Ongesonde Kritiek

15 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ongesonde Kritiek

2 Korintiërs 12:11-21

VIDEO | SPOTIFY

Dit was die jaar 1933, vir duisende Suid-Afrikaners ’n blye dag toe die Bybel vir die heel eerste keer in ons moedertaal, Afrikaans gelees kon word. Nou kon ons die Woord lees in ’n taal wat ons verstaan. Hoog-Hollands is vir jare alreeds nie meer in Suid-Afrika gepraat nie, en veral die kinders het nie ’n woord verstaan as Pa of die dominee uit die Bybel lees nie. Maar een ou omie was met hierdie nuwe euwel beslis nie tevrede nie. Hy het gesit en broei en broei, en toe laat kom hy die dominee: “Dominis”, val hy sommer met die deur in die huis toe die predikantjie daar aanland, “As die Hollandse Bybel ál die jare vir Moses en die Profete goed genoeg was in Nederlands,” tier die oubaas dat die spoeg so spat, “dan is hy vandag nog steeds vir óns goed genoeg in Hollands!” Volgens hom was dit pure kettery dat die Bybel so “onteer” moes word!

Kritiek kan ‘n baie goeie ding wees, solank dit gesond en goed-deurdag is. Die groot probleem kom daarin dat dit ál te dikwels gebeur dat mense kritiseer sonder om na die hele prentjie te kyk, of hulleself van die ware feite vergewis. Ek dink ons is dalk almal tot ’n mindere of meerdere mate daaraan skuldig. Dit is soos om die Bybel te verwerp omdat daar teenstrydighede in is. Maar as jy dit doen, dan gaan jy jammerlik by die boodskap van die Bybel verby! Vat maar byvoorbeeld die verhaal van Jona - sommige mense verwerp dit as ’n blote storie, omdat daar dinge in die verhaal is wat nie sin maak nie, soos byvoorbeeld die tyd waarin die verhaal afspeel. Maar maak dit werklik saak of Jona werklik geleef het, en of hy ’n fiktiewe karakter was? Nee, dit is nie waaroor dit gaan nie. Wat werklik saakmaak is die sterk boodskap vir elkeen van ons vandag uit hierdie tydlose verhaal. En terloops, of jy met my saamstem of nie, ek glo dat die verhaal van Jona wél waar is tensy iemand baie duidelik die teendeel kan bewys! Natúúrlik is daar dinge in die Bybel wat vir ons teenstrydig lyk, en natúúrlik is daar goed wat ons gladnie verstaan nie. Maar die boodskap van God se genade, liefde en verlossing is die sentrale tema van die ganse Bybel, en dit is waaroor dit gaan. Vergeet van die dinge wat jy nie kan verstaan nie, eendag sal ons wél die antwoorde kry.

Wanneer jy die Woord van God verkondig, op watter wyse ookal, gaan daar mense wees wat ontevrede is met die manier waarop jy dit doen. Oor hierdie einste dagstukkies is ek al menigmaal uitgetrap. Slegs enkele maande nadat ek dit begin skryf het, het ek vir die eerste keer al my tone baie seer gestamp, toe ek iets gesê het wat iemand baie persoonlik opgeneem het. Ek het summier opdrag van ons leraar gekry om op te hou skryf om die vrede te bewaar, maar skaars ‘n week later het ’n koor van stemme begin opgaan om te vra na die skielike droogte, en ek kry die opdrag om weer voort te gaan ten spyte van die kritiek.

Lyk my Paulus was ook maar gedurig in die sop oor dinge wat hy gesê of gedoen het. Maak nie saak na watter kant toe hy geneig het nie, hy sou gekritiseer word. Die feit dat hy geen vergoeding gekry het vir sy werk in Korinte nie, het gemaak dat sommige mense dit bevraagteken het. Sou hy egter wél vergoeding gekry het, sou ander mense dit weer bevraagteken het. Paulus het egter nie geskroom om die probleme in die gemeente by die naam te noem nie. Hy het nie ‘n bang haar op sy kop gehad nie, maar híérdie goed het hom waarlik bang gemaak: Twis, naywer, onbeheersdheid, selfsug, kwaadpratery, nuusdraery, verwaandheid en wan-ordelikheid. Só ook onreinheid, ontug en losbandigheid. Hierdie lélike dinge waarvan hy in vers 20 skryf, het in die gemeente voorgekom, en dit het vir Paulus bitter bang gemaak. Weë die arme predikant wat dit vandag sou dúrf waag om sulke dinge van sy gemeente te sê. En tóg kom hierdie dinge daagliks binne in die kerk voor. Maar as jy daaroor gaan praat, dan is jy in die moeilikheid, want dan sê jy kwansuis lasterlike dinge van die gemeente!

Maar dis nie net die predikers wat gekritiseer word oor dinge wat hulle sê nie. Ek en jy, die gewone gelowiges, moet ook leer om die Woord onverskrokke uit te dra, en nie kleinserig te wees wanneer mense ons begin kritiseer nie. Kritiek en selfs verwerping is te wagte as jy ernstig is om die Evangelie uit te leef en daaroor te praat. Tydig en ontydig moet ons die Evangelie verkondig en die goeie Naam van God verdedig. In Paulus se tyd is mense selfs doodgemaak en wreed gemartel as hulle dit sou doen, maar hulle het steeds voortgegaan en onverskrokke hulle geloof uitgeleef.

In sekere dele van die wêreld is dit selfs vandag nog ook nie anders nie, en mense word wreed vervolg vir hulle geloof. Ek en jy het dit baie maklik, en die klein bietjie opoffering wat ons moet maak is maar gering. Moenie bang wees nie! Praat en lééf jou geloof. En wéét dat Jesus elke oomblik van die dag by jou is om jou hand vas te hou, en dat die Heilige Gees binne-in jou vir jou die krag en die woorde in jou mond sal gee. Al wat Hy van jou vra is jou gewilligheid!

Gebed:

Here, ek bely vanoggend dat ek ook so dikwels kritiseer sonder rede. Plaas asseblief ‘n wag voor my mond!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026