Amos 4:6-13
Toe argeoloë destyds opgrawings in die stad Pompeii doen, kom hulle op ‘n grusame ontdekking af, talle mense wat versteen onder die lae as lê! Waarom het hierdie mense nie betyds gevlug toe Vesuvius uitgebars het nie? Op ‘n TV program was daar eenmaal beeldmateriaal van ‘n vulkaan wat uitgebars het, en mense wat hardnekkig geweier het om hulle huise te verlaat selfs met die lawastroom wat ongemaklik naby hulle huise gekom het. Dikwels leef mense in die skadu van ‘n vulkaan wat dreig om uit te bars asof daar niks gebeur nie. Selfs wanneer die berg begin rammel en rook uitspoeg, is dit asof hulle dit gladnie hoor of sien of voel nie. En selfs wanneer die kokende massa lawa aangerol kom, hoop hulle steeds dat dit nie hulle huise sal verswelg nie. Dit sal mos stop voordat hulle dorp bereik word.
‘n Bietjie nader aan die huis is ‘n ander voorbeeld: hoe dikwels gebeur dit nie in die Kruger Wildtuin dat daar leeus naby die pad lê, en dat mense uit hul motors klim om die groot katte beter te kan sien. Alle waarskuwings word totaal geïgnoreer. Die gevaartekens is daar, maar dit is asof hulle dink dat daardie gevaarlike roofdiere hulle nooit as prooi sal aansien nie - asof hulle in ‘n dieretuin is waar die leeus anderkant die draad is.
‘n Reuse vulkaan was besig om druk op te bou in Israel. Hulle het al die rammelinge gehoor, die rook gesien, maar steeds steur hulle hul nie daaraan nie. En dikwels is dit presies dieselfde met ons as Christengelowiges.
Amos beskryf ‘n reeks besonderse natuurverskynsels - ontydige droogtes wat totale oeste vernietig, verwoestende siektes wat landerye tref, sprinkane wat alles voor hulle verteer, en selfs die trots van Israel, hulle olyfbome kaalvreet. Hongersnood en pes tref die land.
As ‘n ongelowige deur sulke rampe getref word, sien hulle die noodlot daarin. Hulle was maar net ongelukkig om op die verkeerde tyd daar te wees. Die gelowige sien egter die hand van die Here in sulke natuurverskynsels. Hulle hoor die stem van die Here in die natuur. Wanneer ek vroegoggend deur een van ons pragtige kuswoude stap, soos die een by Umtinzini, dan is dit asof my hele menswees gevul word met die heerlikheid van die Here. Die hemelse voëlgesang, die geur van die plante en mos, die grootsheid van die woudbome. Ek hoor en ruik en ervaar die Here daarin. Die ongelowige ervaar dit totaal anders.
Vir Israel was die opeenvolgende natuurrampe ‘n vingerwysing van die Here. Hulle het afgedwaal van die pad wat Hy wou hê dat hulle moes loop. Toe hongersnood hulle tref, moes hulle alreeds besef het dat hulle tot bekering moes kom. Hulle het egter nie! Toe raak hulle water op. Israel is nou nie juis ‘n waterryke land nie, en dit het gebeur dat mense van stad na stad moes voortstrompel om hulle dors te probeer les, dikwels sonder sukses. Maar dit was steeds nie die einde van hulle smarte nie, want toe kom die sprinkane en peste, en verorber elke greintjie van wat nog eetbaar was, en die skroeiende oostewind verskrompel die bietjie koring wat nog die peste oorleef het.
Steeds hoor die volk nie die stem van die Here nie!
Amos laat die geskiedenis met die volk praat. Hy vertel van die plae van Egipte, en die hand van die Here hierin om Sy volk te red uit die kloue van Farao. Hy vertel ook van Sodom en Gomorra om die Here se oordeel oor sonde te illustreer.
Vandag is ons as gelowiges die volk van God. Ongelukkig is daar groot gedeeltes van hierdie volk wat afgedwaal het, lou geword het. Die Here praat vandag ook met ons, nes Israel van ouds. Die verwoestende aardbewing in Haiti en die verskriklike oorstromings en aardbewings op ander plekke in die wêreld, moes ons alreeds tot ons sinne geruk het. Dit het nader aan die huis gekom met die verskriklike droogtes wat dele van die land getref het. En toe Kovid 19 wat nie alleen ‘n verskrikking gesaai het nie, maar boonop ons ekonomie lamgelê het. Ons as gelowiges kan nie anders nie as om God se waarskuwingsstem hierin te hoor: “Bekeer julle!” Duisende gelowiges het alreeds daardie stem herken, en hulle pleit saam met die Here: “Suid-Afrika, kom tot bekering!”
Sal ons nie maar leer uit die ervarings wat Israel gehad het nie? Die stem van God weerklink vandag vir ons helder en duidelik in die natuur. Daar is selfs die pikswart wolk van aardse verwarming wat dreigend oor ons hang. Kom ons bely ons sondes en breek daarmee. Kom ons draai terug en begin weer om God te dien met alles in ons. Dan sal ons saam met Amos die heerlike loflied kan sing wat hy uitjubel in vers 13: “Hy wat die berge vorm en die wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat die dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes gaan, Sy Naam is Here, die almagtige God!”
Gebed:
Here, ek kom kniel voor U en ek bely dat ek U nie dien soos U van my verwag nie. Vergewe asseblief my talle sondes, en lei my op die regte pad.