Ons Vader...

17 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ons Vader...

Lukas 11:1-4

VIDEO OUDIO

Jesus se volgelinge het Hom gedurig sien bid, en dit het hulle sékerlik geprikkel om óók so te kan bid. Toe een Hom vra om hulle ook asseblief te leer bid, het Hy hulle ‘n kort modelgebed geleer, ‘n raamwerk wat sou dien as basis vir ‘n gebed. Toe vertel Hy hulle ook ‘n gelykenis wat die waarde van gebed beklemtoon en hulle aanmoedig om te bid.

Oor die betekenis en die simboliek agter die “Ons Vader-gebed”, kan ons baie ure gesels. Ons kan dit beslis nie in een dagstukkie uitpraat nie. Maar wat presies wou Jesus vir hulle tuisbring?

Jesus begin die gebed deur God aan te spreek as Vader. Ons sien dat Jesus dieselfde aanspreekvorm gebruik in Luk 10:22 nadat die 72 teruggekeer het, en ook later in Luk 22:42 toe Hy in Getsemane geworstel het met God. “Vader” dui op ‘n intieme verhouding tussen Jesus en God en nou gee Hy Sy volgelinge die reg om óók so met God te mag praat. Hulle kry dus die reg om dieselfde intieme verhouding met God te mag hê. Dit beteken in werklikheid dat God nie alleen die verhewe Here is wat oor alles heers nie, maar dat Hy ook in sorgsame liefde soos ‘n Pa vir Sy kinders sorg. Met hierdie aanspreekvorm sê Jesus dan vir sy volgelinge dat hulle in ‘n sekere sin presies dieselfde status as Hy kry, om kinders van God te word.

Natuurlik is presies dieselfde vandag van toepassing op my en jou. God is ons liefdevolle Vader, en ons kan te enige tyd met Hom gesels in gebed. Is dit nie wonderlik nie!?

Die gebed bestaan uit vyf bedes, waarvan die eerste twee te doene het met die eer van God en die laaste drie met ons eie behoeftes wat ons voor Hom lê.

In die eerste bede vra ons dat die Vader se Naam geheilig of vereer word. Daarmee verklaar ek myself bereid om alles in my vermoë te doen om die Here se Naam te vereer en te heilig. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op my skouers. Wat beteken dit? Dat ek Hom wil leer ken soos Hy waarlik is. Dat ek moeite sal doen om Sy almag en die grootheid van Sy werke raak te sien en vir almal daarvan te vertel. Dat ek met alles wat in my is die Here sal loof en prys. Dat ek die katalisator sal wees om ander mense te inspireer om dieselfde te doen.

Met die tweede bede verklaar ek myself bereid om te alle tye te erken dat God regeer. Hy is in beheer! Ons het dit al so dikwels vir mekaar gesê deur hierdie dagstukkies. Die boek Daniël is maar één van baie wat jou net keer op keer laat besef dat Hy ten volle in beheer is, al lyk dit soms vir jou gladnie so nie. Met hierdie bede stel ek my volle vertroue op Hom en dan berus ek by gebeure buite my beheer.

In die derde bede verklaar ek my volle afhanklikheid van God. Dit is dikwels baie moeilik vir ‘n ryk persoon om hierdie bede eerlik te bid want alles is tog daar in oorvloed! Waarom moet ek dan nog die Here vra om te voorsien? Ja, Job het dalk ook so gedink, en in ‘n oogwink was alles weg. Kovid-19 het oornag van baie skatryk mense armes gemaak. Selfs al het jy in oorvloed, moet jy steeds jou afhanklikheid van Hom besef en erken. Alles wat jy het, het jy slegs deur Sy groot genade.

Die vierde bede gaan oor sondevergifnis. Daaroor kan ons letterlik boeke skryf! Oor die jare het talle mense my al met trane gevra of dit ooit moontlik is dat God hulle groot sondes kan vergewe. Natúúrlik! Lees maar wat ons Vader sê in Jesaja 1:18: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.” Rom 3:23 sê: “Almal het gesondig ...... maar hulle word sonder dat hulle dit verdien vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”

Daar is egter ‘n stertjie aan hierdie bede want ek verklaar plegtig voor die Here: “want ook ons vergeef elkeen wat teen ons skuldig staan.” Hierdie is die moeilike deel, want dit is nie altyd so maklik om iemand anders te vergewe nie. Dikwels loop gelowiges vir jare met ‘n wrok in die hart rond teenoor iemand wat hom te na gekom het. Hoe kan ek van God vra om my sonde, wat dik boeke beslaan, te vergewe as ek nie bereid is om iemand een enkele misstap teen my te vergewe nie? Om te vergewe beteken dat my hele houding teenoor daardie persoon moet normaliseer, en dat ek hom aanvaar as ‘n vriend.

Die laaste bede handel oor versoekings wat oor my pad kom. As ek die Here bid om my daarteen te beskerm, beteken dit dat ek dit aktief sal vermy. Die liedjie uit My Fair Lady lui: “The Lord above gave liquor for temptation, to see if man can keep away from sin. But with a little bit of luck, when temptation comes, you’ll step right in!” Die liedjie het ‘n totale wanpersepsie van versoeking. Ons moenie die versoekings gaan soek nie, ons moet júis van hulle af wegbly!

Kom ons kyk met nuwe oë na hierdie gebed, en gaan leef dit uit.

Gebed:

Vader, ek voel so klein wanneer ek hierdie gebed bid, want ek skiet so ver tekort in my eie uitlewing daarvan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026
Persecution
8 October, 2026
Sent Out
7 October, 2026