Op pad na Getsemane

25 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Op pad na Getsemane

Markus 14: 26-33

VIDEO * OUDIO

Na die ontstellende Paasmaal sing hulle ‘n lofsang. Daar is egter géén lof in vir Petrus nie, dit voel eerder na ‘n begrafnislied! Binne-in hom kóók dit! Ja, dit kan maar nét Judas wees wat vir Jesus gaan verraai, so ’n addergebroedsel!

Hulle pak op en vertrek om slaapplek te gaan soek vir die nag. Hulle het ’n lekker plekkie ontdek teen die hange van die Olyfberg in die tuin van Getsemane. Hier het hulle al ’n paar keer kom slaap. Die twaalf het al gewoond geraak om sommer iewers in die veld slaapplek te maak, sommer so op die harde grond. Terwyl hulle die voetpaadjie volg in die donker deur die Kidronvallei, is Jesus die eerste wat die ondraaglike stilte verbreek. Maar Sy woorde sny soos ’n mes deur Petrus: “Julle sal almal afvallig raak.” In die donker probeer Petrus Jesus se gesig sien – hy kan nie glo wat hy hoor nie! Jesus gaan egter ongestoord voort: “Daar staan geskryf: ‘Ek sal die herder neervel, en die skape sal uitmekaar gejaag word’.”

Petrus wil sy ore toedruk. “Nee! Dit kan nie!” wil hy skreeu. Hoe kan die Meester se getroue volgelinge ophou glo? Natuurlik sal hulle saamstaan!

In sy verbeelding sien hy ’n trop skape saam met hulle herder loop, en dan skielik spring ’n leeu uit die ruigtes en verskeur die herder. Verslae sien hy in sy geestesoog hoe die skape in alle rigtings uitmekaar spat en wegraak. Is dit wat die Meester bedoel? Sal hulle twaalf so uitmekaar spat soos herderlose skape? Hy skud sy kop heftig om van die prentjie ontslae te probeer raak.

Petrus is só ontsteld dat hy nie eers hoor nie as Jesus sê: “Nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.”

Eers baie later sou hy dáárdie trooswoorde onthou. Eers tóé kon Petrus met 'n glimlag terugdink aan daardie aand. Hoe groot, hoe oneindig groot is God se genade nie! Al sou Sy dissipels Hom totaal in die steek laat - Hy sal húlle nooit óóit in die steek laat nie! Ja, as Petrus terugdink, besef hy dat Jesus daardie eensame paadjie sonder Sy vriende alleen móés stap. Na die opstanding sou Hy weereens met hulle 'n verhouding aanknoop en die ganse mooi verhouding herstel. Ja, eers tóé het Petrus besef dat Jesus waarlik die langverwagte Herder is wat Sy skape vir altyd liefderyk sou versorg!

Maar nou is Petrus eers besig om die grootste krisis óóit in sy lewe te probeer verwerk. Hoe kan die Meester hulle so verskriklik beskuldig? Hy, Petrus sal mos nóóit toelaat dat so ’n verskriklike ding gebeur nie! “Meester, al sou hulle almal struikel, ek, Petrus sal dit nooit in der ewigheid doen nie!” Petrus is bitter omgekrap. Wat dink die Meester dan van hom? Hy het nie ’n bang haar op sy kop nie! Hy sal deur dik en dun by die Meester staan, maak nie saak wát gebeur nie!

Die volgende oomblik sny Jesus se woorde deur sy siel, “Petrus, Ek sê vir jou: Jy sal vandag, vannag nog, voor die haan twee maal kraai, My drie maal verloën.”

Petrus wil huil! Hoe kan die Meester so ’n verskriklike ding van hom sê? “Nee! Nee! Nee!” skreeu dit deur sy verwarde gemoed. “Meester…..” Petrus se stem bewe van aandoening. “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!”

“Ja, ja,” beaam al die ander. “Ons sal as één man saamstaan, en al moet ons ook sterwe, ons sal elke oomblik by U bly en U bystaan tot die end!”

Daar word nie baie gepraat op die steil paadjie teen die Olyfberg uit nie. Die manne is moeg, dit was ’n bitter lang, harde en emosioneel-uitmergelende dag. Wanneer hulle by hulle slaapplekkie in Getsemane aankom, val die manne dankbaar op die grond neer. Maar steeds is Jesus nie klaar vir die dag nie: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hulle brom. Hulle is moeg en vaak en nou wil die Meester eers weer gaan bid! En hulle moet wakker bly? Hoe kan Hy dit van hulle verwag?

“Petrus, kom jy, Jakobus en Johannes asseblief saam met My.” Die manne sug swaar, maar hulle stap saam. ’n Entjie van die ander af, gee Jesus hulle ‘n klein kykie in Sy verskriklike worsteling: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe.”

Die drie manne saam met Hom is nie alleen die leiers in die groep nie, maar al drie het al per geleentheid bevestig dat hulle absoluut getrou aan Jesus sou wees. Twee weke tevore het Jakobus en Johannes nog gesê dat hulle bereid sou wees om die lydensbeker van Jesus saam met Hom te drink, en vroeër die aand nog het Petrus klem gelê daarop dat hy nooit óóit vir Jesus sou verloën nie. Maar is hulle werklik in staat om hulle trou uit te leef? Nou is die tyd om dit te bewys!

“Bly hier en waak.”

Sal hulle ooit wakker kan bly? Sal hulle kan vasstaan terwyl hulle Meester in gebed worstel? Sal hulle Hom werklik volg tot die einde? More lees ons verder.

Gebed:

Here, as ek sien hoe die Apostels opgetree het, dan besef ek dat hulle verkeerd was. Maar dan besef ek ook dat my eie lewe dikwels net soos dié van die dissipels lyk. Vergewe asseblief Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026