Redding is in Sig

8 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Redding is in Sig

Ester  8:3-17

Haman is dood, gehang aan sy eie galg. Mordegai se lewe is gered. Maar die einde van die nagmerrie is nog nie eers naastenby verby nie. Mordegai onthou met ‘n skok dat die proklamasie van die koning, dat alle Jode op die dertiende van die twaalfde maand uitgeroei moet word. Enige persoon wat op daardie dag ‘n Jood raakloop, kan hom summier, net daar en dan doodmaak. Dit was ‘n reuse taak om die boodskap tot aan die verste uithoeke van die aarde deur te gee. Dit is oor afstande van baie duisende kilometer te voet of te perd afgelewer in ‘n magdom verskillende tale.

Mordegai laat roep vir Ester, hy is in groot nood. “Daar is net ‘n paar maande tyd, en ons sal moet vinnig speel as ons hierdie opdrag wil stop. Maar héél eerste moet jy na die koning gaan en vir hom verduidelik wat ons dilemma is, en vra dat hy die dekreet stop.”

Ester sien al hoe word miljoene Jode regoor die wêreld uitgeroei soos diere, ook vrouens en onskuldige kindertjies. Sy huil haarself aan die slaap. Die volgende oggend vroeg gaan sy weer na Koning Ahasveros. Hierdie slag is sy nie eers bang vir die gevolge nie, en sy loop reguit na hom toe en gaan kniel voor hom neer. Nou stroom die trane oor haar wange wanneer sy hom om genade smeek vir haar volk. “Asseblief my dierbare Koning, maak tog Haman se bose plan ongedaan. Skryf asseblief briewe dat die onsinnige slagting van my volk stopgesit word. Hoe sou ek kon toekyk dat my volk deur so ‘n ramp getref word? Hoe sou ek kon toekyk dat my familie uitgeroei word?”

Koning Ahasveros voel bitter jammer vir Ester. Maar daar is ‘n probleempie - wat geskryf is, is geskryf! Die wet van die Meders en Perse bepaal dat wanneer die koning ‘n dekreet uitvaardig, dan is dit onherroepbaar, al is dit ook hóé onsinnig, en nie eers die magtige Koning Ahasveros kan dit verander nie. Ahasveros skud sy kop meewarig.

Skielik, vir die eerste keer in sy lewe, dink hy iets sélf uit sonder om eers sy raadgewers in te roep. “Ester, ek het mos vir Mordegai my seëlring gegee. Ek gee jou vandag toestemming dat julle ‘n brief kan skryf aan die Jode in my naam. Skryf net wat julle wil, en verseël dit met my ring, en dit sal gesien word as ‘n onveranderlike proklamasie van die koning, iets wat nie herroep kan word nie. Julle kan maar my persoonlike skrywers gebruik om julle te help daarmee.”

Ester is in die wolke wanneer sy vir Mordegai die goeie nuus vertel. En dan begin die reuse taak, ‘n taak wat menslik byna onmoontlik lyk. Die Persiese Ryk bestaan uit honderd sewe en twintig provinsies wat ‘n babelse verwarring van tale praat, uitgestrek oor ‘n gebied van byna seweduisend kilometer van die een punt na die ander. Hoe gaan hulle betyds hulle boodskap na al hierdie mense toe kry?

Die koning se dekreet het gelui dat enige persoon enige Jood kon doodmaak as hy hom teëkom op daardie swart dag. Mordegai se brief bemagtig enige Jood om homself op daardie dag te kan verdedig met alles tot sy beskikking, en enigeen wat hom leed wil aandoen kan hy doodmaak, en dan kan hy boonop nog op daardie persoon se besittings beslag lê. Hierdie brief word vertaal in elke denkbare taal, en dan word dit versprei na elke uithoek van die koninkryk. Die koning stel sy volbloed resiesperde tot beskikking van die boodskappers sodat die boodskap betyds elke bestemming kan bereik, tot in Griekeland, Etiopië en die grense van Indië.

Die menslik-onmoontlike taak kry gestalte, en dan staan Mordegai uit as ‘n uitmuntende organiseerder wat ‘n reuse taak met vlieënde vaandels afhandel.

Mordegai se goeie werk gaan nie ongesiens verby nie, en weldra kry hy dan ook ‘n aanstelling in ‘n baie hoë pos in diens van die koning. Hy kry ‘n koninklike kleed van blou en wit linne met ‘n groot goue kroon op, en ‘n pers mantel om te wys dat hy ‘n baie waardige man is.

In die stad Susan word daar groot fees gevier wanneer die inwoners die goeie nuus hoor. Daar is weer ‘n lig voor in die donker tonnel vir die Jode.

Soms lyk dinge vir ons pikswart en totaal verlore. Dit lyk onmoontlik dat dit ooit weer sal regkom. Dit voel asof grendeltyd vir ewig gaan aanhou en die dodelike virus geen keer het nie, maar net voortwoed! Maar dan bring die Here vir ons uitkoms, dikwels uit ‘n totaal onverwagse oord. Dit beteken nie dat ons nou maar kan terugsit en kyk hoedat God die wonder verrig nie. God doen gewoonlik wonderwerke deur van mense gebruik te maak, mense wat dikwels nodig het om skouer aan die wiel te sit en baie hard te werk.

Inderdaad moet ons bereid wees om die hande uit die moue te steek wanneer die Here die dag van ons vra om ‘n reuse taak te verrig. Die troos is dat die Heilige Gees altyd daar is om ons die wysheid en krag te gee, as ons maar net bereid is om te doen wat Hy vra.

Gebed:

Here, ek loof en prys U, want die onmoontlike kan U vermag, en wanneer alles vir ons totaal hopeloos lyk, kan U steeds uitkoms gee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026