Rut 1-4
In sy geslagsregister skryf Matteus: "Salmon was die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut, Obed van Isai; Isai was die vader van koning Dawid." Die naam Boas vang dadelik my oog. Boas was mos getroud met...... nee wag, nou loop ek die storie vér vooruit. Ons sien vanoggend die name van twee van die vroue in Jesus se geslagsregister, Ragab die prostituut en Rut, die wegloop Moabiet. Maar dis oor hierdie einste Rut wat ek 'n bietjie wil stilstaan.
Maar ons storie vandag is 'n baie romantiese verhaal. Dit begin toe Elimelek en Naomi en hulle twee seuns die dag emigreer na Moab as gevolg van 'n ernstige hongersnood in Israel. Die twee seuns is daar in die vreemde met Moabitiese meisies getroud, Orpa en Rut. En daar in die verre Moab sterf Elimelek en albei sy seuns, en hulle laat drie bedroefde weduwees agter.
Naomi besluit om terug te keer na haar geboorteland, en die twee skoondogters wil saam. Uiteindelik oorreed Naomi vir Orpa om in haar eie land agter te bly. Maar Rut weier volstrek. Sy gaan ten alle koste saam met Naomi. Sy verklaar haarself bereid om selfs haar heidense godsdiens prys te gee en die God van Naomi te aanbid.
Wanneer hulle in Betlehem aankom, is alles beslis nie maanskyn en rose nie. Dit gaan bitter swaar met die twee weduwees, want daar is géén inkomste nie en hulle het g'n kind of kraai wat vir hulle kan sorg nie. Rut is verplig om na die lande te gaan waar daar koring geoes word. Daar loop sy agter die werkers aan om die are op te tel wat hulle per ongeluk laat val. Waarskynlik het dit ook hiér nie so maklik gegaan nie, want sy is 'n indringer, 'n Moabitiese meisie, en die manne en vroue van Israel sou dit beslis nie vir haar aangenaam gemaak het nie.
Maar alles was nie verlore nie. Daar was 'n grondeienaar met die naam Boas, 'n familielid van Naomi se oorlede man, Elimelek. Hy was 'n vermoënde man, en hy was op daardie stadium juis besig om sy koringland te oes. En dit was op sý land waar Rut dié dag besig was om oorskiet are op te tel.
Boas wou gaan sien hoe die oes vorder, en hy kom van Betlehem af by die land aan. Toe hy die vreemde meisie agter die graansnyers sien loop, wil hy weet: “Wie is sy?”
“O, sy is 'n Moabiet. Sy het glo saam met Naomi van Moab af gekom, en sy het gevra of sy nie maar asseblieftog van die oorskietare kan optel nie. Sy loop nou al van vroegoggend af en are optel.”
Boas is dadelik diep geraak deur die meisie se verhaal. Hy het gehoor hoe sy onbaatsugtig vir Naomi versorg. Hy sê sy snyers aan om maar “per ongeluk” ekstra are te laat val vir hierdie meisie. Dan loop hy na haar toe: “Moenie op 'n ander land gaan soek vir are nie, bly hier. Ek het vir die manne gesê om jou nie lastig te val nie. En drink gerus van die water in my kruike wanneer jy dors het.” Later die dag kom nooi Boas haar om saam met hom te kom eet.
Rut kan nie glo wat met haar gebeur nie! Waarom is die man so goed vir haar? Opgewonde kom sy daardie aand by haar skoonmoeder aan en sy vertel wat met haar gebeur het. Boonop het sy sommer 'n groot mandjie koring wat sy die dag opgetel het.
Naomi se gedagtes werk nou oortyd. “Sê nou maar net, sê nou maar net......” En sy begin sommer dadelik plannetjies maak. “As Rut hierdie dierbare man so ver kan kry om met haar te trou....... sal dit nie wonderlik wees nie!” Die hele nag lê Naomi en rondrol.
Toe die oes verby is, roep Naomi haar skoondogter: “Ek moet met jou praat,” sê sy baie ernstig. “Jy kan nie vir altyd hier by my bly nie. Rut, jy het 'n goeie man nodig om jou te versorg, en Boas is daardie man.”
“Maar Ma, hoe kry ek dit reg? Ek is dan 'n eenvoudige Moabiet, en hy is 'n skatryk Joodse grondeienaar......”
Maar Naomi het lankal die ding haarfyn uitgewerk. Sy weet dat Boas nou besig is by die dorsvloer. Daar werk hulle nagte deur. Vanaand ná donker moet Rut na die dorsvloer gaan en by Boas se voete gaan lê. Rut het 'n groot vraagteken op haar gesig, en dan verduidelik Naomi dat Boas so half-en-half verplig kan word om met Rut te trou.
Toe Boas daardie nag wakker word, voel hy iets sag en warm by sy voete. “Wie is daar?” wil hy verskrik weet, en dan verduidelik sy. Kort voor dagbreek stuur hy haar terug huistoe met 'n groot geskenk. As sy by die huis aankom, wag Naomi alreeds lankal vir haar.
Ja, Boas hét toe met Rut getrou, en hulle het 'n seuntjie gehad met die naam Obed, die oupa van die groot koning Dawid en die "voorvader" van Jesus, soos Matteus verduidelik.
Gebed:
O Here, hierdie wonderlike romantiese verhaal bring trane in my oë. Maar dit is ook die verhaal van Kersfees en die geboorte van Jesus, ons Verlosser.