Johannes 21:15-19
Dit is die gelukkigste uurtjie wat Petrus nog óóit in sy lewe beleef het. Na al die drama en hartseer en die grusame dag by die kruis, sit hy nou knus langs sy geliefde Meester. En die grootste wonder van almal is dat Jesus leef! Petrus voel sommer hoedat sy hart swel van liefde vir die opgestane Messias.
“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”
Jesus se onverwagse vraag kom amper as 'n skok vir Petrus. Maar sonder om te skroom antwoord hy onmiddellik: “Ja Here, U weet dat ek U liefhet.”
“Laat My lammers wei.” antwoord Jesus hom. Petrus is uit die veld geslaan – waarom skielik hierdie vraag en wat beteken Jesus se antwoord hierop nou eintlik? Maar hy is te bang om te vra.
Petrus se gedagtes is nou in 'n warboel: “Maar natúúrlik het ek my Meester baie lief. Ek sal enigiets vir Hom doen. Is dit nie juis vir my wat Hy keer-op-keer uitgesonder het nie?”
Weer dink hy aan die dag toe hulle op die meer was. Petrus glimlag: “Hoe ampertjies het ek darem daardie dag versuip!” Hy onthou nog hoe bang hulle was toe hulle die “spook” oor die golwe na hulle skuit toe sien aangeloop kom. En hoe bly hy was toe hy sien dat dit al die tyd Jesus was wat op die water loop!
Hy onthou dit soos gister, hoe daardie begeerte in hom gebrand het om ook soos Jesus op die see te kan loop. Die Meester het mos vir hom gesê dat hy en sy maats ook wonderwerke kan doen as hulle maar net glo. Nee, dit was eintlik nie maar net 'n begeerte om op die see te kon loop nie, maar hy het begeer om by Jesus te kon wees!
En toe hy daardie eerste tree op die water gee en hy sien dat hy nie sink nie, was hy in ekstase! Petrus se hart krimp ineen as hy ook onthou hoe hy begin twyfel het toe die eerste groot brander op hom afstorm. "Waarom kon ek dan nie bly glo nie?" wonder hy.
Jesus het hom aan die hand gegryp en hom gered.
“Simon seun van Johannes, het jy my baie lief?” hoor Petrus sy Meester se vraag 'n tweede keer.
“Ja Here, U weet mos dat ek U liefhet!” Simon se hart klop in sy keel. Waarom sou Jesus hom die vraag 'n tweede keer vra? Wil Jesus hiermee dalk sê dat Hy nie so seker is of Petrus eerlik is met sy antwoord nie?
“Natúúrlik het ek Hom lief!” Nou kook dit in Petrus en hy wéét dat hy ernstig is hieroor en dat sy antwoord eerlik is.
Maar dan hoor hy weer die stemmetjie hier in sy binneste: “Petrus, wat van daardie verskriklike Vrydagaand? Het jy vergeet?”
Petrus se hart bons wild in sy binneste. Hoe kan hy óóit vergeet van daardie vervloekte Vrydagaand. En van die haan! Was dit liefde? Is dit liefde as jy lieg oor die Een wat jy liefhet en jy blaker dit vir die wêreld uit dat jy daardie persoon nog nóóit geken het nie?
“Pas My skape op,” hoor hy vaagweg Jesus se stem.
“Hoe kan ek die Meester se skape oppas as ek vir mense vertel dat ek Hom nie eers ken nie? Kan ek ooit verwag dat Hy my vir hierdie verskriklike ding sal vergewe? En waarom bemoei die Meester Hom nog steeds met my na alles wat ek verkeerd gedoen het?” Petrus se hart is stukkend. Hy verstaan gladnie!
“Simon seun van Johannes, het jy my lief?”, hoor hy Jesus 'n derde maal vra.
Dan breek iets in Petrus. Rou snikke ruk deur sy liggaam: “Here U weet alles,” snik hy dit uit terwyl trane deur sy baard stroom, “U weet dat ek U liefhet.”
“Laat My skape wei, Petrus.”
Die Here weet alles - ÁLLES! Natúúrlik weet Hy van al Petrus se mislukkings en van al die kere wat Petrus so liederlik gefaal het! En van daardie verskriklike Vrydagnag. Maar ten spyte van al sy swakhede en gebreke kry hy steeds die opdrag om Sy kudde op te pas. Hoe kan Jesus hom so vertrou ten spyte van alles?
Vanoggend praat Jesus net so duidelik met my en met jou, liewe vriend en vriendin. Jesus ken ons óók deur en deur. Die Here weet alles - ÁLLES! Soos Petrus kan ons ook maar net vanoggend in trane voor Hom kom staan en ons harte uitstort, want ons liefde vir Hom skiet so verskriklik ver tekort. Dag-vir-dag bedroef ons Hom met ons liefdelose optrede en ons talle sondes. Maar ten spyte van dit alles het Hy ons steeds so ongelooflik baie lief. Hy het elke sonde van my en jou reeds vergewe en vergeet en Sy opdrag aan ons is dan ook vanoggend om te gaan skape oppas. Hoe jy daardie opdrag gaan uitvoer is ‘n saak tussen jou en Jesus en hoe die Heilige Gees jou lei. Party van ons het baie skape gekry om na om te sien en party net een enkele skapie. Die Here gee egter vir elkeen na sy eie vermoë. Hy vra net dat ons daardie skape wat Hy ons gegee het goed sal versorg, met liefde.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U my ook steeds vertrou met U skape ten spyte van al my foute. Help my om my taak uit te voer volgens U wil!
Aangesien Maandag 'n vakansiedag is, sal daar nie 'n dagstukkie wees nie.