Priscilla en Akwila

11 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Priscilla en Akwila

Handelinge 18:1-28

Video

Audio

               

“Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewens vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom.” Paulus se stem kraak as hy aangedaan vir sy sekretaris dikteer wat hy moet skryf in die brief aan die gemeente in Rome. Daardie vrou Priscilla – niks staan vir haar twee hande verkeerd nie! Hoe baie het sy en haar man, Akwila nie al opgeoffer vir die Koninkryk van God nie!

Ja, inderdaad kom hulle al ‘n baie ver pad saam. Alles het begin toe hy die dag in Korinte aankom.

Toe die gemeente in Antiogië hom stuur om die Evangelie na die heidenwêreld te neem, was daar nie geld om vir al sy reise te betaal nie, en Paulus moes noodgewonge maar sy tentmaak gereedskap alles saamneem om hom en sy geselskap aan die lewe te hou en hulle reiskoste en verblyf te betaal.

Toe hulle in Korinte aankom, was Paulus in die wolke, want daar ontmoet hy vir Akwila, óók ‘n tentmaker van beroep. Priscilla vertel vir Paulus dat hulle eintlik ook so pas hier in Korinte aangekom het uit Rome, omdat Keiser Claudius al die Jode uit die stad uitgejaag het!

Hulle kliek sommer dadelik en Akwila nooi hom om by hom en sy vrou, Priscilla te kom intrek. Hulle kon sommer saam hulle tente vervaardig. Intussen preek Paulus elke keer wanneer hy ‘n geleentheid kry. Hy preek ook elke Sabbat in die plaaslike sinagoge.

Uiteindelik bly Paulus vir 18 maande by sy dierbare vriende, Priscilla en Akwila. Maar dit het tyd geword dat hulle aanskuif na ‘n nuwe stad om die evangelie verder die wye wêreld in te dra. Dit was met ‘n swaar hart wat Paulus van die twee afskeid neem.

Toe hulle huis weer leeg was, besluit die twee dat dit moontlik ook tyd geword het vir hulle om op te pak en elders heen te trek. So eindig hulle op in Efese, een van die stede waar Paulus ook vroeër gepreek het.

Op ‘n dag hoor hulle in die plaaslike sinagoge ‘n man baie geesdriftig preek. Hulle kon sommer dadelik agterkom dat hierdie begaafde man ‘n deeglike kennis van die Skrifte het. En hy preek dat die biesies bewe! Priscilla hou sommer dadelik baie van hierdie man! Sy naam is Apollos en hy praat met groot geesdrif as hy mense noukeurig oor Jesus leer.

Maar dan kom Priscilla agter dat alles nie heeltemal kosjer is nie. Iewers het hy dinge ‘n bietjie misverstaan, want die dinge wat hy mense leer oor die doop is nie wat sy van Paulus geleer het nie. Hy het duidelik nie mooi verstaan oor die doop nie. Hy het die “boetedoop” wat Johannes die Doper toegepas het in sy bediening gepreek. Dit was ‘n doop wat vooruitgewys het na die koms van Jesus as Messias. Apollos het nooit gehoor van die doop wat Jesus sélf ingestel het kort voor sy hemelvaart nie.

Na sy preek gaan Priscilla na hom toe, en nooi hom uit vir ete. Daar begin sy en Akwila hom met groot omsigtigheid verduidelik van wat die doop eintlik beteken. Apollos luister met groot aandag, want hy weet sommer dadelik dat hierdie twee toegewyde mense by die groot leermeester, Paulus geleer het. Hulle bied as’t ware vir Apollos ‘n “opknappingskursus” aan om hom in die volle waarheid van die Woord te onderrig.

Priscilla gesels later met Akwila, en vra of hulle nie dalk hulle huis moet beskikbaar maak sodat gelowiges daar kon kom aanbid nie. Dis tog baie meer persoonlik as die sinagoge, waar hulle met agterdog bejeën is. Dit was ‘n wenner, en baie gou het die gelowiges na hulle huis gestroom.

Twee dinge val ons dadelik op oor hierdie begeesterde egpaar: hulle beskou dit as hulle plig om ander gelowiges in die volle waarheid van God se raadsplan te onderrig. Dit is ‘n persoonlike ding, en hulle neem vir Apollos na hulle huis toe vir die nodige opleiding. Hulle gaan sit nie agteraf en skinder omdat die man ‘n “dwaalleer” verkondig nie! Hulle doen egter iets daadwerklik daaraan en help hom in liefde reg waar hy verkeerd is.

In die tweede plek sien ons ook dat beide Priscilla sowel as Akwilla aktief betrokke is. Die vroue het in daardie tyd slegs ’n agtergrondstatus, of eerder totaal géén status gehad nie. Nou het hulle egter ‘n splinternuwe status gekry. Priscilla onderrig nou selfs ‘n leraar, iets wat voorheen beslis slegs vir mans gereserveer was!

Vandag leer ons uit hierdie egpaar se optrede dat ons as gelowiges by mekaar betrokke moet wees. Ons moet mekaar se geloof help opbou en mekaar begelei in die volle raad van God. Christenwees is nie maar ‘n paadjie waar elkeen op sy eie die mas probeer opkom nie. Ons het mekaar baie nodig om mekaar te ondersteun en te bemoedig. Verder leer ons dat ons ook moet herbesin oor die stereotipe rolle wat ons deur die eeue vir mans en vroue uitgekerf het. Dit is veral vroue wat steeds nie altyd hulle Godgegewe gawes in die kerk kan uitleef nie. Kom ons gee vir elkeen sy regmatige plek!

Gebed:

Here, dankie vir die pragtige voorbeeld van Priscilla en Akwila. Gee my ook die ywer om so in U Koninkryk tot nut te wees vir ander.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026