Ester 7-10
Wanneer Ester die bom laat bars, dat iemand beplan om haar en haar hele volk uit te roei, is Koning Ahasveros geskok: “Wie sou so ‘n verskriklike ding wou doen?” hyg hy. En dan wys Ester die vinger na Haman - hy is die een!
Ahasveros is so ontsteld dat hy uithardloop na die paleistuin om eers tot verhaal te kom. Wanneer hy afgekoel het kom hy weer die vertrek binne, net betyds om te sien hoe Haman langs Ester op die rusbank neerval. Eintlik was dit onskuldig, want al wat Haman wou doen, was om vir Ester om genade te smeek. Vir Ahasveros lyk dit egter na iets héél anders.
“Wil jy dan nou boonop ook nog die koningin kom aanrand? En dit hier in my eie paleis! Wagte! Wagte!”
Binne sekondes sak ‘n garnisoen gewapende wagte op Haman toe en sleep hom geblinddoek uit die vertrek uit!
Die uiteinde van die saak is dat Haman tereggestel is vir sy verfoeilike daad. Hy is gehang aan sy eie 23m hoë galg wat hy vir Mordegai laat bou het!
Nadat alles verby was, beveel Ahasveros een van sy beamptes: “Gaan haal Koningin Ester vir my, ek het iets om met haar te bespreek. En sommer vir ou Mordegai ook.”
“Ester, my lieflike bruid,” koer Ahasveros wanneer hulle opdaag, “kom sit hier langs my. Ek het vir jou ‘n geskenkie. Al Haman se rykdom behoort van nou af aan jou.”
Dan wink Ahasveros vir Mordegai nader: “Hier, vat hierdie, my vriend - dit is my seëlring. Dit gee jou die mag om namens Koningin Ester al die eiendom te bestuur wat aan Haman behoort het.”
Daardie nag is Mordegai te opgewonde om te slaap. Maar skielik sit hy regop: “My volk!” hyg hy, “My volk is steeds in gevaar om uitgeroei te word, want die koning het nie die bevel teruggetrek nie!”
Mordegai laat roep vir Ester, en hy verduidelik vir haar van die omvang van hierdie dekreet. “Daar is net ‘n paar maande tyd, en ons sal moet vinnig speel as ons hierdie opdrag wil stop. Maar héél eerste moet jy na die koning gaan en vir hom verduidelik wat ons dilemma is, en vra dat hy die dekreet stop!”
Die volgende oggend vroeg gaan Ester na Koning Ahasveros. Sy kniel voor hom neer. Nou stroom die trane oor haar wange wanneer sy hom om genade smeek vir haar volk. “Asseblief my dierbare Koning, maak tog Haman se bose plan ongedaan. Skryf asseblief briewe dat die onsinnige slagting van my volk stopgesit word. Hoe sou ek kon toekyk dat my volk deur so ‘n ramp getref word?”
Koning Ahasveros het bitter jammer gevoel vir Ester. Maar daar was ‘n probleempie - wat geskryf is, is geskryf! Die wet van die Meders en Perse het bepaal dat wanneer die koning ‘n dekreet uitvaardig, dan is dit onherroepbaar, al is dit ook hóé onsinnig, en nie eers die magtige Koning Ahasveros sélf kon dit verander nie.
Dan dink hy aan ‘n oplossing: “Ester, ek het mos vir Mordegai my seëlring gegee. Ek gee jou vandag toestemming dat julle ‘n brief kan skryf aan die Jode in my naam. Skryf net wat julle wil, en verseël dit met my ring, en dit sal gesien word as ‘n onveranderlike proklamasie van die koning wat nie herroep kan word nie.”
Ester besef dadelik dat dit ‘n reuse taak is. Die Persiese Ryk bestaan uit honderd sewe en twintig provinsies, uitgestrek oor ‘n gebied van byna seweduisend kilometer van die een punt na die ander.
Die koning se dekreet het gelui dat enige persoon enige Jood kon doodmaak as hy hom teëkom. Mordegai se brief bemagtig enige Jood om homself te kan verdedig met alles tot sy beskikking, en enigeen wat hom leed wil aandoen kan hy doodmaak, en dan kan hy boonop nog op daardie persoon se besittings beslag lê. Hierdie brief is vertaal in elke denkbare taal, en dan word dit versprei na elke uithoek van die koninkryk. Die koning stel sy volbloed resiesperde tot beskikking van die boodskappers sodat die boodskap betyds elke bestemming kan bereik, tot in Griekeland, Etiopië en die grense van Indië.
Mordegai se goeie werk het nie ongesiens verbygegaan nie, en weldra kry hy dan ook ‘n aanstelling as tweede in bevel in die koninkryk. Hy kry ‘n koninklike kleed van blou en wit linne met ‘n groot goue kroon op, en ‘n pers mantel om te wys dat hy ‘n baie waardige man is.
Daar is vrees in die oë van almal wanneer hulle ‘n Jood sien - so asof die Jode totaal onoorwinlik is. Dis egter nie omdat hulle Jode is nie, maar dit gaan oor die God wat hulle aanbid, baie groter as enige van die heidense afgode, en dit boesem vrees by die mense in.
En dan begin daar ‘n onverklaarbare ding gebeur: een-vir-een begin die heidene hulle te bekeer tot die Jodendom. “As ons wil bly lewe, dan moet ons Jode word!”
Ons wil terugdeins wanneer ons die laaste hoofstukke in die boek Ester lees, want hierin sien ons hoedat die Jode aangesê word om hulle vyande almal voor die voet dood te maak. Ons moet dit egter in konteks lees om die totale prentjie te kry.
Dit gaan nie oor die oorwinning wat hulle behaal het nie, maar oor God wat alles verander het.
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike verhaal van Ester, en alles wat ek daaruit kon leer. Dankie dat U daardie ou, ou verhaal vandag weer vars en nuut maak sodat ons vandag steeds geestelike kos daaruit kan kry.