Paulus Skryf Sy Testament

20 March, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus Skryf Sy Testament

2 Timoteus Inleiding

VIDEO | OUDIO

Ons begin vanoggend met Paulus se tweede brief aan Timoteus. Net eers 'n stukkie agtergrond oor hierdie brief.

Paulus was na jarelange gevangenskap in Rome vrygelaat uit die tronk, so wil oorlewering dit hê. Volgens sommige geskrifte het hy sy sendingwerk voortgesit tot by Spanje. Die troon in Rome was in daardie tyd beset deur ‘n waansinnige man, die wrede Nero. Paulus se vryheid was maar baie kortstondig en voor hy behoorlik sy voete kon vind, was hy weer terug in die tronk in opdrag van die nimlike Nero.

‘n Romeinse tronk was allesbehalwe ‘n pretpark! Omstandighede was, om die minste te sê, haglik! Dit was ‘n benoude, donker plek en die gevangenes was permanent geboei. Hulle was in kettings, sodat hulle nie kon rondbeweeg nie. Daar was nie, soos in vandag se tronke, kos voorsien nie en familie en vriende moes sorg dat die gevangene aan die lewe bly. Die administrasie was ook nou nie juis van die beste nie en dikwels is daar eenvoudig van ‘n gevangene vergeet, sodat hy soms jare later eers voor die hof verskyn het. Dikwels het hy selfs totaal weggeraak in die doolhof van die vergetelheid. Iemand sonder aansien was absoluut verlore in ‘n tronk! Dit is slegs die mense met groot name wat ooit weer daar kon uitkom.

Wanneer Paulus hierdie tweede brief aan Timoteus skryf, weet hy reeds dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat hy ook soos duisende ander Christene tereggestel sou word. ‘n Wrede dood staar hom in die oë, daar waar hy in die dodesel sit. Hy wag vir die tronkdeur om oop te swaai, met die wagte wat hom spottend meedeel: “Paulus, jou tydjie het gekom!” Inderdaad het Paulus ‘n marteldood gesterf, maar voordat Nero hom kon teregstel het Paulus eers vir oulaas kans gehad om ‘n brief te skryf. Paulus rig sy brief aan iemand vir wie hy baie lief geword het, Timoteus. Hy pleit in sy brief by hom om asseblieftog baie gou te kom. Hy het geweet sy teregstelling was bitter naby en hy gee die brief vir Tigikus om dit by Timoteus af te lewer. Tigikus sou dan ook sommer vir Timoteus in Efese, waar hy die leraar was, gaan aflos.

Dit was egter baie meer as net ‘n brief - hierdie was eerder ‘n testament. Aardse goed het Paulus nie gehad om te kon bemaak aan Timoteus en die ander lesers nie. Wat die geestelike betref, was hy egter skatryk! Hierdie skatte deel hy nou vryelik uit aan elkeen wat sy testament lees.

Jy sal seker onthou dat Paulus in sy eerste brief in 1 Tim 1:3 aan die jong man, Timoteus die opdrag gegee het om in Efese te gaan arbei. Timoteus was gehoorsaam en hy was steeds daar. Dit was egter ‘n moedelose Timoteus wat hierdie tweede brief sou lees. In Efese was die dwaalleraars stééds hard aan die werk en dit wil voorkom asof die arme Timoteus nie met hulle hond-haaraf kon maak nie. Maar dit was nie net die dwaalleer wat hom ondergekry het nie. Die verskriklike vervolging van Christenleiers, ook van sy geliefde mentor, Paulus, het vir Timoteus diep aan die hart gegryp. Wat sou van hulle word? Sedert die groot brand in Rome in 64nC, was Nero fanaties. Hy het die Christene van brandstigting beskuldig en hy het tekere gegaan soos ‘n woedende leeu om hierdie verfoeilike “sekte” van die gesig van die aarde af te vee op die wreedste moontlike manier. Terloops, daar word vermoed dat Nero sélf verantwoordelik was vir die brand!

Paulus se brief kon nie op ‘n beter tydstip gekom het nie want Timoteus word bemoedig en aangespoor om met nuwe ywer aan die werk te spring. Hy moes volhard, al was dit ook hoé moeilik. Hy moes Paulus se voorbeeld navolg en die Woord verkondig. Paulus pleit by hom om ál die pligte van sy bediening getrou uit te voer en die belangrikste van alles, om op God te vertrou!

Die vraag wat ek en jy vanoggend moet vra, is of hierdie brief vandag nog relevant is vir ons moderne samelewing? En die antwoord is ‘n besliste “JA!” Vandag is dit steeds vars en nuut, en ons kan dit toepas op ons lewe vandag. Nee, daar is nie meer ‘n Nero nie, alhoewel sommige wêreldleiers ‘n mens laat wonder..... Inderdaad is daar vir gelowiges bepaalde ontberings. Wanneer dinge seepglad verloop, verg dit nou nie juis inspanning om jou geloof uit te leef nie, maar wanneer dinge begin moeilik raak, dan krap dit! As die gemeentegetalle krimp of daar is onenigheid of kwaadpratery, dan vra dit ware toewyding en ‘n stewige grondslag om steeds met waardigheid en geloofsvertroue jou kop hoog te hou. Om onder moeilike omstandighede die beeld van Jesus, ons Verlosser aan die wêreld te vertoon, is nie maklik nie.

Jy kan maklik moedeloos raak as sulke dinge oor jou pad kom. Maar Paulus wys in hierdie brief vir ons hoe jy oor daardie hindernisse kan kom. Ons moet eerstens besef dat God nie Sy gawes van ons af weggeneem het nie. As jy jou deur die Gees laat lei, sál Hy jou toerus. Ons moet ook deeglik besef dat daar ander bekwame gelowiges is op wie ons kan staatmaak. Paulus leer jou dat jy die regte dinge moet najaag en die verkeerde vermy; om die Woord getrou te verkondig en jou pligte getrou uit te voer; om sterk te staan deur die genade en saam met Christus te regeer. Dan sal jy ook soos Paulus kan sê dat jy gelowig enduit volgehou het!

Gebed:

Dankie Here, dat U my moed gee wanneer dinge vir my duister raak!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026