Matteus 18:6-20
Eers klink dit soos die geruis van die wind deur die bome, maar dan hoor ek die botone: skwiek, tjorrel, knor, mor, borrel, en ek wéét sommer wat op pad is! Bo die vaal gras loer ‘n koddige klein gesiggie uit om te sien of alles veilig is. Hy duik weer grondwaarts en dan vleg hy in dolle vaart tussen die bossies deur, reguit na die stoep toe. ‘n Entjie agter hom kom die bondel, ‘n lang streep grys gevaartetjies. Hulle beentjies maal presies soos opwensoldaatjies, net baie vinniger. Daar is ‘n opgewondenheid wat in my borrel. Hierdie muishondjies is my gunsteling diertjies want vir hulle is omgee vir mekaar ‘n lewenswyse!
Ek gooi ‘n paar stukke gemufde brood na hulle kant toe en die reaksie is oorweldigend! Dit stoei en raas en knor en skarrel maar uiteindelik het elkeen ‘n stukkie en nou kloek en koer dit vir ‘n vale, want hulle is tevrede. Een outjie ontdek die dammetjie en gaan lê pens en pootjies plat op sy maag in die water. ‘n Ander outjie ontdek weer die braairooster en roep sy maats nader. Saam lek hulle die sif blinkskoon en daarna volg die pappot met gisteraand se oorskietpap. Hulle klouter binne in die pot en lek hom skoon!
Skielik knor die tropleier ‘n waarskuwing en almal gaan staan doodstil en kyk stip na die groot knoppiesdoringboom waar die groot gevaar dreig. Die kleintjies word op 'n bondel gedruk en beskerm teen die gevaar. 'n Blouaap loer arrogant deur die blare na onder. Baie duidelik het hy g'n respek vir hierdie spul hansworse nie. Hy skree ‘n belediging na onder (wat ek liewer nie hier sal herhaal nie)! Die muishondjies laat hulle nie só slegsê nie en een baie brawe outjie besluit om die arrogante aap aan te vat en landuit te jaag! Hy voeg sommer die daad by die woord en hardloop teen die skuins stam van die knoppiesdoring op. Aap se kind is nie geneë met sulke arrogante gedrag nie en hy klim dreigend teen die stam af om met hierdie japsnoet te kom afreken. Hy is immers baie groter! Die muishondjie se moed begewe hom en hy laat spaander teen die stam af na onder.
Maar moenie dink dat hy verslaan is nie. Hy kom net versterkings soek. Hy maak baie vinnig ‘n paar maters bymekaar en voor die aap sy skelm ogies kan uitvee, storm hulle in 'n bondel teen die stam op. Die res van die gepeupel drom nou soos een man saam onder die boom en por hulle helde luidkeels aan. Blouaap, wat intussen selfvoldaan op sy nuwe troon bly sit het, val byna uit die boom uit van skok en oorhaastig klouter hy holderstebolder terug na veiligheid!
Tevrede met hulle suksesvolle offensief, klim die muishondjies af, baie waardig en onder luide toejuiging. Selfvoldaan draai die tropleier om en met 'n tevrede getjor, tjorrel, kloek en skwiek streep hulle weg deur die droë grasse na ‘n nuwe bestemming.
Ons kan beslis leer uit die natuur wat omgee vir mekaar werklik beteken. Kyk maar net byvoorbeeld hoe ‘n trop (wrede?) wildehonde mekaar versorg en omgee vir hulle mede-honde. Dit is veral die kleintjies wat gepamperlang word, nie alleen deur die ma nie maar deur elke lid van die trop.
In hierdie preek van Jesus noem Hy gedurig die “kleintjies” en hulle kwesbaarheid. Hier word nie gepraat van kinders nie, maar van volwassenes wat klein geword het in hulleself en weer opreg kinderlik glo. Moenie so ‘n persoon minag nie! Hy het naby aan God se Koninkryk gekom. Maar hy kan baie maklik seerkry, veral as mede-gelowiges hom laat struikel. Jesus laat baie harde woorde val oor mense wat die kleintjies laat struikel!
Die klem val in hierdie gedeelte baie sterk op die omgee vir mekaar. Ons gelowiges moet soos daardie herder wees wat innig en opreg omgee en baie moeite doen om die enkel skapie wat verdwaal het, terug te bring. Iemand wat in sonde verval het moet nie maar sommer afgeskryf word of veroordeel word nie, maar met groot deernis gesoek en teruggelei word na die kudde.
Jesus verduidelik dan ook watter stappe geneem moet word wanneer iemand afdwaal of sondig. Gesels eers alleen met die persoon, natuurlik in liefde! As dit nie vrugte afwerp nie, neem dan nog iemand saam en probeer hom oorreed om tot ander insigte te kom. Selfs wanneer die persoon hom verhard en hy weier om te breek met sy sonde, is dit steeds nie die einde nie. Dan word hy behandel soos 'n "heiden en 'n tollenaar". Is hy dan afgeskryf? Nee, beslis nie! Dan is hy 'n "sending-geval." Dit beteken dan dat die evangelie weer aan hom gebring moet word net soos vir 'n ongelowige. 'n Mens se omgee moet nooit ophou nie, selfs al word jou liefde verwerp!
Gebed:
Here, so dikwels vergeet ek van ware omgee. Leer my om diep uit my hart om te gee vir elke mede-gelowige, en veral die kleintjies in U Koninkryk!