siener” in die dorp is? Ook deel van God se beplanning! Die Here gebruik gewone verskynsels, gewone dinge en gewone mense om Sy wonderwerke te openbaar. Lastige dinge (wegloopdonkies), eenvoudige mense (in hierdie geval ‘n slaaf!) en onbenullige dinge (‘n paar giggelende meisies) word God se instrumente. Dikwels kan ons maar net verstom staan wanneer ons sien hoedat dinge presies reg uitwerk en elke stukkie van die legkaart presies in plek val.
Iemand het eendag vir my gesê dat die woord “toevallig” eintlik beteken: Toe Val Lig, oftewel: Toe laat Val God Sy Lig! Ons moet begin om God se beplanning en Sy voorsiening raak te sien in die dinge wat met ons gebeur!
Gebed:
Here, maak asseblief my oë oop dat ek U voorsiening kan raaksien en U die eer kan gee daarvoor, want ek besef vandag dat niks toevallig gebeur nie!