Handelinge 28:16-29
In die eerste hoofstuk van Handelinge (Hand 1:8) skryf Lukas dat Jesus vir Sy dissipels gesê het dat hulle krag sou ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en dat hulle Sy getuies regoor die wêreld sou wees. Dit is nou skaars dertig jaar na hierdie uitspraak van Jesus, en alreeds het die Evangelie die hele bekende wêreld bereik. Rome is die verste uithoek van die wêreld, en hier kom die groot sendeling, Paulus in Rome aan. Vir baie jare was hy op die voorpunt van die wêreldwye uitreikaksie, en deur sy ongekende visie en baie harde werk was hy die instrument om die Evangelie dwarsoor die Romeinse Ryk tot stand te bring. Nou is hy ook in Rome om die Evangelie hier in die hoofstad van die wêreld te laat weergalm.
Skaars drie dae na sy aankoms, nooi hy die Joodse leiers uit om met hom in gesprek te kom tree. Die eintlike doel van sy uitnodiging is om te probeer vasstel of die Jode in Rome daarop uit is om hom ook te vervolg soos die Jode van Jerusalem. Kortliks verduidelik Paulus waarom hy as Jood hier in Rome is om deur die keiser verhoor te word. Hy verséker hulle dat hy 'n lojale Jood is, en dat hy niks verkeerd gedoen het nie. Om die waarheid te sê, die Romeinse owerhede wou hom vrylaat, maar die Jode in Jerusalem het daarop aangedring dat hy veroordeel moes word. En sy enigste aanklag was dat hy vertel het van die Messias, die Een wat sou kom, soos alle Jode mos glo!
Paulus maak dit egter duidelik dat hy beslis nie in Rome is om 'n aanklag teen sy volk in te bring nie. Maar hy wil ook weet of die Jode van Rome enige korrespondensie van hulle kollegas in Jerusalem gehad het oor hom? Het daar enige klagte uit Jerusalem gekom wat hom sou veroordeel?
Die manne skud hulle koppe: Nee, niemand het 'n wóórd gerep nie! Hulle het niks gehoor wat hom énigsins in 'n slegte lig sou stel nie, alhoewel hulle bewus is daarvan dat die Jode oral ongelukkig is oor hierdie leer wat Paulus verkondig. Hulle sou graag uit sy eie mond wil hoor waaroor dit dan alles gaan.
Paulus se hart klop sommer 'n slag vinniger: hier kry hy alwéér sommer met die intrapslag die geleentheid om met sy Joodse broers te gesels oor die Evangelie. “Kom ons besluit op 'n datum, dan kom sien julle my. Ek sal julle met groot graagte alles vertel omtrent hierdie leer van Jesus!”
So gesê, so gedaan, en 'n paar dae later daag daar sommer 'n groot groep Jode op om te kom luister na wat Paulus te sê het. Vroeg daardie oggend pak hulle Paulus se huis vol met groot afwagting. En hulle word nie teleurgestel nie. As jy dalk nog steeds dink dat jou dominee se preke te lank is, dan moet jy beslis nie kla nie, want Paulus se preek duur van vroeg-oggend tot laataand, en die Jode hang stééds aan sy lippe!
Paulus verduidelik vir hulle breedvoerig uit die Woord van wat alles beteken. Hy verduidelik van die magdom profesieë wat almal presies nét so gebeur het soos wat Jesaja en al die ander profete voorspel het. Hy maak die wet van Moses vir hulle duidelik, soos wat hulle dit nog nooit voorheen gehoor het nie. In kort kom Paulus se boodskap daarop neer dat Jesus hierdie Messias is wat alles kom vervul het wat in die wet van Moses en die profete geskryf was.
Paulus praat sy hart uit, en die wonder gebeur dat 'n klompie van die Jode die lig sien en ook gelowig word. Maar nie almal is oortuig nie. Hulle skud hulle koppe. Die ou Joodse tradisies is té diep in hulle ingegrafeer om nou 'n verandering teweeg te bring.
Wanneer die Jode laataand op die punt staan om huistoe te gaan, haal Paulus vir oulaas vir die ongelowiges aan uit Jesaja 6:9-10 om hulle hopelose situasie in woorde uit te druk. Hy stel dit vir hulle dat hulle presies is nes die mense aan wie Jesaja geskryf het, want hulle sintuie is afgestomp. Hulle bly onaangeraak deur God se boodskap omdat hulle nie wil hoor nie, en hulle lewe kan dus nie vernuwe word nie.
Maar dan deel Paulus hulle mee dat hulle ongehoorsaamheid aan God beslis nie die einde van die pad is vir die Evangelie nie. Dit sal beslis nie die blye boodskap aan bande lê nie, want as die volk van God nie wil luister nie, sal God se boodskap van verlossing weergalm in die wêreld van die heidene. Hierdie boodskap behoort nie eksklusief aan die Jode nie! En nou moet die Jode van Rome hoor dat God se reddingsplan vir alle mense is.
Wanneer Lukas berig oor hierdie gebeurtenis, dan wil hy dit baie duidelik stel dat die kerk, die mense wat Jesus in geloof aangeneem het, die nuwe Israel is, maak nie saak wat hulle nasionaliteit of ras of kulturele agtergrond is nie. Ek en jy, die gelowiges is die nuwe Israel!
Ons het gekom by die laaste verse van Handelinge. Maar is dit waar die verhaal van Paulus eindig? Baie beslis nie. Lukas berig dat hy nog vir 'n verdere twee jaar in die tronk in Rome was. En daar het baie dinge gebeur! Maar daaroor lees ons DV more!
Gebed:
Here, dankie dat ek ook vandag deel kan wees van die nuwe Israel, van U uitverkore volk!