Oordeel oor Babel

29 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Oordeel oor Babel

Jesaja 13 en 14

Ons het die eerste hoofdeel van Jesaja afgehandel. Hoofstukke 1 tot 12 handel oor uitsprake oor Juda en Israel. Die volgende hoofdeel, van Jesaja 13 tot 23 handel oor uitsprake oor die ander nasies. Nie alleen staan die volk van God onder God se heerskappy nie. Hy heers oor die ganse wêreld, van klein, nietige volkies tot magtige wêreldryke.

In die volgende tien hoofstukke word die volke, klein en groot, een-vir-een onder God se vergrootglas geplaas. Nou kan ons baie maklik sê dat daardie antieke volke tog absoluut niks vandag met my te doen het nie. Wat traak dit my wat hulle meer as tweeduisend jaar gelede aangevang het?

Ons mag egter nooit vergeet dat die Bybel die lewende Woord van God is. Dit is vandag steeds nét so relevant as toe Jesaja destyds die gedagtes neergepen het. Jesaja praat vandag met die mense aan die stuur van sake, die regeerders. Maar ook met jou en my, die man op die straat. Sy boodskap raak elkeen van ons op die een of ander manier.

In hoofstuk 13 en 14 kom die grootste vyand van die volk van God, Babel onder die vergrootglas. Jy sal onthou dat Johannes in Openbaring die naam Babel gegee het aan die slegste van die slegtes. G’n wonder nie, want dit was juis die Babiloniërs wat Jerusalem verwoes het, en saam daarmee die hart van die volk se geloof, die tempel.

Nou kondig God by monde van Jesaja die vernietiging van Babel aan. “Ek, die Here, het soldate in diens geneem, Ek het hulle ontbied om my oordeel te voltrek.” (v. 3). God neem 'n groot weermag in diens om Babel te verdelg. Op hierdie manier gryp Hy in in die wêreldgeskiedenis, wanneer Hy al die nasies laat saamspan teen Babel.

Net ter verduideliking, ons moet in gedagte hou dat die profeet Jesaja al hierdie uitsprake geskryf het nog lank voor die ballingskap aangebreek het. Eers sou Assirië die volk oorrompel, en baie lank na Jesaja se tyd sou die Babiloniërs aan bewind kom en weereens die volk verrinneweer. Hy skryf dus oor dinge wat lank na sy leeftyd eers sou plaasvind.

Vandag is die moderne Babilon dalk 'n land soos Noord Korea wat 'n skrikbewind voer. Of dalk die ou Kommunistiese Rusland voor die val van die ystergordyn. In Rusland kan ons duidelik die hand van God sien, waar die absolute onmoontlike plaasgevind het om die magtige, onoorwinlike kommunisme tot 'n val te bring. Dieselfde kan gebeur met die onaantasbare Noord Korea.

In hoofstuk 13 voorspel Jesaja dat die verwoesting van Babel totaal is. “Babel, die sieraad onder die koninkryke, die pronkstuk en trots van die Galdeërs, sal deur God verwoes word soos Sodom en Gomorra,” skryf hy in vers 19, en in vers 22 sê hy: “hiënas sal in die paleise huil, jakkalse in die huise waar feesgevier is.” Totale verwoesting! Elkeen wat nie met God rekening hou nie, is verdoem!

Maar die goeie nuus is dat die verwoesting van Babel die redding van Israel beteken. Jesaja 14:1: “Die Here sal Hom ontferm oor Jakob, Hy sal Israel weer sy volk maak en hulle weer in hulle eie land laat woon.

Toe Kommunistiese Rusland so dramaties geval het, het daar 'n groot gejuig opgegaan, want talle mense wat swaar gely het onder die Kommunistiese verdrukking, is bevry. Jy sal seker die vreugde onthou toe die Berlynse muur geval het, en families vir die eerste keer in baie jare mekaar weer kon omhels. Die trane van blydskap het gevloei. Die vreugdevure het wêreldwyd hoog gebrand. Maar seker die grootste vreugde was dat Rusland, wat al die jare die Evangelie met die ystergordyn buite gehou het, skielik wawyd oop was vir die blye boodskap van die Evangelie. Uiteindelik kon die kerk weer blom sonder die ystervuis van verdrukking. “Die hele aarde het nou rus en vrede, sy inwoners juig en sing.” (Jes. 14:7).

Na Babel, kom ook Assirië aan die beurt. “Die juk wat op my volk gedruk het, sal weggevat word, die las wat Assirië hulle laat dra het, sal verwyder word.” (Vers 25). Alhoewel die Here hulle toegelaat het om die volk te vertrap, staan hulle steeds skuldig, so het ons reeds gesien. Daarom volg God se oordeel ook oor hulle.

Niemand wat God se volk vertrap, kom skotvry daarvan af nie. Selfs die Filistyne, wat desperaat 'n koalisie met Juda gesoek het, word deur God se oordeel getref, alhoewel hulle self ook onder die Assiriërs deurgeloop het. Maar “Julle Filistyne moenie almal so bly wees dat die stok waarmee julle geslaan is, verbreek is nie, want in die plek van die een slang kom 'n giftiger een.

God is regverdig. Ons moenie bekommerd wees oor die onreg nie, God sal op Sy tyd ingryp!

Gebed:

Dankie dat U 'n regverdige en liefdevolle God is, Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026