Handelinge 14:1-28
Na hulle vernederende ondervinding in Antiogië, vertrek Paulus en Barnabas ooswaarts na drie stede in die Romeinse provinsie Galasië, Ikonium, Listra en Derbe. Die roetine wat hulle volg is om weereens eerste in die Joodse sinagoges te gaan preek en daarvandaan verder uit te brei en die evangelie dan ook aan die heidene te verkondig. Telkemale is dit die Jode wat die vlieg in die apteker se salf is. In Ikonium sweep die Jode wat nie die evangelie wou aanvaar nie die heidene op teen Paulus en Barnabas, met die gevolg dat hulle baie teenstand kry. Maar dit skrik hulle nie af nie en die twee hou ywerig aan om die Woord te verkondig. Hulle hou aan totdat dit op ‘n dag net eenvoudig so warm begin raak dat hulle noodgedwonge voor ‘n woedende, oproerige skare vir hulle lewens moet vlug!
Vandaar vertrek hulle na die stad Listra, waar Paulus ‘n gebreklike man genees. Die skare is in vervoering oor hierdie wonderwerk en hulle besluit summier dat hierdie twee manne gode is wat na die aarde neergedaal het. Barnabas is die hoofgod Zeus en Paulus sy boodskapper Hermes. Die mense babbel opgewonde in hulle moedertaal, Likaonies, met die gevolg dat Paulus-hulle nie verstaan waaroor die groot bohaai gaan nie. Eers wanneer hulle tempel toe gesleep word en daar begin word om vir hulle offerandes voor te berei, begin hulle besef wat werklik aan die gang is. Dit kos baie mooi verduidelik om die opgewonde skare te oortuig dat hulle maar net doodgewone mense is en beslis nie gode nie!
Weereens is dit die Jode wat die twee se prediking kom versuur. Hulle het al die pad van Antiogië en Ikonium af gekom om die mense van Listra te kom waarsku oor hierdie twee "gevaarlike" manne se “dwaalleringe” en dan sweep hulle die mense van Listra op teen Paulus en Barnabas. Só oortuigend is hierdie Jode dat die inwoners vir Paulus uit die stad sleep en hom met klippe bestook.
En daar lê hy morsdood gestenig! Nes Sefanus van ouds...... Altans, so dink almal, maar die Here het nog ‘n groot taak wat vir Paulus voorlê en Sy hand van beskerming rus op die groot sendeling. Terwyl die gelowiges so verslae rondom sy “lyk” staan, staan Paulus voor hulle oë op en gaan saam met hulle terug in die stad in!
Ek wonder darem net wat die uitwerking was op die gelowiges toe Paulus hier "uit die dood opstaan?" Die nuus het sékerlik soos 'n veldbrand versprei!
Nét die volgende dag vertrek hy en Barnabas egter na die stad Derbe, waar hulle weereens ywerig die Evangelie verkondig. In Derbe kom 'n groot aantal mense tot bekering.
Die tyd het egter nou aangebreek dat hulle moes terugkeer na hulle moedergemeente. Maar eers was daar ‘n baie belangrike taak: hulle moet dóódseker maak dat dit goed gegaan het met die gemeentes wat hulle so pas gestig het. So loop hulle dan terug op hulle spore deur Listra, Ikonium en Antiogië en dít ten spyte van al die weerstand wat hulle die afgelope tyd daar ondervind het!
Hierdie twee manne het waarlik hare op hulle tande gehad, om die dood te trotseer deur terug te gaan na plekke waar hulle deur die inwoners met die dood gedreig was. Dit was egter vir hulle baie belangriker om seker te maak dat die nuwe gemeentes behoorlik gevestig en versterk sou word.
Van Antiogië in Pisidië af pak hulle die lang pad aan terug na ‘n baie vriendeliker Antiogië in Sirië waar hulle gemeente geleë was. So ver as wat hulle gegaan het was die Woord verkondig.
Dis ‘n opgewonde gemeente wat die twee in Antiogië ontvang het en hulle moes kom vertel van alles wat met hulle gebeur het. Vir Paulus het een ding soos ‘n paal bo water uitgestaan: die Here het ‘n deur oopgemaak vir die heidene, ‘n deur van geloof. Inderdaad was hierdie slegs die begin van baie wonderlike dinge wat later nog sou gebeur!
Lyding is deel van die pad van die Evangelie. Daar word nie maanskyn en rose gewaarborg vir die kerk van Christus hier op aarde nie. Wat Hy wél waarborg is dat Hy by sy kinders sal bly tot aan die héél einde (Mat. 28:20). Hy waarborg ook nie dat alles vlot gaan verloop wanneer die Evangelie verkondig word nie. Die bose skop immers hier viervoet vas en beveg dit met ál sy mag. Hy waarborg egter dat Hy die gelowige se hand sal vashou en hom sal dra deur al die uitdagings. Ons gelowiges het immers die héél beste Gids om ons deur die duisternis te lei, die Heilige Gees. Hy sorg dat ons nie sal verdwaal nie en vir niks hoef bang te wees nie. Paulus en Barnabas het nie vir ‘n oomblik geskroom om terug te gaan, reg in die kake van die “draak” in nie. Hulle het geweet Wie saam met hulle was en die Here het hulle veilig dwarsdeur dit alles gelei. Vandag is daar talle verhale van mense wat die Woord uitdra in die verskriklikste omstandighede, maar hulle doen dit vol vertroue want hulle het vir Jesus aan hulle sy.
Ons leer van Paulus en Barnabas, dat wanneer jy erge teenstand kry terwyl jy die Woord verkondig, dan is dit dalk júís omdat jy op die duiwel se tone trap! En hét hulle nie sy liddorings seergemaak nie! Dan moet jy nie moedeloos raak nie, maar juis bly wees dat jy kon deel wees van die stryd teen die bose. As hy skree, dan weet jy dat hy seergekry het!
Gebed:
Dankie Here, dat ek vandag die versekering het dat U elke tree met my saamstap, selfs deur swaarkry as gevolg van die Evangelie!