Pinksterdag

30 April, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Pinksterdag

Handelinge 2:1-13

VIDEO | OUDIO

Vir die afgelope week nou al stroom Jode van regoor die wêreld Jerusalem binne vir die groot oesfees, Pinksterfees. Dit is tradisie dat almal hulle eerste opbrengste van hulle oes op die spesifieke Sondag van Pinkster aan die Here kom offer. En Jerusalem bars uit haar nate!

Petrus het vir al die gelowiges laat weet om op daardie Sondag bymekaar te kom op hulle gereelde plek. Moontlik is dit 'n goeie geleentheid om sommer weg te kom van die skares wat jou so vertrap by die tempel. Dit sal ook lekker wees om as 'n groep gelowiges weer Jesus se opstanding saam te gedenk sonder om deur al die Joodse rituele te moet gaan.

Skaars is almal binne, of 'n verskriklike storm bars skielik los. Dit klink behóórlik of hulle huis gaan wegwaai. Kinders gaan aan die huil en 'n paar vrouens gil van vrees en daar heers algemene chaos! Petrus is weereens die een wat opstaan en almal kalmeer.

Maar dan kom hulle agter dat daar absoluut géén wind is nie – dit is net hierdie onaardse geluid. “Wat gaan aan?” wil almal weet, “hier is iets baie eienaardig aan die gang!”

Petrus kry 'n beklemming om die hart. Hy voel aan dat hulle nie alleen in die vertrek is nie – hier is nog “Iemand” baie groot saam met hulle.

Dan gil een van die vrouens: “Kyk! Kyk!” en sy beduie na die dak. Almal snak na hulle asems as hulle die groot vuurvlam sien wat stadig en misterieus uit die dak neerdaal op hulle. Hulle spat verskrik uitmekaar, maar dan verdeel die vlam in 'n klomp klein vlammetjies, en elkeen van hulle gaan sit op een van die gelowiges in die vertrek. Die onverklaarbare is dat die vuur hulle nie brand nie!

Die mense wil histeries raak, maar wanneer hulle agterkom dat niks met hulle gebeur nie, dan kom daar 'n onverklaarbare kalmte oor hulle.

Skielik besef Petrus wat hier gebeur: “Die Heilige Gees!” verklaar hy.

“Wat bedoel jy, Petrus?” wil Thomas weet.

“Jesus het mos gesê dat ons moet wag vir die Heilige Gees en dat Hy Hom na ons sal stuur! Hierdie is heilige oomblikke broers en susters, dit is die koms van die Heilige Gees! God is persoonlik hier in die vertrek teenwoordig.”

Die magtige geluid van die stormwind weerklink deur die ganse Jerusalem. Duisende nuuskierige mense stroom uit elke uithoek van die stad na die plek waarvandaan die geluid kom, totdat daar 'n reuse skare van mense rondom die huis staan. Iemand hamer aan die deur: “Wat is aan die gang daar binne?” wil hulle weet.

Petrus maak die deur oop en voor hom staan derduisende mense wat saamdrom om te hoor wat aangaan.

Dan peul die gelowiges uit die vertrek. Hulle kan nie wág om vir almal te vertel wat so pas gebeur het nie. Opgewonde vertel hulle van hulle onbeskryflike ondervinding. Maar dan begin hulle agterkom dat die mense hulle baie snaaks aankyk.

En skielik kom hulle agter dat hulle nie in die gewone voertaal, Aramees met die mense praat nie. Die een praat Grieks, die ander Arabies en 'n ander Latyns. Iemand vertel sy verhaal in die taal van die Perse, en 'n ander in dié van die Pamfiliërs. Die mense van Medië en Kappadosië en Sirië hoor elkeen die verhaal in hulle eie taal. So ook die inwoners van Frigië, Asië, Libië, Sirene en Mesopotamië. En die groot wonder is dat nie een van die vertellers ooit so 'n taal aangeleer het nie.

Die duisende toeskouers is stomgeslaan: “Hoe is dit moontlik? Hierdie klomp is almal tog doodgewone Galileërs! Wat kan dit tog alles beteken?”

“Aag man, hulle is sekerlik dronk!” snork iemand vererg.

Petrus roep die ander elf apostels bymekaar. “Kom, ons moet iets doen want niemand verstaan wat aan die gang is nie. As ons nie nou dadelik vir hulle verduidelik nie, het ons gróót probleme.”

“Petrus, praat jy maar,” beduie een van die manne, “ons is mét jou!”

Dan tree Petrus na vore en hy maak die skare stil. As hy so oor die see van mense kyk, sien hy weer die golwe wat sy lewe bedreig het toe hy op die see wou stap. Maar dan kom daar 'n onverklaarbare kalmte oor hom, en sy vrees verdwyn. Hy wéét dat hy nie alleen hier staan nie en dat die Heilige Gees elke woord in sy mond sal lê.

“Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat vandag hier gebeur het.” 'n Doodse stilte sak oor die skare toe as hulle Petrus se klokhelder stem hoor, gelaai met selfvertroue. Hy begin verduidelik oor wat hulle vandag hier ervaar het, en nee, die manne is beslis nie dronk nie! Dit is die werk van die Heilige Gees!

Die woorde rol van Petrus se lippe af, en die mense hang aan sy lippe as hy vertel van Jesus - dat Hy gekruisig is en doodgemaak is. Maar Jesus het ook opgestaan uit die dood en Hy lewe! Hy regeer nou waar Hy sit aan die regterhand van God die Vader.

Só diep is almal getref deur Petrus se eerste toespraak dat nie minder nie as 3000 mense daardie dag gelowig word en volgelinge van Jesus word.

Gebed:

Here, gee my asseblief die wil om die Heilige Gees toe te laat om ook my lewe te beheer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026