Petrus en sy Tradisies

19 October, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Petrus en sy Tradisies

Handelinge 10:1-23

Petrus, die groot prediker, só staan hy bekend. Binne ‘n kwessie van enkele jare het daar ‘n reuse verandering in sy lewe gekom wat sy ganse lewe totaal getransformeer het. Ons het Petrus leer ken as die ongekunstelde visserman vir wie Jesus geroep het om Hom te volg sodat hy ‘n “visser van mense” kon word. Ons het gesien hoe verskriklik impulsief Petrus kon wees. Hy het in die onstuimige see gespring en op die water probeer loop soos Jesus, en dit nog amper, amper reggekry ook! Sy impulsiewe beloftes en uiteindelik sy hartseer verloëning van Jesus - dit was die óú Petrus. Maar toe kom Pinkster, en ons sien ‘n splinternuwe Petrus wat na vore tree as ‘n ware, onverskrokke en verstandige leier.

Daar was egter nog één ding waarmee Petrus in sy lewe moes planmaak: sy Joodse agtergrond. Sien, Petrus was nou wél ‘n Christengelowige, maar hy kon nie verby die jare en jare se Joodse tradisies kom wat van babatyd in hom ingedril was nie. Waar dit egter vir ‘n mens onmoontlik mag lyk, daar kom die Here en Hy maak dit vir jou moontlik. Die heel eerste stappie het gekom toe Simon die leerlooier hom uitnooi om by hom in Joppe tuis te gaan. Omdat ‘n leerlooier met die velle van dooie diere werk, en die goed onrein is, het ‘n Godvresende Jood nooit as leerlooier gewerk nie Dit maak hom immers óók onrein. Nou moes Petrus by hierdie “onrein” man tuisgaan. Dit was seker maar moeilik, maar ten minste was die man darem ‘n Jood!

En toe kom dáárdie droom! Dit was twaalfuur die middag, en Petrus het op die platdak van die huis gaan sit en ontspan, en gebid soos dit enige goeie Jood betaam. Onder in die huis was die vrou besig om kos te maak, en die heerlike geure het Petrus rasend van die honger gemaak. Terwyl hy daar sit, sien hy in ‘n visioen ‘n reuse doek uit die hemel neersak. Petrus is nuuskierig: wat sou daarin wees? Dit lyk nogal swaar! Maar wat Petrus daar sien, vervul hom met afgryse: diere! Maar nie sommer net enige diere nie - alles gemeng! Daar is skape, beeste, varke, akkedisse, duiwe, aasvoëls. Dis om van naar te word! Alles, rein en onrein deurmekaar. Terwyl Petrus nog grootoog na hierdie Babelse mengelmoes staar, kom daar ‘n Stem uit die hemel: “Kom Petrus, slag en eet.”

Nog nooit nie, Here!” Petrus se onmiddellike reaksie is wat jy van énige goeie Jood sou verwag. Hy is immers ‘n Jood in murg en been, en die wette wat hy so goed ken, en wat van kleins af in hom ingedril is, sê tog ál te duidelik dat g’n Jood enigiets mag eet wat onrein is nie. Drie keer word die opdrag herhaal voordat die doek weer die hemel in verdwyn. Petrus is bitter ontsteld! Alles waarin hy tot dusver geglo het, is skielik op sy kop gedraai. Wat moet hy daarvan maak?

En terwyl hy met ‘n kloppende hart sit en peins oor die verskriklike gesig, staan daar drie manne voor die deur. Hulle wil vir Petrus spreek. “Kaptein Kornelius het ons gestuur.”

Petrus is steeds só in vervoering oor die visioen, dat hy hulle nie eers hoor klop nie. Die Here moet hom wakker skud uit sy denke. “Daar is drie mans wat jou soek. Ek het hulle gestuur. Moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie!” Petrus hoor helder en duidelik die Stem van God.

Kornelius was ‘n kaptein in die Italiaanse regiment wat in Sesarea die hoofsetel van die Romeinse goewerneurs in Judea gestasioneer was. Hy het die Joodse geloof aangeneem, en het baie vroom geleef, maar die feit dat hy nie ‘n Jood van geboorte was nie, het hom steeds “onrein” vir enige Jood gemaak.

En hier staan die drie “heidene” voor Petrus. Wat moet hy maak? Skielik gaan daar vir Petrus ‘n lig op: dít is waaroor die visioen was! Rein en onrein diere was alles deurmekaar! Hoe kan ek as mens iemand onrein verklaar? Téén alle Joodse voorskrifte in word die drie binnegenooi om die nag daar te slaap. Dit was Joodse tradisie dat as vriende of selfs vriende se vriende by jou opdaag, al ken jy hulle gladnie eers nie, dan gee jy hulle slaapplek. Natúúrlik is hierdie drie “heidene” vriende, want God het hulle dan gestuur! Hy het Sélf so gesê!

Vir Petrus is hierdie die begin van ‘n hele nuwe lewe. Nou het hy ‘n lewe vrygemaak van die kettings van tradisies. Maklik is dit beslis nie, want ál die jare is dit in hom ingehamer, en nou skielik moet hy daarmee breek. Ek en jy sit dikwels ook met tradisies wat indruis teen wat die Here vir ons wil hê Daar is dinge soos rassevooroordele, sosiale verskille, kerktradisies - noem maar op! Natuurlik is alle tradisies nie sleg nie, maar sommiges weerhou jou daarvan om voluit vir God te leef. Dit is dáárdie soort tradisies waarvan jy moet ontslae raak, soos Petrus ook uitgevind het. Nie alleen het die Here daardie dag vir Petrus laat verstaan dat dit nie saakmaak wat jy eet nie, maar ook dat een groep mense nie verhewe is bo ‘n ander nie. So durf ek nie neersien op enige mens nie, maak nie saak wie of wat hy is nie.

In die volgende dagstukkie volg ons DV vir Petrus verder op sy opwindende nuwe avontuur.

Gebed:

Here, vergewe my, waar ek steeds so dikwels vooroordele het teen mense wat anders as ek is. Help my asseblief om U wonderbare liefde teenoor almal uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026