Pyne van Vernuwing

19 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Pyne van Vernuwing

Hebreërs Inleiding

VIDEO | LUISTER

Vir baie jare het ons in ‘n groot huis gebly. En toe kom die dag dat ons die huis moes verkoop en in ‘n eenslaapkamer woonstelletjie intrek. In ‘n sekere sin was hierdie ‘n nagmerrie-ervaring, want in die ruim huis met sy vier motorhuise was daar hope spasie om dinge op te gaar - dinge uit ons verre verlede. Ja, nie net my en Mosbolletjie se dinge nie, maar ook ons ouers se ougoed, en selfs Oupagrootjie se goed. Daar was kaste en kaste vol onthoudinge uit toeka se jare - baie daarvan sommer net gemors wat nooit óóit weer gebruik sou kon word nie.

Ek en Mosbolletjie moes ‘n besluit neem oor wat om te hou en wat om te verkoop, weg te gooi of weg te gee. Die spasie waarheen ons sou trek was bitter klein, dus kon net die héél noodsaaklikste goed saamgaan. Glo my: dit was ‘n treurmare!

“Hierdie móét ons hou, Liefie!”

“En waar gaan jy hom nogal sit? Boonop is hy dan al gekraak!”

“Maar dis ‘n onthou-ding - ek sal plek maak vir hom!”

Berge goed is weggegee - die kinderhuis was in die wolke! In die Nelle se huis was daar ernstige huismoles! Totdat ek en Mosbolletjie begin agterkom het hoe bevrydend dit was om van die spul ou bagasie ontslae te wees!

Dit is nie net wanneer jy trek dat jy besluite moet neem oor ou oorbodige bagasie uit die verlede nie. Dikwels moet jy net gaan sit en herbesin of jy ooit tred gehou het met die tyd. 1994 Was so ‘n keerpunt in Suid-Afrika en vir baie mense was dit uiters traumaties! 1994 het ons gedwing om anders - núút te dink, want niks sou hierna meer dieselfde wees nie. Die vraag was: “Watter van my ou waardes moet ek saamneem?” Meeste van ons moes ál ons ou waardes agterlaat en nuut begin. Vir baie mense was hierdie vernuwing egter ‘n reuse bevryding.

In ons eie gemeente het daar al etlike male vernuwing gekom. Gemeenteleiers moes koppe bymekaarsit en vra: wat moet ons doen om ons gemeente lewendig te hou? In gebed moes ons die Heilige Gees vra om ons die regte pad te wys. Vir sommige mense was die vernuwing pynlik. Liedere het verander, en vir sommige lidmate het dit swaar op die oor geval, veral wanneer die ou gereformeerde liedere moes plek maak vir die meer moderne.

Die gevolg van die vernuwing was egter elke keer baie positief vir die gemeente!

Vandag is daar splinternuwe dinge wat ons angsbevange maak – KI (Kunsmatige Intelligensie) klink vir ons na wetenskapsfiksie! So byvoorbeeld kan ChatGPT uiters positief gebruik word in die kerk indien dit reg bestuur word! Sien dit as ‘n positiewe Godgegewe!

Die eerste lesers van die Hebreër-brief het ook geleef in ‘n snel-veranderende wêreld, en hulle moes aanpas. Hulle wou nog vashou aan die verlede, want soos almal mos weet, is die verlede die “goeie ou tyd”, en die hede die slegte tye. Maar is dit werklik? Uitgediende ou tradisies was deel van hulle lewens, en hulle wou aan hierdie wurggreep vasklou. Die skrywer wou egter vir hulle wys dat dit bevrydend is om aan te pas by die nuwe bewegings van God se Gees in hierdie veranderende wêreld. ‘n Mens kan jouself baie gou identifiseer met hierdie mense, as jy begin agterkom hoe moeilik dit vir hulle was om as gelowiges staande te bly te midde van al die chaos wat rondom hulle ontstaan het.

Baie kerkleiers wou met alle geweld terugkeer na die ou dinge - die gerieflike sekerhede van hoe dinge nog altyd was.

Hebreërs wil egter vir die lesers (ook vir jou en my) wys dat die verlede besig is om in nuwe en verrassende moontlikhede te ontwikkel. Neem jy hierdie brief ernstig op, dan mag dit jou dalk net verander van ‘n knorrige, kermende klakous na ‘n idealistiese, hoopvolle en liefdevolle toekomsmens, omdat jy Jesus nuut leer ken.

Net enkele opmerkings oor die brief aan die Hebreërs, voordat ons hom aanpak: As ons die geskrif analiseer, kom ons agter dat dit eintlik gladnie ‘n brief is nie, maar eerder ‘n pastorale preek.

Die skrywer? ‘n Proffie het eendag vir sy studente gevra: “Wie het die Apostel Paulus se brief aan die Hebreërs geskryf?” Eintlik was dit ‘n baie flou grappie, want dit was nie Paulus nie. Die feit is dat ons net eenvoudig nie weet wie die skrywer was nie. En aan wie was dit gerig? Ook hieroor is niemand seker nie. Ons kan maar net raai dat dit moontlik gerig was aan gelowiges in Italië - moontlik Rome, iewers tussen 80- en 90nC. Ek nooi jou uit om hierdie “preek” saam met my te geniet!

Gebed:

Here, die ou dinge is verby - help my asseblief om die nuwe wat U my gee met vreugde te aanvaar!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026