Quo Vadis?

20 May, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Quo Vadis?

2 Petrus 1:1,2

VIDEO | OUDIO

Dit is die jaar 68nC. en Rome is in rep en roer. Bloeddorstige Romeine verlekker hulleself in die Kolosseum waar daar daagliks dosyne Christene wreedaardig aan hulle einde kom - sommige lewendig opgevreet deur leeus. Ander word weer deur Gladiators vermoor ten aanskoue van ‘n juigende skare wat hulle aanpor om die arme mense nóg 'n wreder dood te laat sterf.

Die Christene in die stad Rome moet ‘n ondergrondse lewe lei - niemand mag hulle herken as Christene nie. Hoe bitter moeilik is dit nie om jou dikwels nuutgevonde Christenskap weg te steek en met niemand daaroor te durf praat nie, want dalk kom dit by die verkeerde ore uit en jy word dan net miskien ‘n lewende fakkel - met teer gesmeer, aan ‘n paal vasgebind en aan die brand gesteek om die strate te verlig vir ‘n spottende skare mense. Om uit te vind of die persoon met wie jy staan en gesels ook ‘n Christen is, het jy maar so ongemerk met jou kierie in die sand ‘n vissie geteken. Slegs Christene het hierdie teken herken - Die Griekse woord vir “vis” is IXThUS, en dit spel die eerste letters vir “Jesus Christus, Seun van God, Verlosser” in Grieks.

Natuurlik is Petrus ook êrens in die stad. Hy kruip weg vir die Romeine, maar dikwels waag hy sy lewe om die Evangelie te verkondig - onverskrokke soos ons hom leer ken het. Maar nou begin dit hééltemal te gevaarlik raak. Sy vriende het hom al by verskeie geleenthede gewaarsku om liewer te vlug, want Nero soek sy bloed. Nou is dit dalk ‘n baie goeie tyd om die hasepad te kies, want die wrede keiser is êrens op reis in Griekeland.

Petrus pak sy karige besittings en begin stap. Waarheen? Net weg uit hierdie verskriklike stad uit. Voor hom pryk die stadspoorte ..... en vryheid! Petrus verstar in sy spore: in die stadspoort sien hy vir Jesus, sy Meester van baie jare gelede. Dit is ’n visioen en baie duidelik sien hy hoe Jesus hom tegemoet kom, die stad in. “Quo vadis, Domine?” vra Petrus vir Jesus (Waar gaan U heen, Here?)

“Ek kom na Rome om hier gekruisig te word.” antwoord Jesus. Dan weet Petrus presies wat hy moet doen - hy draai om en gaan terug in die stad in, gereed om sy dood tegemoet te gaan. Enkele dae later word hy gearresteer. Hy word gevonnis om gekruisig te word, nes sy Meester daar op Golgota.

Maar Petrus het een laaste versoek: “Ek wil asseblief onderstebo gekruisig word, want ek is dit nie waardig om op dieselfde wyse as Jesus gekruisig te word nie.”

Petrus se laaste versoek word toegestaan, en so word hierdie man van God, vriend van Jesus, Rots waarop die kerk gebou is onderstebo aan 'n kruishout vasgespyker om daar in onmenslike pyn die dood tegemoet te gaan.

So lui die Quo vadis-legende. Of dit waar is, sal ons nie weet nie, maar dit is ‘n oorlewering wat vir die waarheid vertel word en beslis ‘n baie mooi verhaal.

Petrus het sy tweede brief geskryf slegs ‘n kort rukkie voor sy wrede dood. As ‘n mens daaraan dink dat hy in doodsangs geleef het terwyl hy hierdie brief skryf, dan is dit ‘n merkwaardige brief, propvol lewenslus, hoop en liefde. Dit maak nie sin nie! As dit ek was, het jy beslis my selfbejammering elke dag in my briewe gelees.

Petrus begin hierdie brief deur homself bekend te stel as Simon Petrus. Waarom dan die twee name? As ons gaan delf in sy geskiedenis, sien ons twee mense: aan die een kant die oorhaastige, impulsiewe dissipel van Jesus en aan die ander kant die Petrus-rots wat bely dat Jesus die Seun van God is. Ons onthou die Simon wat in doodsangs vir die diensmeisie gelieg het - dat hy nooit vir Jesus geken het nie. Maar ons onthou ook vir Petrus wat later onverskrokke die Evangelie verkondig het, en selfs die Joodse Raad aangevat het hieroor. In hierdie brief verduidelik Petrus sélf vir jou hoe om van ‘n “Simon” na ‘n “Petrus” te verander - dit kán gebeur!

Maar daar is ‘n kloof tussen my en Petrus - hy het dan vir Jesus persoonlik geken! Hy was ‘n apostel en hy het selfs op water geloop! Waar kom ek in? Ek en jy het presies dieselfde kosbare geloof as Petrus. Geloof was die groot krag in Petrus se lewe, en deur die werk van die Heilige Gees sien ons hoedat Petrus groei en uitstyg in sy geloof. Ek en jy kan op presies dieselde manier groei, want dieselde Heilige Gees gee ons die krag, en natuurlik het ons ook vir Jesus elke dag by ons.

En dan is daar natuurlik hierdie wonderlike seënwens wat Petrus uitspreek: “Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!” Wat ‘n wonderlike wens vir enige mens se lewe! Maar die wonderlike is dat dit nie maar net ‘n wens - ‘n versugting is nie. Dit is ‘n werklikheid! Die feit is dat hoe meer jy jou inspan deur Bybelstudie, oordenking en toewyding om God en sy wil te leer ken en uit te leef, hoe meer gaan jou oë oop vir die wonderlike genade van God - hoedat Hy gedurigdeur besig is in jou lewe. As jy dít begin ervaar, dan kry jy ook daardie wonderlike vrede, want jy weet dat God in alle omstandighede by jou is, en dat niks, absoluut niks jou van God se liefde kan skei nie!

So kom ons aan die einde van ons reis deur die lewe van Petrus. Ek hoop dat hierdie reis soveel vir jou beteken het as vir my!

Gebed:

Dankie Here, vir die wonderlike voorbeeld van Simon Petrus. Maak my asseblief elke oomblik bewus van U teenwoordigheid en krag in my lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026