Ontmoet Jesus!

31 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ontmoet Jesus!

Inleiding

VIDEO OUDIO

Wie is God? Hierdie is ‘n kwelvraag op mense se lippe, selfs ook baie gelowiges! Vir tieners is dit veraln baie aktuele en terselfdertyd ook verwarrende vraag. Verby is die dae toe almal saam met jou op skool Christene was en dalk saam met jou in die Sondagskoolklas gesit het. Vandag maak kinders kennis met 'n warboel verskillende godsdienste. Hulle maats is dikwels Moslems, Hindoes en aanhangers van die tradisionele Afrika-godsdiens. Baie is selfs kerkloos of godsdiensloos. Watter een van al hierdie magdom van gode is die regte een? Is daar ooit ‘n God?

Mense soek op verskillende plekke na God om hierdie antwoord te bevredig. Sommige soek Hom in die natuur, ander weer in die kleurvolle beelde van die Hindoe-geloof, die een of ander misterieuse Oosterse geloof of selfs Satanisme. Dan is daar diegene wat na ‘n intensiewe soektog tot die slotsom kom dat daar gladnie ‘n God is nie!

'n Paar jaar gelede isn pastoor hof toe gesleep oor ‘n “diskriminerende” advertensiebord wat hy langs die pad laat oprig het. Daarop het gestaan: “The fool says in his heart: There is no God.Die klaer wou weet: Is ons Ateïste dan onnosele gekke?”

As ons uitgekom het by die ware antwoord oor wie God is, is die tweede baie belangrike vraag: Nou wie is Jesus dan? En daarop gee Johannes sommer in die heel eerste verse ‘n baie duidelike antwoord. Vir sommige mense is sy antwoord heeltemal té duidelik. Dit laat hulle ongemaklik voel. Só ongemaklik voel die Jehovah's Getuies daaroor dat hulle die Bybel verander het om by hulle siening te pas. Hulle beweer dat Jesus nie God is nie maar slegs ‘n god of 'n goddelike wese! Amper ‘n soort verhewe engel.

Johannes wil jou egter nie alleen vertel wie Jesus is nie. Hy wil jou ook aan Hom bekendstel. Hy wil jou na Jesus toe neem sodat jy Hom persoonlik kan ontmoet en leer ken. As jy dalk nog sou huiwer oor daardie ontmoeting, dan vertel Johannes jou presies waarom dit so dóód-noodsaaklik is dat jy daardie ontmoeting wél beleef. In die baie bekende gesprek tussen Jesus en Nikodemus in hoofstuk 3, sien ons duidelik dat as jy nie vir Jesus wil ontmoet nie, jy die oordeel van God beslis nie sal vryspring nie. Jesus is die enigste waarborg vir ‘n ewige lewe.

Dalk moet ons ook die vraag vra: “Wie was hierdie man, Johannes, dat hy met soveel gesag kon skryf oor God en Jesus?”

Johannes het sy kennis van Jesus op ‘n baie persoonlike vlak opgedoen. Hy het die benydenswaardige voorreg gehad om as 'n jong man vir drie volle jaar lank elke dag saam met Jesus te wees en Sy teenwoordigheid te ervaar. Met sy eie oë het hy die talle wonderwerke gesien wat Jesus gedoen het. Hy was by toe Jesus die siekes genees het en dooies weer lewe gegee het. Hy het gehelp om die kos uit te deel aan die skare van 5000 wat Jesus gevoed het met ‘n handvol vissies en broodjies. Maar belangriker nog, kon hy die wonderlike liefde ervaar wat uit Jesus gestraal het. Hy kon eerstehands, prakties leer wat dit beteken om jou liefde uit te leef. Johannes was een van Jesus se dissipels, die “geliefde dissipel.” Hy was een van die twaalf uitgestuurdes of Apostels wat die taak gehad het ná Jesus se hemelvaart om die Evangelie aan al die nasies uit te dra.

n Baie interessante vraag is: “Hoe het dit gekom dat Johannes die boek geskryf het?” Baie mense dink dat Johannes een mooi dag onder ‘n boom gaan sit en begin skryf het. Nee, dit is nie hoe dit gebeur het nie. Oor ‘n lang tydperk het Johannes vir die gemeente vertel van al die dinge wat gebeur het. Die wonderlike woorde van Jesus het kraakvars in sy geheue gebly, en baie van die gesprekke kon hy letterlik seker woord-vir-woord onthou. Dit was ‘n tydperk in sy lewe wat ‘n baie groot indruk op hom gemaak het. Soos wat verskillende situasies in die gemeente opgeduik het, het hy antwoorde gaan soek in die dinge wat Jesus gesê en gedoen het, net soos wat ek dikwels ook staaltjies gaan opdiep uit my kinderdae om sekere geloofswaarhede te illustreer. Uiteindelik, baie jare later, het hy hierdie dinge begin neerskryf, en eers omtrent 60 jaar na Jesus se kruisiging is die Evangelie finaal volledig op skrif gestel.

Een van die talle beelde wat Johannes so meesterlik gebruik in hierdie boek, is die beeld van lig wat in die duisternis skyn en die duister verdryf. Hierdie is so ‘n gepaste gedagte, want vir baie ongelowiges is die wêreld waarlik ‘n plek van duisternis. Iemand wat die waarheid soek, tas gewoonlik in die pikdonker rond sonder om die antwoord te kan kry. Jesus is die ware Lig wat in hierdie duisternis skyn en die donker verdryf. Hy is die énigste ware Lig! En daarom is die Johannes-Evangelie so ‘n besonderse Boek om vir iemand te gee wat soekend is. Dit is die ganse Evangelie in ‘n neutedop.

Kom, gordel vas vir ‘n reis saam met my uit die duister na die Lig wat helder skyn!

Gebed:

Here, U is die enigste ware Lig! Ek aanbid U, en bring aan U al die eer. Dankie vir ‘n Johannes wat gehoorsaam was en hierdie wonderlike Evangelie geskryf het sodat baie mense van die Lig kan leer.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026