Rolmodelle

6 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Rolmodelle

Filippense 3:17-4:1

VIDEO | OUDIO

Watter soort voorbeeld stel jy vir ander? Dalk wil jy hierdie vragie systap en sê: “Moenie maak soos ek maak nie - maak soos ek sê jy moet maak!”

Paulus raak ‘n baie sensitiewe ou sakie aan, veral vir ouers met klein kindertjies om die regte soort voorbeeld uit te leef. Kleintjies is bobaas nabootsers en wat hulle leer as kleuters, bly hulle lewenslank by!

Dit is egter nie net kleintjies wat hulle ouers se voorbeeld navolg nie. Meeste mense - ek en jy inkluis, het ’n "held" na wie ons opkyk, iemand wie se voorbeeld ons graag wil navolg. Jy wil jou lewe probeer modelleer volgens daardie persoon. Jonger kinders maak dikwels ‘n fiktiewe karakter soos Superman of Spiderman hulle rolmodel. Selfs die masker en die klere word aangetrek en dan wórd hierdie kind die karakter en hy probeer optree soos sy held. Toe ek kind was, was die keuse maar redelik klein en Tarzan het toe my held geword. Ek het my ingeleef in sy karakter en klein Tarzan het al jodelende geswaai aan die lang, slap takke van die ou Treurwilgerboom langs die waterstroompie op Oupa se plaas by Waterval Boven.

Wanneer ‘n kind groter word, kry hy ander soort helde. Dit kan die een of ander musiek- of filmster wees en dit is veral die sporthelde wat ‘n groot impak maak op jongmense se lewens. Hier is ménse, regte, egte lewendige mense waarmee hulle kan assosiëer! Jy sal seker nog onthou van daardie groot sportheld - wie was hy nou weer? Maak nie saak nie - hy het menige meisie se bene jellie laat raak. Op die rugbyveld het hy geskitter. Maar tuis het hy 'n liederlike voorbeeld gestel! Dwelms, leuens en buite egtelike verhoudings was deel van sy lewe. Hierdie held se lewe het gesê: “Daardie goed is ook maar reg!” Uiteindelik, kort voor sy dood het hy egter weer tot sy sinne gekom, maar toe was die skade reeds gedoen!

En wat van daardie skitterende krieketheld wat die wêreld so geskok het met oneerlikheid en omkoopgeld? Is die boodskap wat jong kinders dalk daaruit kon kry dat dit maar reg is om oneerlik te wees, want die groot krieketheld doen dit dan? Later het hy gehuil oor sy sonde, maar toe was die skade óók reeds gedoen!

Paulus skryf in Filippense 3:18 dat daar, tot sy groot verdriet, baie mense is wat leef as vyande van die kruis. Vandag is ons hulle ook nie gespaar nie en hier praat ek spesifiek oor die groot karakters wat mense se verbeelding aangryp. Ons land sit byvoorbeeld met ‘n groot aantal briljante akteurs, mense wat op die oog af ‘n pragtige lewe lei en die mooiste dinge doen. En dan, op ‘n dag kom jy tot die skokkende ontdekking dat hulle die een of ander obskure Oosterse godsdiens aanhang en boonop soms ook nog ‘n klomp grillerige geraamtes in die kas het. My borreltjie is al verskeie kere so gebars.

Maar waar plaas hierdie dinge my persoonlik? In Paulus se tyd was die Nuwe Testament nog nie geskryf nie. Hy moes sy eie lewe as voorbeeld gebruik vir ander gelowiges. Vir hom het dit natuurlik beteken om absoluut bo enige verdenking te leef want almal het na hom opgesien. Vandag het ons Bybelse riglyne waarvolgens ons ons lewens kan rig, riglyne wat onder andere deur die nimlike Paulus daargestel is. Dit beteken egter nie dat ons nou nie meer as voorbeeld vir ander hoef te leef nie. As jy ‘n gelowige is en die mense met wie jy elke dag te doen kry weet dit, dan lê daar alreeds ‘n baie groot verantwoordelikheid op jou skouers. Hoeveel keer het ek nie al gehoor dat mense sê: “Hy doen sús of só en hy noem homself ‘n Christen!” Ongelowiges hou jou as gelowige met ‘n vergrootglas dop en wag vir die oomblik dat jy skeef trap!

‘n Gelowige moet egter nie net die negatiewe raaksien en die hele tyd in sy pasoppens wees nie. Die positiewe uitleef van jou Christenskap is van onskatbare waarde. Vriendelikheid, ware omgee, liefde en ‘n opregte, innemende, stralende glimlag verrig wonderwerke! Onthou: ‘n gelowige loop nie met ‘n lang gesig rond nie want dit weerspieël nie die blydskap en liefde wat Jesus in jou lewe gebring het nie. Een enkele persoon wat stralende geluk op sy gesig dra, kan ‘n hele saal vol nors mense se gemoedstoestand verander. Probeer dit gerus en kyk net watter aansteeklike uitwerking dit op almal om jou het. Begin by jouself en herinner jouself aan die liefde van Jesus wat só groot is dat Hy jou die ewige lewe gegee het. Vertel vir jouself hoe opgewonde en bly jy is en wys dit op jou gesig. Die resultate is verstommend!

Dit is egter die gelowiges wat in ‘n leiersposisie is wat verál hulleself moet instel op ‘n voorbeeldige lewe want vir hulle is dit nie alleen die wêreld daar buite wat hulle dophou nie, maar veral hulle mede-gelowiges. Leraars en ouderlinge en almal wat leiding neem, moet wéét dat hulle dien as inspirasie vir talle ander gelowiges. Nie alleen durf hulle nie ‘n voet verkeerd sit nie, maar die liefde van Jesus en hulle blydskap en vreugde moet baie sigbaar wees. Dit is ‘n reuse verantwoordelikheid!

Gebed:

Here, ek wil vandag asseblief ‘n inspirasie wees vir elkeen met wie ek in aanraking kom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026