Lukas 11:37-54
Waarom het Jesus nie Sy hande gewas voor die ete nie?
By die vorige perikoop sien ons ‘n ongemaklikheid opbou tussen Jesus en die skare. Hulle eis wondertekens, maar Jesus wil dit nie vir hulle gee nie. Dan lig jy jou wenkbroue as jy lees dat ‘n Fariseër Jesus uitnooi vir ete. Ek dink die man het ‘n bedekte motief gehad vir hierdie mooi gebaar! Hy en sy trawante wou Jesus probeer vastrek. En daar gebeur dit toe ook sommer met die intrapslag dat Jesus in hulle slagyster trap wanneer Hy nie Sy hande was voor die ete nie! Hierdie was egter nie sommer net ‘n gewone handewas om kieme dood te maak nie, maar ‘n godsdienstige ritueel wat nagekom móés word en natuurlik piets hulle Hom hieroor!
Weldra begin ons egter agterkom dat Hy dit dalk aspris gedoen het om ‘n gesprek uit te lok en Hy kry dit ook Meesterlik reg! “Já, julle Fariseërs!” sê Jesus vir hulle, “julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar van binne is julle vol inhaligheid en boosheid!” As hulle geweet het wat goed was vir hulle, sou hulle almal net daar en dan die hasepad gekies het. Maar hulle is mos slim! Hulle sit dus die gesprek voort, maar in plaas daarvan dat húlle die aanklaers in die gesprek is, word hulle nou skielik die beskuldigdes! Jesus tik hulle geniepsig oor die vingers omdat hulle so behep is met allerhande reëls en regulasies dat hulle die belangrike goed totaal miskyk. Hulle beheptheid met kultiese korrektheid van goed soos ‘n godsdienstige handewassery maak dat hulle gladnie by dinge van ewigheidswaarde soos die liefde vir God en vir geregtigheid uitkom nie!
Hy sê vir hulle dat hulle besig is om die buitekant van eetgerei silwerskoon te poets, maar die binnekant - dié deel wat waarlik belangrik is - dié bly vuil! Hiermee bedoel Hy dat hulle ‘n pragtige vroom front opsit van mense wat heilig is en die wet nougeset toepas, maar hulle persoonlike lewens is inhalig en boos. Alles is net ‘n vertoon-godsdiens en daarom is hulle dwaas, want as kerkleiers besef hulle nie dat dieselfde God wat die uiterlike gemaak het, ook die innerlike gemaak het nie. In hulle optrede verlei hulle ook die gewone mense om slegs hulle uiterlike reg te hou. Die innerlike maak mos nie saak nie!
Dan maak Jesus drie ellende-uitsprake waarin Hy vir die Fariseërs reguit sê waarom Hy hulle optrede so kritiseer.
Hulle kom die wet van tiendes gee tot in die fynste besonderhede na, gee selfs kruie en speserye! Hulle vergeet egter gerieflikheidshalwe die belangrikste, naamlik om geregtigheid aan mense te laat geskied en om God lief te hê.
Tweedens soek hulle net mense se eer deur op die belangrikste sitplekke in die sinagoge te gaan sit, en om op openbare plekke deur mense begroet te wil word, sodat almal kan sien hoe belangrik én heilig hulle nou éintlik is.
In die derde plek is hulle geestelik dood en daardeur lei hulle ander mense ook die verderf in. Jesus sê dat hulle soos “ongemerkte grafte” is. Wat Hy hiermee bedoel is dat hulle soos grafte is waaroor mense onwetend loop en dus onbewustelik onrein raak.
Hiermee sê Jesus dus vir die Fariseërs dat hulle as geestelike leiers nie hulle taak vervul nie. Hulle ken God nie en hulle dien Hom nie werklik nie, al dink hulle ook so. Hulle dien eintlik net hulleself, en met hulle kortsigtige siening van die wet staan hulle in die pad van mense vir wie hulle leiding moet gee.
Dinge begin nou te veel raak vir die groepie wetsgeleerdes wat ook daar sit, en hulle protesteer. Jesus is nou besig om ook in húlle binnekamer rond te karring. Maar Jesus draai rustig na hulle toe en sê dat hulle sélf besig is om die mense te mislei deur al die ekstra voorskrifte wat hulle geskep het bo en behalwe die wet. Hulle maak dit onmoontlik vir mense om waarlik die Here te dien. Boonop is hulle as wetsgeleerdes eintlik die mense wat kennis het van die Woord van God. Hulle dra die sleutels van kennis wat mense toegang gee tot God se verlossingsplan, maar hulle is nie bereid om daardie kennis vir ander mense oop te sluit nie.
Die reaksie van hierdie “heilige” manne laat jou hare regop staan. Hulle blaas moord! Hulle is woedend!
Ons moet ons nie blindstaar teen die Fariseërs en Skrifgeleerdes nie. Hierdie uitsprake van Jesus praat vandag maar nét so hard met elkeen van ons en dit is baie nodig dat ons gedurigdeur moet introspeksie doen in ons eie lewens om te sien of ons nie dalk ook al soos daardie mense begin word nie. Is ons nie ook dikwels só behep met uiterlike dinge dat ons van die belangrike innerlike vergeet nie? Minder belangrike sake tap dikwels ons energie in hewige debatte sodat ons nie meer die krag het om liefde uit te leef nie. Dit het tyd geword dat ons weer terugkom na die basiese dinge en dat liefde ons lewe vul.
Gebed:
Here, vergewe my waar ek so dikwels vergeet waar my ware prioriteite moet lê.