Efesiërs 4:25-5:5
Sannie was smoorverlief op Sarel, hy was die held van haar lewe, haar ridder op die wit perd. Sarel het haar gevra om met hom te trou, en hulle het verloof geraak. Maar toe gebeur ‘n verskriklike ongeluk en pas voor hulle troue is hy dood. Sannie was verpletterd! Sy wou nooit weer daardie trauma deurgaan nie, en dus het sy maar ‘n oujongnooi geword en op die rak gaan sit.
Vir dertig jaar het sy gedoen wat sy wou en dikwels in allerhande onbetaamlike dinge betrokke geraak. Sy het boonop ‘n moeilike mens geword wat haar sin gekry het in die lewe.
Op 50 ontmoet sy egter vir Karel, ‘n aantreklike wewenaar, en skielik blom die liefde weer en die tweetjies het toe ook getrou. Geleidelik begin Sannie besef, dat sy vir Karel baie ongelukkig maak met haar selfsugtige gedrag. Sy sou haar lewe drasties moes verander om sy liefde te behou. Dit was beslis nie maklik om haar gedrag wat deur baie jare ingewortel was, om te keer nie.
Gister het ons gesien hoe sondige begeertes lewens kan verwoes, nie net jou eie nie, maar ook ander s’n. Paulus gee nou praktiese riglyne vir hoe jy daardie begeertes moet hanteer. As jy die dag in ‘n verhouding is met Jesus, beteken dit ook dat daar sekere verantwoordelikhede op jou pad kom om hierdie verhouding te maak werk. Dit beteken dat jy sal moet breek met daardie sondes in jou lewe en dat jy daarna streef om volkome volgens God se wil te leef en heilig te wees. Paulus se riglyne is maar enkele voorbeelde van hoe ‘n gelowige se lewe behoort te verander.
Sy eerste riglyn is om die waarheid onder mekaar te praat. Leuens is giftig en dit sal enige verhouding vernietig. Leuens in ‘n huwelik byvoorbeeld, is die maklikste manier om enige huwelik in die skeihof te laat beland. Binne ‘n gemeente vernietig leuens die eenheid van die gemeente en dit bring konflik. Wedersydse vertroue word ondermyn en dan is rusies en kwaaivriendskap die gemeente se voorland. Die waarheid mag dalk op die kort termyn seermaak, maar op die lang termyn bind dit die gemeente saam as ‘n hegte eenheid.
Paulus se tweede riglyn is om nie te sondig as jy kwaad word nie. Nee, dit beteken nie dat jy nooit kwaad mag word nie, maar jou optrede as jy kwaad word bepaal of jy sonde doen of nie. Selfs Jesus het kwaad geword toe Hy sien hoe die tempel ontheilig word. Goeie raad is om altyd eers tot tien te tel as iets jou bitterlik ontstel, sodat jy genoeg tyd het om nugter te dink oor jou reaksie. ‘n Voorbeeld: Iemand ry teen jou blinknuwe motor vas, en jy is woedend. “Wat dink jy doen jy!” skree jy vir hom terwyl jy uit jou motor storm. Jou woede ontlok sy woede, en julle skree op mekaar.
Dink eers nugter oor die situasie voordat jy reageer. Ja, hy wás dalk verkeerd en hy het moontlik nie gekyk waar hy ry nie. Maar dink jy dat enige regdenkende mens dit opsetlik sou gedoen het? Waarom dan op hom skree? Om kalm uit te klim en die saak rustig met hom te bespreek, ontlont die situasie en bring tien teen een ‘n oplossing. ‘n Padwoedeuitbarsting het al menige mense se dood gekos. Dit vernietig jou eie gesondheid, verbreek verhoudinge en gee die duiwel ‘n vatkans op jou lewe! Elke gelowige het die wonderlike voordeel dat jy die Heilige Gees het om jou te help om jou kwaad-word reg te kanaliseer. Vertrou Hom daarin!
“Diewe moet ophou steel”, sê Paulus, “en werk om ook vir iemand anders iets te kan gee.” As jy ’n gelowige is, moet jy ophou om te vat wat nie aan jou behoort nie. Ongemagtigde privaat telefoonoproepe op jou werk se rekening, belasting wat skelm van die staat weerhou word, werktyd waar jy ginnegaap en sodoende jou baas se tyd steel ……. daar is ’n magdom voorbeelde.
‘n Groot sondebok in baie gelowiges se lewens is vuil taal. Daardie vieslikheid mag nie deel van jou woordeskat vorm nie. Die spreekwoord lui: “Wat die hart van vol is loop die mond van oor.” As jou mond oorloop van vuil taal, dui dit op ‘n vieslike binneste. Ek wonder soms oor sommige van ons land se top komediante, wat nie ’n vertoning kan gee sonder ’n stortvloed van vulgêre taal nie. Ek kan dit net eenvoudig nie hanteer nie. As Christus die middelpunt van jou lewe is, sal vuil taal nie eers ‘n opsie wees nie.
“Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar.” God het ál ons sondes vergewe. Natúúrlik beteken dit dat ek ook ander sal vergewe om só God se onvoorwaardelike kwytskelding te weerkaats. Ons bid immers dat God ons sondes sal vergewe soos ons ook diegene vergewe wat teenoor ons gesondig het!
Hartlikheid en goedgesindheid moet ‘n integrale deel wees van enige gelowige, want dit is ‘n kenteken van liefde.
Paulus vra van ons iets wat feitlik onmoontik lyk: “Leef in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het.” Natuurlik kan ons nie eers naby Jesus se liefde kom nie, maar ons moet streef om ons liefde prakties uit te leef teenoor almal, selfs teenoor ons vyande!
Die laaste riglyn wat Paulus gee, is dat vuil praatjies, onsedelikheid en gierigheid nooit deel van ‘n gelowige se lewe mag wees nie. Ons raak só maklik aan vuil praatjies gewoond, sodat dit jou later gladnie meer pla nie. Langs die braaivleisvuur neem jy sélf lustig daaraan deel! Dit dra beslis nie die getuienis van jou verlossing uit nie. Nog minder onsedelikheid of gierigheid, want hierdie is dinge van die wêreld, persoonlik aangestook deur die duiwel! ‘n Grap hoef nie vuil te wees om skreeusnaaks te wees nie. Van die beste grappe wat ek óóit in my lewe gehoor het, was silwerskoon. Vul jou lewe met die mooi dinge sodat daar nie plek kan wees vir die lelike nie!
Gebed:
Here, help my asseblief om ontslae te raak van al die lelike dinge in my lewe. Vul my lewe met U wonderbare liefde, en help my om dit prakties uit te leef.