Paulus is Omgekrap!

28 May, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Paulus is Omgekrap!

Galasiërs 1:1-10

VIDEO | SPOTIFY

"Aan die gemeentes in Galasië. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus," begin Paulus dikteer terwyl hy ongeduldig op en af in die vertrek stap. Die sekretaris se gansveer-pen "grts, grts" soos hy pynlik netjies die woorde op die perkament neerpen. Dit gee Paulus baie kans om sy woorde mooi te kies. Paulus is maar ál te bewus dat die Heilige Gees die regte woorde in sy gedagtes plaas, want hy het mos vir die Here gevra om hom te sê presies wat hy moet skryf.

Paulus wil reg aan die begin doodseker maak dat die lesers baie mooi sal verstaan wat die kern van die Evangelie is. Eers daarná kan hy die ander sake ophaal. Daarom dikteer hy verder: "Hy wat Homself gegee het vir ons sondes, om ons te red uit die huidige bose bedeling, volgens die wil van ons God en Vader, aan wie die heerlikheid behoort vir ewig en ewig! Amen."

Hierdie is immers waaroor die Evangelie gaan. Daar is géén ander Weg nie. Hy kan nie verstaan waarom die mense hulle laat mislei het nie.

Paulus is nie ‘n gelukkige man nie. Nee, eintlik is dit baie lig gestel, want hy is eintlik hewig ontsteld as hy hierdie brief dikteer. Hy is dééglik daarvan bewus dat die regte manier sou wees om eers ‘n danksegging te skryf direk na die aanhef, maar hy besluit om dit oor te slaan, want daar is min dinge aan die gang in Galasië waarvoor hy God kan dank! Boonop wil hy so gou moontlik by die probleem uitkom: “Ek is verbaas dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, wegdraai na 'n ander evangelie.”

Paulus is omgesukkel, want hy het gehoor dat die mense besig is om te swig voor ‘n dwaalleer, en dat hulle daardeur besig is om die verlossing wat God verniet gegee het, weg te klap! Hulle is besig om agter mense aan te dryf wat ‘n vals Evangelie verkondig deur die Evangelie te verdraai! Hierdie gladdebek predikers verwar die mense! God se kosbare genade is aangetas. Die hart van die Evangelie is gegryp en bloedig uitgeruk!

Wat Paulus hier só hewig ontstel, is dat die mense wat in hierdie gemeentes preek, dinge verkondig wat die diepste fondament van die Evangelie - God se genade deur Jesus Christus - aantas en ondergrawe. Paulus is só ernstig oor hierdie saak dat hy ‘n dubbele vloek uitspreek oor enigiemand wat iets anders verkondig as die ware Evangelie: “As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met wat julle ontvang het, laat hom vervloek wees!”

Dit is baie belangrik dat ons moet begryp dat God se seën ook ‘n ander kant het: wie God se genade en seën verwerp, bring oor homself ‘n vloek. Dit is ook belangrik om op te let dat Paulus hierdie vloek oor almal uitspreek, homself ingesluit, as daardie persoon ‘n vals leer sou verkondig. God se boodskap is altyd belangriker as die boodskapper, maak nie saak wie hierdie boodskapper is nie. Selfs ‘n professor aan die universiteit se teologiese skool sal nie daardie vloek vryspring nie!

Terloops, hierdie het niks te make met die sogenaamde “bloedlynvloeke” waaroor mense so gaande is nie. Wees verseker: as jy dalk daarmee gekonfronteer word: dit is suiwer snert!

Wat vandag belangrik is, is om die vals boodskappers te herken en hulle dwaalleer te kan onderskei. Die Godslasterlike dinge wat die sogenaamde Nuwe Hervormers kwytraak, laat jou hare regop staan. ‘n Ander groep vals leraars wat besig is om baie veld te wen is die Jehovah’s Getuies, wat die Godheid van Jesus en die Heilige Gees vertrap. Dan is daar New Age, Christian Scientology en ‘n hele boel ander wat ‘n “alternatiewe Evangelie” verkondig.

Paulus stel dit baie duidelik: “Daar is NIE ‘n ander Evangelie nie!” (Gal. 1:7)

Maar dan besef Paulus dat dit dalk mag klink asof hy uit die hoogte met die mense praat omdat hy dalk 'n trappie hoër gestyg het in die lewe as hulle. Daardie gedagte moet hy stuit voordat iemand dalk 'n vinger kan wys. Dus voeg hy baie vinnig by: “Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer 'n dienskneg van Christus wees nie!

Ons durf nooit uit 'n verhewe posisie die Evangelie probeer oordra nie. Ons mag nie dink dat ons reeds daar aangekom het, en dat die arme ongelowige nog 'n ver pad het om te gaan voordat hy by my sal uitkom nie. Weereens moet ons baie deeglik besef dat dit slegs suiwer genade is dat ons is waar ons is! Paulus het die beste Godsgeleerdheid gehad wat geld kon koop. Maar hy was steeds totaal verlore totdat Jesus hom daar op die Damaskuspad kom red het.

Op dieselfde wyse kan ek ook die belangrikste teoloog wees, maar as ek nie in 'n verhouding staan met Jesus nie, dan is ek verlore. Dit is 'n wonderlike genade om in daardie verhouding met Hom te mag lewe. Ek moet myself elke dag knyp om séker te maak dat ek nie dalk droom nie, want ek het absoluut niks gedoen om sulke genade te kon verdien nie! Ja, ek probeer baie hard om reg te lewe (soms!) maar ek faal dikwels. En dit maak God se genade oor my nóg meer onbegryplik!

Gebed:

Here, ek bely vanoggend weereens dat U die enigste Weg is, en dat U die Een is wat my uit die poel van verderf gered het, suiwer uit genade. Dankie Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026