Opdrag van die Meester

27 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Opdrag van die Meester

Lukas 22:7-13

Gestel jy loop in die straat af, aktetas in die hand, en twee wildvreemde mans kom reguit na jou aangestap. Jy wonder nog wie hulle is: Is hulle dalk Jehovah's Getuies wat aan jou ‘n tydskrif wil kom afsmeer? “Nee dankie, ek stel nie belang nie!” begin jy al klaar oefen vir die ontmoetingsoomblik, want jy sien sommer dat hulle op jou en jou alleen gefokus is. As hulle by jou kom, groet hulle vriendelik, so asof hulle jou al jare ken, en jy begin baie ongemaklik raak. Waarheen gaan hierdie manne die gesprek stuur? Maar hulle kom baie gou tot die punt: “Meneer, waar is die plek waar ons vanaand Nagmaal kan vier? Ons Meester het ons na jou gestuur.”

Jou mond val onbeheersd oop: “Maar...... maar waar ken julle Meester my vandaan? Julle is totale vreemdelinge vir my. Hoe weet julle in elkgeval dat ek so ‘n plek het?” Jou gedagtes is verward: wie is hierdie manne? Wat weet hulle van jou af? En wie is hulle Meester?

Ek kan my voorstel hoe die man moes gevoel het wat so trompop deur Petrus en Johannes gevra is vir plek waar hulle die Paasmaaltyd kon gaan eet. Jesus het hulle baie spesifieke opdragte gegee om uit te kyk vir ‘n man wat ‘n kruik dra, en toe hulle hom sien, toe weet hulle sommer. “Ons Leermeester wil weet waar die kamer is wat ons kan gebruik vanaand. Ons wil daar ons Paasmaaltyd gaan eet.” Ek dink dat die kêrel so uit die veld geslaan is, dat hy nie eers probeer teëstribbel het nie. Wat het hy gedink?

Die vraag kom by my op: Wat sou gebeur het as die man geweier het? Dink net aan die katastrofiese gevolge: Alles was presies bestem deur God dat Jesus daardie aand saam met Sy dissipels nagmaal moes vier, want daardie selfde nag nog moes Jesus uitgelewer word. Dit was die enigste en laaste geleentheid wat hulle gehad het, en die horlosie van God se raadsplan het die sekondes afgetik.

Ek en jy kry dikwels opdragte van die Here af. My opdrag was om hierdie dagstukkie te skryf. Dit het beteken dat ek moeite moes doen. Ek moes myself met moeite uit die kooi sleep. O, om net nog ‘n uurtjie of wat te kon geslaap het! “Ag, niemand sal tog ‘n dagstukkie mis as ek nie vandag een stuur nie,” flits deur my gedagtes.

Iemand het vandag jou dagstukkie nodig!” fluister die Heilige Gees saggies, onhoorbaar vir my.

Ek gaan sit voor die rekenaar: “Here, ek weet nou rêrag nie wat om vanoggend te skryf nie. Waar moet ek begin? Watter boodskap moet ek uitstuur? Lees die mense ooit die goed wat ek stuur?”

En dan kom daardie onbeskryflike bewuswording van die heilige teenwoordigheid van God, en ek weet dat ek maar net moet begin skryf, want Hy sal die woorde in my gedagtes lê. Al wat Hy van my vra is my gewilligheid om die opdrag uit te voer. Ek hoef my nie te bekommer oor wie die dagstukkie gaan lees, en wie nie. So dikwels wonder ek oor ‘n sekere dagstukkie, en of daardie boodskap ooit vir enigiemand iets sou beteken, en dan kry ek ‘n brief waarin iemand my bedank, want sy het daardie presiese boodskap juis op daardie oomblik so bitter nodig gehad.

Die groot vraag wat ek al dikwels gevra is, is: “Hoe weet ek as die Here met my praat? Hoe weet ek dat Hy besig is om my ‘n opdrag te gee?” Hierdie vraag het nie ‘n maklike antwoord nie. Iemand het ‘n ruk gelede vir my gesê dat sy graag die Here se stem hoorbaar wil ervaar. Dit is ongelukkig nie hoe die Here werk nie. Ja, Hy het al hoorbaar met mense gepraat, maar dit is slegs by uiters uitsonderlike gevalle. Die feit is dat die Here op baie verskillende maniere met jou kan praat. Jy sit miskien in die kerk, en dan weet jy net dat hierdie boodskap vandag presies net vir jou is, en dat die Here baie duidelik met jou persoonlik praat deur die prediker. Dit gebeur dat jy besig is met jou elke dag se stiltetyd, en dan skielik is dit asof die woorde uit die Bybel vir jou uitspring, en jy wéét! Dit kan gebeur dat vriende, of dalk selfs ‘n wildvreemde persoon, vir jou iets sê, en dan wéét jy dat hierdie woorde van die Here kom.

Die man wat die kruik gedra het in Jerusalem, het net geweet dat hy nie die opdrag van die twee vreemde manne durf ignoreer nie, en hy het gedoen wat hulle gevra het. Ek en jy durf ook nie die opdragte wat ons van die Here kry ignoreer nie, al klink hulle soms vir ons baie vreemd, en al kan ons nie altyd die sin daarvan insien nie.

Ons moet net onthou dat die Bybel nie ‘n soort “towerboek” is wat jy kan oopslaan en ‘n opdrag van God kry nie. Dit werk ook nie om die Bybel te begin deurblaai en naarstigtelik te soek vir ‘n boodskap van God af nie. Die antwoord is om naby Hom te leef en net geduldig te wees. Op die mees verrassende tyd en manier praat Hy dikwels met jou, en dan moet jy gereed wees om te luister, te hoor en te doen.

Gebed:

Here, maak my asseblief sensitief sodat ek U stem sal herken wanneer U met my praat, en maak my gewillig om U opdragte blymoedig uit te voer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026