Rut Vind Liefde

28 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Rut Vind Liefde

Rut 2:1-4

Video

Audio

Nadat Rut verwerping van die Joodse vroue moes ervaar, word sy tog uiteindelik aanvaar op Boas se landerye, waar sy genoeg are kon optel om haar en Naomi aan die lewe te hou.

‘n Paar dae later is Rut weer terug na Boas se graanland, en sy spring aan die werk om are op te tel. Boas staan ingedagte en kyk hoe die jong Moabitiese meisie ywerig buk om are op te tel. Hy brand om met haar ‘n gesprek aan te knoop, maar hy is half skrikkerig oor wat sy manne gaan dink. Sy is immers ‘n Moabiet, ‘n heiden, en hy is ‘n gesiene en natuurlik ordentlike Joodse man!

Dan besluit Boas dat die meisie se welstand belangriker is as sy reputasie. Juis op daardie tydstip besluit Rut om ‘n blaaskansie te neem. Dit is vir Boas die teken, en daarmee stap hy oor na Rut, waar sy haar onder ‘n boompie neervly om te rus. Hy wil beslis gaan kennis maak met hierdie brawe meisie. Hy wil uitvind wat haar hierdie radikale besluit laat neem het om alles in haar land op te offer om saam met haar skoonma na Judea te kom.

Boas besef maar al te goed dat hy nie te veel aandag aan haar durf gee nie, want dit is nie betaamlik vir ‘n Joodse man, veral nie ‘n gesiene grondeienaar soos hy, om gesprekke te voer met ‘n heidense meisie nie. Hy beter hierdie eerste ontmoeting maar baie saaklik hou en so min as moontlik praat.

“Ek verstaan jy is Naomi se skoondogter, ek is Boas.”

Rut kan nie glo dat so ‘n vername Jood soos Boas in haar sou belangstel nie. Waarom doen hy al die moeite om met haar te kom gesels? Vinnig spring sy op en sy buig haar kop nederig soos sy geleer is om te doen vir vername mense.

“Luister Rut, die lewe hier rond is hard! Jy het seker al agtergekom dat die Jode jou nie maklik aanvaar nie. Ek wil jou goeie raad gee: moenie na ander se landerye gaan nie, want daar gaan jy moeilikheid kry. Bly net hier in my graanland. Ek ken vir Naomi baie goed, so jy is baie welkom om elke dag hier graan op te tel vir julle.”

Rut is baie dankbaar, want nou is dit nie net die voorman wat toestemming gee nie, maar die eienaar wat persoonlik sy toestemming gee dat sy hier kan gars optel. “Baie dankie!” prewel sy nederig, sonder om haar oë te lig.

Wanneer Boas wegstap, bokspring Rut se hart van pure blydskap. “Waarom is almal so goed vir my? Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ek is maar net ‘n Moabitiese meisie in ‘n vreemde land, en die mense aanvaar my nie alleen nie, maar hulle gee om vir my, hulle is goed vir my!”

Rut se verhaal eindig ook nie hier nie. Uiteindelik is sy en Boas getroud. Maar eers nadat sy een nag stilletjies op die dorsvloer by Boas se voete ingekruip het!

Dit is ‘n pragtige liefdesverhaal, en daar is ‘n seuntjie gebore uit die huwelik, sy naam - Obed. Klein Obed word jare later die pa van Isai, en sy seun, Dawid word die grootste koning wat Israel ooit gehad het. Maar belangriker nog: 1200 jaar later word daar in dieselfde dorp waar klein Obed gebore is, Betlehem, wéér ’n Baba gebore. Hy is uit die nageslag van Dawid - Jesus die Messias! ‘n Moabitiese meisie uit ’n heidense land, wat nie deel van God se volk is nie, en wat eens deur die inwoners verwerp is, word opgeneem in die geslagslyn van Jesus. Rut se verhaal is dus waarlik die Huwelik uit die Hemel!

Vandag is die wonder dat ek en jy ook deel kan wees van Jesus se familie. Alles, alles is genade!

‘n Wonderlike verhaal, dié van Rut. Maar dit is ook my verhaal en dalk joune ook. Nes Rut, het ek so dikwels gewonder waarom die Here dan so goed is vir my? Ek verdien dit beslis nie! As ek terugdink oor my lewe, dan sien ek strepe lelike dinge wat deel was van my lewe. My sondes is etlike boekdele dik opgeskryf. Maar natúúrlik weet ek mos dat dit alles reeds vergewe is. Die Here het my mos verseker in die talle beloftes in Sy Woord dat Hy my vergewe het vir alles wat ek gedoen het.

Maar wat van my huidige lewe? Is my lewe werklik goed genoeg om Hom te behaag? Kyk ek na sommige ander mense wat ‘n lewe het wat so wonderlik naby aan God is, dan kry ek skaam. En my kennis van Hom en Sy Woord is so bitter karig! Sal Hy ooit in my, nietige mens belangstel? Soms wil ek wegkrimp in die aarde in!

Maar dan hoor ek hoe Jesus se hart lyk. Hy gesels intiem en met groot geduld en deernis met ‘n vrou daar by die put, iemand wat gehaat is deur die Jode en geminag deur haar eie mense. Hy hou ‘n feesmaal saam met die skuim van die aarde, en Hy stel intens belang in hierdie gure manne. Hy gee die ewige lewe aan ‘n moordenaar wat besig is om te sterf aan ‘n kruis.

Natúúrlik is ek dan óók vir Hom belangrik. Hy gee ook nét so om vir my. Ek is immers Sy kind, en Hy is baie lief vir my!

Die volledige verhaal van Rut is beskikbaar as ‘n E-boek. Jy kan dit gratis aflaai by ons argief van dagstukkies.

Gebed:

Here, ek kan elke dag maar net sê: “Dankie, dankie, dankie!” U genade vir my is onverstaanbaar. Ek het niks gedoen wat dit ooit kon verdien nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026