Ons wil ‘n Koning Hê!

27 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ons wil ‘n Koning Hê!

1 Samuel 8-15

VIDEO | OUDIO

Die verhaal van Dawid begin met die slag van Jerigo, enkele dae nadat die Israeliete die Jordaanrivier vir die eerste keer oorgesteek het. Ragab, die Kanaänitiese prostituut wat die verspieders gehelp het, is gespaar toe die mure ingetuimel het en sy deel geword het van God se volk. Salmon het met haar getrou. Hulle seun Boas het met die Moabitiese vrou, Rut getrou en hulle het ‘n seun met die naam Obed in die wêreld gebring. Sy seun Isai was die vader van Dawid.

Maar wag, kom ons begin héél voor. Nadat die Israeliete die land Kanaän beset het, was daar aan elke stam ‘n grondgebied toegeken. Hierdie stamme het vir ‘n honderd jaar lank só onafhanklik van mekaar gefunksioneer onder die leiding van rigters. Hulle het in der waarheid ‘n Teokratiese regering gehad - dit wil sê, hulle is deur God regeer. En dit het met hulle goed gegaan solank hulle nie van die Here weggedwaal het nie!

Uiteindelik begin daar ‘n idee by die mense posvat om soos die ander volke rondom hulle ook ‘n koning te hê. ‘n Mens moet mos in pas wees met jou bure! En net dáár begin die moeilikheid.

Die volksleiers het die profeet Samuel gaan spreek. Hy het as Godsdienstige leier ook die leisels van die volk stewig in sy hande gehad. Soos ons natuurlik weet, het Samuel baie nou in voeling met God geleef en dus het hy goed geweet hoe om die volk te regeer. Hy het slegs gedoen wat God beveel het! Ongelukkig was dieselfde nie waar van sy twee seuns wat as rigters aangestel was nie! Vir die Israeliete was die situasie egter net nie meer goed genoeg nie - hulle wóú ‘n koning hê! Samuel was oor hierdie versoek van hulle bitter ongelukkig en hy het verwerp gevoel. Maar uiteindelik het hy tóg ingegee.

En so word die dertigjarige jong man Saul in die jaar 1049 vC op God se bevel aan Samuel gesalf as koning. Hierdie skaam man was baie aantreklik en het kop en skouers bo al die manne uitgestaan!

‘n Ruk later het Samuel die volk bymekaargeroep: “Julle wil ‘n koning hê - God het ingestem om julle ‘n koning te gee. Maar moenie by my kom kla as hy julle misbruik nie!”

Alhoewel Samuel toe alreeds geweet het wie die Here uitgekies het en hom selfs alreeds gesalf het, begin hy nogtans met ‘n proses van aanwysing. Die lot word gewerp, en dan val dit op die stam van Benjamin. ‘n Tweede keer word die lot gewerp, dié keer om te bepaal uit watter familie in Benjamin die koning sou kom, en die lot val op Kis. Een van sy seuns sou koning wees. Dan word Kis se seun Saul aangewys in ‘n regverdige proses en die mense was in ekstase oor hulle nuwe koning! Wel, nie álmal was gelukkig nie en sommige het ernstige bedenkinge oor Saul gehad. Nadat hy homself egter bewys het as ’n uitstekende leier tydens ’n geveg waar die Ammoniete deeglik verslaan was, word hy eenparig aanvaar.

Vir ’n klompie jare het dit baie goed gegaan en Saul het homself bewys as ’n uitstekende koning. Maar toe begin hy wankel. Sy gehoorsaamheid aan die Here het begin kwyn en hy het dinge begin doen wat teenstrydig was met wat die Here van hom as koning verwag het. In 1 Samuel 15:10 lees ons die ontstellende woorde van die Here aan Samuel: “Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.”

Natuurlik was Samuel bitterlik ontsteld, en dan gaan konfronteer hy vir Saul. Na ’n lang relaas sê hy vir Saul: “Jy het die Woord van die Here verwerp, en die Here het jóú verwerp as koning van Israel.”

Vir Samuel was dit ’n donker dag. Dan vra die Here hom: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul?  Maak ‘n horing vol olie - Ek wil jou stuur na Betlehem. Een van Isai se seuns wil Ek as koning hê oor Israel.”

Samuel was in die wolke, maar die blote gedagte aan wat Saul dalk aan hom kon doen as hy iemand anders sou gaan salf as koning, het hom die bewerasies gegee! Samuel was egter gehoorsaam en het presies gaan doen wat die Here hom gevra het om te doen.

Dan tree ‘n splinternuwe bedeling in werking vir die volk Israel. Voor dit egter kon gebeur, sou daar eers nog baie water in die see moes loop! Nou word die tafel egter reeds gedek vir ‘n gebeurtenis wat ‘n duisend jaar later die ganse geskiedenis van die wêreld sou verander!

Gebed:

Here, ek is vanoggend baie opgewonde as ek kan uitsien na die begin van ‘n wonderlike verhaal van U voorsiening in die geskiedenis van die mensdom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026