Om te Wag op die Gees

10 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om te Wag op die Gees

Handelinge 1:9-26

VIDEO | OUDIO

Het Jesus fisies na die hemel opgevaar? Is dit nie ook maar ‘n versinsel van Sy volgelinge se gedagtes, soos 'n paar moderne "Skrifgeleerdes" wil beweer nie?

Lukas beskryf die hele gebeurtenis hier baie grafies. Jesus se volgelinge was almal bymekaar op die Olyfberg, sowat ‘n kilometer buite Jerusalem en Hy het Sy laaste opdragte aan hulle gegee. Seker die belangrikste opdrag was dat hulle Sy getuies oor die hele wêreld moes wees. Matteus vertel dat Hy vir hulle gesê het om dissipels van al die nasies te gaan maak en toe gee Hy vir hulle die onvergeetlike belofte, dat Hy by hulle sal wees tot aan die voleinding van die tyd (Matt 28).

Skielik, is daar ‘n wolk, en terwyl hulle almal toekyk, word Jesus in heerlikheid weggevoer op hierdie wolk, die hemel in. Wat het in hulle gemoedere omgegaan terwyl hulle so die lug staan en instaar? Jesus is weg! Wat nou? Maar hulle word teruggeroep na die werklikheid wanneer twee “manne in wit klere” skielik in hulle midde staan, engele uit die hemelse wêreld wat vir hulle kom vertel dat Jesus net so weer sou terugkeer soos wat hulle Hom sien vertrek het!

Nou het dit tyd geword om die werklikheid in die gesig te staar en om te begin herorganiseer. Hulle stap terug na Jerusalem, waar hulle vir die volgende weke gereeld by die tempel bymekaarkom. Een Sondag is die elf apostels in die bovertrek van ‘n huis bymekaar. Saam met hulle is ‘n aantal vroue, onder wie Maria, Jesus se ma asook Jesus se broers. Hulle was aanvanklik baie skepties oor Jesus, maar na Sy kruisiging en opstanding het hulle tot nuwe insigte gekom. Hierdie groepie se getalle het gou aangegroei tot sowat 120 mense - die heel eerste “gemeente”. Ons lees dat hulle baie tyd in gebed deurgebring het in afwagting op die groot gebeurtenis waarvan Jesus hulle vertel het.

Gou sien ons Petrus uitstyg as die leier. Hy neem die inisiatief om ‘n ander apostel in Judas se plek te kies. Die getal twaalf is simbolies van die twaalf stamme van Israel en hiermee word dan die hele Israel verteenwoordig. Eintlik gaan dit veel verder, want in hierdie twaalftal word die ganse “Nuwe Israel” verteenwoordig, oftewel almal wat in Jesus glo. Petrus verduidelik vir die splinternuwe gemeente dat hierdie ding met Judas móés gebeur, want God het dit so bepaal.

Dit laat ‘n mens met vrae en ek het al dikwels die vraag gehoor: “Het God dan vir Judas twyfel en ongeloof gegee sodat hy Jesus sou verraai?” Nee, baie beslis nie! Dit is nie in God se aard om iemand doelbewus van sy geloof te beroof nie. My persoonlike mening is, dat Jesus vooruit geweet het dat Judas met daardie duistere dinge in sy hart rondloop. Iemand uit Jesus se binnekring móés Hom verraai en daarom het Hy doelbewus vir Judas as apostel gekies, wél wetende dat Judas onbetroubaar was en dat hy ander motiewe gehad het. Dit moes vir Jesus bitter gewees het om vir ‘n volle drie jaar ‘n intieme verhouding met iemand aan te knoop, terwyl Hy deeglik bewus was van wat Judas aan Hom sou doen!

Om Judas dus as ‘n “onskuldige slagoffer van omstandighede” te sien, is totaal verkeerd. Hy was van die begin af korrup en hy het baie goed geweet wat hy doen! Selfs sy mede-apostels het hom gewantrou, want hy het hulle geldsake hanteer en hulle het vermoed dat hy van die geld gesteel het!

Maar nou is hierdie onsmaaklikheid agter die rug en ‘n nuwe man moet in Judas se plek aangestel word. Twee manne staan as sterk kandidate: Josef, met die bynaam Barsabbas, wat letterlik beteken “Seun van die Sabbat,” waarskynlik omdat hy op ‘n Sabatdag gebore is. Die ander kandidaat is Mattias. Hulle trek lootjies en Mattias word aangewys as die nuwe apostel. Hy was van die begin af een van Jesus se volgelinge en het die volle pad gestap van dag een af, toe Jesus gedoop is tot met Jesus se hemelvaart. Mattias was dus ‘n waardige apostel!

Alles was nou gereed vir die koms van die Heilige Gees. ‘n Handjievol (120) begeesterde mense wat biddend gewag het, net soos Jesus hulle beveel het, was daardie Sondag bymekaar in die bovertrek in Jerusalem. Maar wat kan so ‘n klein ou groepie mense uitrig in ‘n wrede, bose wêreld wat dreig om hulle te verswelg?

Moontlik voel jy vandag presies dieselfde. In jou gemeente is moontlik slegs ‘n klein handjievol mense wat bereid is om op te staan vir Jesus. Jy voel so verskriklik magteloos teen die oormag van die wrede wêreld! Jy sien die golwe van die heidendom wat op jou afstorm - Ateïsme, Satanisme, Islam en die massas mense wat die naam Christen dra maar totaal ongelowig is! En jy wonder waar jou krag vandaan gaan kom…...

Maar daar is wonderlike nuus: die Heilige Gees is eenmaal uitgestort sodat ek en jy ‘n oorwinningslewe kan hê, ook in hierdie op die oog af hopelose situasies. More lees ons DV van hierdie gebeurtenis.

Gebed:

Here, wanneer dinge dikwels ook vir my so hopeloos lyk - rig my oog op die wonderbare krag van die Heilige Gees en die troostende belofte wat Jesus met Sy hemelvaart gegee het, dat Hy elke dag by my sal wees. Dankie Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026