Ongelowige Gelowiges

30 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ongelowige Gelowiges

Hebreërs  3:7-19

VIDEO | LUISTER

As die Dominee die kansel bestyg, voel ek sommer aan my beendere dat hier vanoggend ’n swael-en-vuur preek gaan kom. En ek is ook nie verkeerd nie. Hierdie besoekende leraar van 'n sendingstasie is hewig omgekrap, en baie gou besef ek waarom: Sommige teoloë in ons land bevraagteken die hele wese van Jesus! Daar is selfs bekende teoloë wat beweer dat enige soort van godsdiens jou in die hemel sal bring, maak nie saak of dit nou Christen, Hindoe, Moslem of Bhuddisme is nie. 'n Sekere professor in Teologie en sy trawante krap boonop die kerk deurmekaar met allerhande Godslasterlike beweringe, soos byvoorbeeld dat Jesus nooit uit die dood opgestaan of na die hemel opgevaar het nie, en dat Hy ook nie ‘n maagdelike geboorte gehad het nie!

Dan los die dominee nóg ‘n bom: die dominee van 'n gemeente iewers in Gauteng was deel van ’n afvaardiging wat die “geeste van die afgestorwe MK lede” gaan haal het, en dit nogal saam met ’n groep Sangomas - toordokters! Dan heul jy mos met duiwelsdinge!

Daar is groot kommer oor sekere tendense in die kerk. Die droewige deel is dat hierdie teoloë nie eers uitgegooi kan word nie - hulle staan steeds op ons kansels en in die teologiese skole, want as hulle afgedank word, gaan hulle hof toe daarmee en die reg is aan húlle kant!

Daar was al bewerings gemaak dat sekere leraars in Suid-Afrika se godsdiens aan New Age grens en dat daar selfs teoloë is wat ál die beginsels van New Age onderskryf! Skokkend! Hierdie sogenaamde Bybelkenners beweer dat 80% van die dinge wat in die Nuwe Testament geskryf is, bloot fiksie is - sommer net stories! Watter soort snert probeer hulle ons wysmaak!

Gelukkig kan ek vanoggend getuig dat daar duisende leraars en teoloë is wat steeds styf vashou aan die suiwer Woord van God, en dit elke Sondag preek van die kansel af. Ek was die afgelope tyd by verskeie kerk- en sinodevergaderings waar honderde leraars bymekaar was, en die wonderlike gees van geloof en hoop wat ek deurentyd daar gesien het, maak my hart brandend! Bid vir jou leraar, dat hy staande sal bly!

In vandag se skrifgedeelte haal die skrywer aan uit Psalm 95:8-11 en dan maak hy dit van toepassing op sy lesers. Dit handel oor die Israeliete wat vir veertig jaar in die woestyn rondgeswerf het voordat hulle die beloofde land kon binnegaan. Dit was sékerlik nie ‘n maklike veertig jaar nie, maar hulle het sélf gesoek daarna deur hulle ongeloof. Elke liewe dag moes hulle sien hoedat God vir hulle voorsien in hulle tog op pad na die beloofde land. Hy het vir hulle manna en kwartels in oorvloed gegee om te eet. Elke keer as hulle water nodig gehad het, het Hy dit op wonderbaarlike wyse voorsien. Hy het hulle die hele pad op Goddelike wyse gelei en beskerm met die wolk- en vuurkolom. So het Hy daarmee vir hulle rigting aangedui van die een droë sandduin na die volgende, deur ‘n woestyn wat oneindig voor hulle uitgestrek het.

Die asemrowende wonder van God se sorg is totaal onbegryplik. Meeste teoloë glo dat daar meer as drie miljoen mense was en Hy het voorsien in ál hulle behoeftes! Nogtans kon hierdie Israeliete nie glo dat God hulle veilig die land sou kon inlei nie. Hulle was hardkoppig, opstandig en het God uitgetart! Nie een van daardie geslag Israeliete het die beloofde land gesien nie, buiten Josua en Kaleb, die enigste gelowiges. Die ander se lyke lê verstrooi oor die woestyn.

Nou waarsku die skrywer sy lesers dat hulle nie in dieselfde soort van godsdiens moet verval nie! In Eksodus 33 lees ons dat die Israeliete God aanbid het. Nogtans verval hulle in afgodsdiens nie baie lank daarna nie! Baie van die teoloë wat nou sulke skokkende uitsprake soos hier bo maak, was eens toegewyde gelowiges. Wat het gebeur? ‘n Jehovah’s Getuie vertel my eenmaal dat sy ‘n Sondagskool onderwyseres in die NG Kerk was. Wat het gemaak dat sy so afgedwaal het dat sy nou nie meer vir Jesus as God erken nie?

Die Israeliete het God op ‘n baie besonderse manier leer ken, maar hulle het steeds hulle rug op Hom gekeer. Hulle straf was afgryslik. ‘n Mens wat ál die geleenthede kry om God waarlik te leer ken, het ‘n wonderlike voorreg. Teoloë het geleenthede wat min mense beskore is - tóg raak party die pad totaal byster. Ek en jy wat gereeld die Woord van God hoor, is nét so bevoorreg - daar is miljoene wat nie daardie geleentheid het nie! As ons onsself laat verlei deur dwaalleringe, of ons kom in opstand teen die dinge wat vir ons geleer word in die Woord van God, dan wag daar ‘n verskriklike einde op ons.

Die onfeilbare Woord van God pleit vandag by jou en my in Heb, 3:15 - “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand nie.”

Moenie jou laat verlei deur die mooi praatjies van dwaalleraars nie. Hou die oog gevestig op Jesus, die opgestane Here - Hy wat waarlik opgevaar het na die hemel, en wat regeer oor die hemel en die aarde. Hou styf vas aan jou geloof in Jesus, want Hy is waarlik God - Hy is die skepper van die heelal, so leer die heilige Woord van God ons. En glo met jou hele hart dat die Bybel nie maar afgewaterde “woorde van God” is soos sommige beweer nie, maar die ware Woord van God.

Gebed:

O Here, ek pleit om genade vir die teoloë wat U Woord verwerp het. Ruk hulle asseblief terug uit die kloue van die duiwel! Gee asseblief vir hulle ‘n nuwe insig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026