Op die Rooi Tapyt

30 June, 2026

Handelinge 22:22-23:5

Die skare is woedend wanneer Paulus vertel dat hy deur God geroep is om die Evangelie aan die heidene te gaan bring en hulle gil: “Weg met hom! Weg met hom!” Baie van hulle pluk hulle klere uit om daardeur te wys dat hulle nou gereed maak om hom onder die klippe te steek. Hulle gryp stof en gooi dit in die lug op om hulle bittere misnoë te kenne te gee. Hiermee wil hulle dit ook duidelik maak dat hulle nie Paulus se “Godslastering” oor hulle wil laat kom nie!

Die bevelvoerder sien dat hier 'n baie lelike ding kom, en dan gryp hy in om die saak te beredder. Haastig vat hulle vir Paulus in die kaserne in. “Gésel hom, dan sal ons uitvind wat hy werklik gedoen het!” beveel hy sy soldate. 'n Goeie dosis lyfstraf sal die belhamel beslis aan die praat kry! Omdat Paulus die skare in Aramees toegespreek het, het hy nie verstaan waaroor die hele ding gaan nie, en hoekom die mense hom dan wou doodhê nie.

Die manne gehoorsaam en hulle bind vir Paulus aan 'n paal vas. Dit sou nie die eerste keer wees wat Paulus hierdie wrede straf sou deurmaak nie, en hy weet presíés watter nagmerrie op hom wag. Dan draai Paulus ewe kalm na die kaptein: “Sê my, mag julle 'n Romeinse burger gésel? En dít nogal boonop sonder 'n verhoor?”

Die man skrik hom spierwit! As hulle vandag vir Paulus gésel, is hulle kniediep in die sop, want hy het die Romeinse reg aan sy kant. “Wat gaan u doen?” vra hy verskrik vir die bevelvoerder, “Hierdie man is 'n Romeinse burger!”

“Sê my, is jy 'n Romeinse burger?” vra die bevelvoerder vir Paulus. Hy wil dóódseker maak dat hulle nie vandag hier 'n gruwelike fout begaan nie. As Paulus bevestigend antwoord, vertel hy vir Paulus dat hy sélf Romeinse burgerskap het, maar dat hy 'n klomp geld moes betaal vir daardie voorreg.

“Ek het dit deur geboorte gekry,” deel Paulus hom mee.

Nou het die offisier sommer gróót respek vir Paulus: “Maak hom los! Toe, góú!” skree hy vir die verskrikte soldate. Hy besef dat hy eintlik al klaar in die moeilikheid is nét omdat hy vir Paulus laat boei het. Nou moet hy báie versigtig wees hoe hy die saak verder gaan hanteer. As Paulus maar net 'n gewone Jood was, kon hy hom verinneweer nés hy wou. Maar 'n Romeinse burger is 'n bevoorregte mens. Aan hom mag jy nie raak sonder baie goeie rede nie! Hy ril as hy dink wat die gevolge sou wees as hy voortgegaan het en Paulus laat gésel het. Dit sou die einde van sy loopbaan beteken het, en dalk nog baie erger. Hy wil nie eers daaraan dink nie!

Die volgende dag roep die bevelvoerder, Klaudius Lisius, die Joodse Raad en priesterhoofde bymekaar. Hy wil agter die kap van die byl kom. Hy wil nou weet waarom hierdie gesiene manne dan so giftig is teenoor Paulus. Wat het hy so verskriklik verkeerd gedoen?

Wanneer almal bymekaar is, bring hy vir Paulus in. Vreesloos kyk Paulus die klomp nors gesigte vierkant in die oë: “Broers, ek het heeltemal 'n skoon gewete oor hoe ek tot vandag toe my lewe in diens van God gelei het.”

Annanias, die hoëpriester is sommer dadelik woedend. Hoe kan hy nog sê dat sy gewete skoon is na alles? “Slaan hom op sy mond!” skree hy vir een van sy onderdaniges.

Annanias was 'n berugte figuur, gierig en gewelddadig en boonop was hy baie danig met die Romeine. Hieroor is hy uiteindelik in 66nC vermoor deur Joodse nasionaliste.

“God sal jou slaan, jou skynheilige witgeverfde graf!” snou Paulus hom toe wanneer die vuishou hom vol in die gesig tref. “Jy sit hier om my volgens ons wet te verhoor, en dan handel jy sélf teen die wet deur my te laat slaan!” Die wet is baie duidelik dat jy nie iemand mag slaan voordat hy nie skuldig bevind is nie.

Die mense is geskok oor Paulus se heftige reaksie: “Skel jy die hoëpriester van God uit?”

Vir 'n oomblik is Paulus uit die veld geslaan. Hy het nie besef dat Annanias die hoëpriester is nie, en dan vra hy dadelik om verskoning, en hy voeg by dat 'n mens respek moet hê vir jou volksleiers.

Paulus kan sy tong afbyt oor sy uitbarsting, want hiermee het hy nou ál sy kanse om die Raad se goedgesindheid te wen, verbrou. Nou sal hy blitsvinnig 'n nuwe strategie moet uitdink as hy sy eie bas wil red.

As gelowiges moet ons te alle tye ons liefde uitleef, selfs wanneer ons vervolg word. Dit beteken egter nie dat ons nou maar 'n vloermat moet word en gelate toelaat dat almal op ons trap nie! Gelowiges het óók regte nés al die ander mense, en ons mag nie toelaat dat ons regte van ons ontneem word nie.

Moet jy dit maar net aanvaar as jou werkgewer jou soos ‘n vloerlap behandel? Nee beslis nie! Jou optrede teen hierdie buffel moet egter voldoen aan die voorskrifte van die Bybel. Paulus het baie slim van sy regte gebruik gemaak. Ons moet dieselfde doen!

Gebed:

Here, dankie dat ek die reg aan my kant het. Gee my asseblief die wysheid om dit met vrug te gebruik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026