Respek

10 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Respek

Lukas 9:44-50

VIDEO OUDIO

Dominee betree die Sondagoggend die kansel. Sommer so uit die bloute kondig hy aan: “Liewe broers en susters, binnekort gaan ek nie meer met julle wees nie”. Daar styg ‘n gegons en gebrom op oor die gemeente. Nou wonder almal wat hierdie dominee nou eintlik bedoel het? Is hy dan terminaal siek? Dalk ‘n dodelike kanker? Of gaan hy net weg? Almal is te bang om hom daaroor uit te vra, en hy brei self ook nie verder oor die onderwerp uit nie.

Ek dink Jesus se dissipels het dalk ook net so gevoel! Jesus het nie vir hulle uitgespel presies wat sou gebeur nie, maar met hierdie aankondiging dat Hy oorgelewer sou word, was die manne redelik omgekrap! Hulle was egter te bang om Hom daaroor uit te vra. Daar was soveel teenstrydighede! Kyk dan nou maar hoe gewild hulle Meester was onder die mense! Almal het om Hom saamgedrom en niemand kon genoeg kry van Sy prediking nie. Waarom sou Hy dan nou verwerp word? Waarom sou dieselfde mense wat Hom so opgehemel het, Hom wou veroordeel? Kyk net hoeveel wonderwerke het Hy vir die mense gedoen! Dit was nou al die hóéveelste keer dat Jesus sulke opmerkings gemaak het! Hulle het dit nie verstaan nie! Een ding was egter stadig besig om tot hulle deur te dring, en dit is dat hulle Meester sou sterf, maar dit was te verskriklik om daaraan te dink, dus het hulle liewers nie eers daaroor gepraat nie!

Ten spyte van hierdie sombere gedagtes wat so bly spook het by hulle, en ten spyte van die gewigtigheid van die oomblik, het die manne onder mekaar begin stry oor wie van hulle nou eintlik die belangrikste was. Judas het die beursie gedra, hy was die minister van finansies, en dalk was hy daarom so ‘n trappie hoër as die res. Johannes het egter gereken dat hy moontlik so ‘n aks hoër was, want hy en Jesus het ‘n baie besonderse verhouding gehad. Petrus se leierseienskappe het al die ander jaloers gemaak, maar dan het hy dikwels so groot drooggemaak dat almal vir hom kwaad was. En dan was daar die insident toe Jakobus en Johannes se ma vir Jesus kom vra het dat haar twee seuns ereposisies in die Koninkryk moes kry. Verbeel jou! Daar was nou nie juis hardop gestry nie, maar die manne het so onder mekaar ge-tjuu-tjuu en met donker gedagtes rondgeloop!

Baie duidelik het die manne nie die vaagste benul gehad waaroor dit alles gegaan het nie. Het hulle dan nóóit die boodskap gekry nie? Het hulle dan gladnie gesien wat hulle Meester gedoen het nie? Kon hulle net eenvoudig nie besef dat dit nie gegaan het oor status nie maar dat alles rondom diens gedraai het? Hulle Meester het so pas vertel dat Hy vervolg sou word, en al waaroor hulle kon dink was hulle eie aansien!

Toe buk Jesus af en trek ‘n kindjie nader om by hulle ‘n baie belangrike les in die lewe tuis te bring. Ons moet onthou dat kinders in daardie tyd nie die voorregte gehad het wat hulle vandag het nie. ‘n Kind was net ‘n stukkie eiendom waarmee die ouers basies kon doen wat hulle wou. Hy kon op géén manier meeding met grootmense nie. Hy het absoluut géén status in die lewe gehad nie. Anders as vandag, het kinders destyds hulle plek in die samelewing geken, en was nederigheid een van die uitstaande eienskappe van enige kind. Op ‘n subtiele en liefdevolle manier verduidelik Jesus vir Sy dissipels hoe hulle optrede teenoor mekaar behoort te wees. Die kind is ‘n simbool van iemand wat die minste is, en dit met sy hele lewe wys. Nederigheid was wat Hy graag wou hê die dissipels moes uitleef!

Nederigheid is vandag ‘n baie rare eienskap. Selfs onder gelowiges is daar ‘n hiërargie wat gehandhaaf moet word, en elkeen baklei om so hoog moontlik op hierdie piramiede te wees. Dikwels is dit lagwekkend hoe die grootkokkedore dikwels tekere gaan om al die aandag te kry! Selfs in die heel hoogste kringe van die politiek raas en blaas dit om aandag. Van nederigheid is dáár géén sprake nie! Maar in ons eie lewens gaan dit dikwels ook maar so! Selfs in die kerk is daar daagliks ‘n gestry oor wie nou eintlik in die hoogste gestoelte sit.

Deur hierdie kindertjies verduidelik Jesus ook aan die dissipels hoedanig Sy eie verhouding tot die Vader is, en dat deur Jesus te eer, word terselfdertyd eer aan die Vader betoon. Hoe moet ons Jesus eer? Eerlik en opreg, soos die kindjie van ouds, en met al die nederigheid en respek wat daardie kindjie vir sy meerderes gehad het. Gelowiges is so dikwels totaal disrespekvol teenoor Jesus, en maak of Hy hulle “Maatjie” is. Ons moet onthou wat ons status in die Koninkryk is. Hy is so baie, baie ver bo ons verhewe en ons moet aan Hom daardie nodige respek en eer gee. ‘n Kind sou dit byvoorbeeld nooit gewaag het om sy meerderes te beveel om iets te doen nie. So durf ons nooit ooit vir God “beveel” om sekere dinge te doen, soos ons wél so dikwels doen nie, maar in nederige afhanklikheid na Hom gaan.

Gebed:

Here, vergewe my waar ek so dikwels disrespekvol teenoor U is en ook teenoor my medemens.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026
Sent Out
7 October, 2026