Handelinge 23:12-35
'n Klompie beswaarde manne is bymekaar, veertig van hulle. “Hierdie Paulus is besig om 'n bespotting van ons Jode te maak!” tier een kêrel heftig ontstoke.
“Ja,” brom 'n ander, “maar wat kan ons teen hom doen? Daardie Romeinse bevelvoerder beskerm hom en ons kan nie naby hom kom nie!”
“En as hy voor die Raad gedaag word, dan maak hy verder moeilikheid tussen die manne. Kyk nou maar net watter chaos het hy nou die dag in die Raadsvergadering veroorsaak! Nee, hy is so slim soos die houtjie van die galg!”
Een kêrel staan stadig op: “Manne, daar is net één uitweg: ons moet permanent van hom ontslae raak!”
“Jy bedoel dat ons hom moet vermoor?”
Hierdie klomp is Selote, fanatiese Jode wat selfs tot geweld sal oorgaan om die Joodse geloof te beskerm. Die wet van Moses, die tempel en Godsdienstige reinheid moet ten alle koste gehandhaaf word, en niemand kom óóit in hulle pad nie - nie die Romeine nie en beslis ook nie iemand soos Paulus wat nou vir hulle 'n bedreiging geword het nie!
En só sit die manne tot in die vroeë oggendure en strategieë uitwerk presies hoe hulle Paulus in die hande gaan kry. Uiteindelik het hulle 'n onfeilbare plan. Absoluut níks kan skeefloop nie! En die manne neem saam 'n eed, dat nie een van hulle van nou af 'n krummeltjie oor hulle lippe sal neem voordat Paulus dood is nie. Dit behoort in elkgeval nie langer as 'n dag of twee te neem om hulle bose plan uit te voer nie. “Mag God ons vervloek as ons dit nie doen nie!” sê hulle vir mekaar.
Die volgende oggend gaan 'n afvaardiging met hulle plan na die ringkoppe, die priesterhoofde en die familiehoofde. “Ons het 'n briljante plan,” vertel hulle. “Ons het 'n dure eed afgelê om nie ons mond aan enige kos te sit voordat ons Paulus doodgemaak het nie!” Al wat die ringkoppe nou moet doen is om met Klaudius te gaan gesels en hom te oorreed om weer vir Paulus voor die raad te bring sodat hulle die saak noukeuriger kan ondersoek. “Ons sal hom voorlê, en wanneer hy op pad is hierheen sal ons toeslaan en hom vermoor.”
Die manne is sommer dadelik ingenome met die idee. Hulle is lús vir Paulus, want hy het 'n bespotting van hulle gemaak!
Maar hulle het nie rekening gehou met God nie. Hy beskik dat die verkeerde persoon (dis nou vir húlle!) te hore kom van hierdie bose komplot. Paulus se suster woon in Jerusalem. Wanneer haar seun baie vertroulik by een van sy maats verneem van die komplot, is hy baie bekommerd oor sy Oom Paulus. Stilletjies sluip hy na die kaserne sonder dat een van die Selote hom opmerk, en dan gaan deel hy die ontstellende nuus aan Paulus mee. “Wat gaan ons maak, Oom Paulus? Hulle gaan jou doodmaak!” Die mannetjie is bitter bekommerd.
“Aag toemaar, dit is gladnie so ernstig nie,” lag Paulus, “hulle wou my al baiekeer doodmaak. Hulle sal dit ook nie hierdie keer regkry nie, want ek het 'n belofte van die Here gekry dat Hy my na Rome gaan stuur. Hy sal my weer red soos wat Hy al sóveel keer gedoen het.”
Dan vat Paulus die jongman aan die arm: “Sal jy my 'n guns doen? Gaan vertel vir bevelvoerder Klaudius wat jy gehoor het.”
Die seun skrik hom yskoud by die blote gedagte aan hierdie hoë offisier. Maar dan roep Paulus een van die kapteins nader: “Neem asseblief hierdie jongman na julle bevelvoerder, hy het 'n dringende boodskap vir hom.”
Die kaptein maak so, en dan kom die seun met die hele sak patats vorendag en vertel vir Klaudius van die komplot. “Bly asseblief doodstil hieroor,” sê Klaudius vir hom, “moenie vir enigiemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.”
Klaudius besef dat hy baie vinnig sal moet spring as hy Paulus uit hierdie gemors wil red. Hy laat roep sommer dadelik twee van sy centurions en gee opdrag dat Paulus onmiddellik onder swaar bewaking na die goewerneur in Sesarea geneem moet word. Só belangrik is Paulus se lewe vir hom, dat hy die helfte van sy weermag, 470 man, stuur om Paulus veilig te hou.
Opgewonde kom die kaptein by Paulus aan: “Maak reg, ons vertrek nege-uur vanaand.”
En die bevelvoerder skryf: “Van Klaudius Lisias. Aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete.”
In sy brief beskryf hy in groot detail van Paulus, en dat sy mening is dat Paulus onskuldig is en dat hy beslis nie die doodstraf of selfs tronkstraf verdien nie. Die Joodse Raad moet nou maar na Sesarea gaan om hulle hofsaak teen Paulus te gaan voer. In sy brief vermeld hy egter nêrens dat Paulus 'n Romeinse burger is nie, en nog minder vertel hy van sy groot blaps dat hy so ampertjies vir Paulus laat gésel het.
Wanneer die Here 'n doel met jou lewe het, sal Hy nie toelaat dat énigiets of iemand in jou pad staan nie. Vertrou net op Hom – Hy sal voorsien, dikwels uit die mees onverwagse oord!
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag my hele lewe in U bekwame hande kan gee, met die wete dat U in volle beheer is!