Om te Vas

24 May, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om te Vas

Matteus 6:16-18

VIDEO | OUDIO

Sy stap in die boekwinkel in, en ek sien sommer dat daar vanoggend ‘n swaar las op haar twee skouertjies rus. Dit is 1976, en ek bestuur die Bybel Boekwinkel in Welkom, ‘n piepklein winkeltjie wat slegs Christelike boeke verkoop. Hierdie winkel, wat in die hartjie van die beroemde Perdeskoen geleë is, is die spilpunt waarom al die geestelike dinge in Welkom draai. Daar moet ek menigmaal die skouer wees waarop bedroefde mense kom huil. En daar word baie lang geestelike gesprekke gevoer. Nie baie boeke word verkoop nie, maar die winkeltjie is ‘n ware seën vir talle gelowiges van oor die hele kerkspektrum. En in daardie winkeltjie vorm die Here my om later, baie later die evangelieboodskap oor die aarde te stuur.

“Wat makeer?” wil ek weet. Haar tranerige oë smeek dat ek hierdie vraag sal vra.

“Ek vas!” sug sy swaar. Ek sien sommer dadelik dat hierdie beslis nie ‘n leuen is nie. Daardie lang gesig en die swaar sugte vertel dat sy besig is om deur bitter diep waters te gaan. Dis nie die eerste keer dat sy op my skouer kom huil nie. Welkom is ‘n myndorp, en myners kan soms maar ‘n rowwe klomp wees. Sy het al by ‘n paar geleenthede kom afpak oor haar man wat haar uitlag oor haar geloof. Van kerk wil hy niks weet nie, en hy steur hom nie in die minste aan énige van haar pogings om heilig te lewe nie. Een ding het sy tot dusver reggekry, en dit is om ‘n TV uit die huis te hou. Sy weier volstrek om daardie gruwel in haar huis toe te laat!

Sy bars in trane uit, en die rou snikke skeur deur haar. “Hy het my verneder!” snik sy dit uit. “Gister toe ek van die winkel af kom, toe staan daar ‘n groot kartondoos in my sitkamer. In groot, vet letters staan daarop geskryf: ‘NOW YOU HAVE THE WORLD IN YOUR HOME!’ Ek kon dit net nie meer vat nie!”

Ek troos haar, maar ek verstaan nog nie van die vas nie. “Jy sê jy vas?”

“Ja,” snik sy verder, en ek kry haar bitter jammer. “Hy wéét mos dat ek nie ‘n TV wil hê nie! Hy was net moedswillig om daardie duiwelsding te koop!” Nou stroom die trane van vooraf oor haar wange.

Dan vertel sy dat sy daardie oggend ná haar groot skok ‘n goiingsak gevat het en drie gate daarin gesny het, een vir haar kop en twee vir die arms. En toe trek sy die growwe sak aan en gooi as op haar kop. Toe gaan sit sy op die hopie as in die tuin waar haar man elke Saterdagaand die braaivleis-as weggooi na sy gerinkink. En sy vas!

Die sak en as, die verstaan ek, want sy is bitter bedroef oor hierdie ding wat haar man haar aangedoen het. Maar die vas verstaan ek nog steeds nie mooi nie. Dan verduidelik sy: “Ek vas sodat die Here my man kan red. Ek gaan nie ophou vas voordat die Here my ‘n antwoord gegee het nie. Ek kan dit nie meer vat saam met daardie man nie! As hy nie nóú tot bekering kom nie....... die Here móét my hoor!”

Nodeloos om te sê: toe ek uiteindelik uit Welkom vertrek, lank na hierdie insident, is haar man steeds die onbeskofte, onverantwoordelike, ongelowige buffel!

‘n Droewige verhaal in meer as een opsig. Wat hierdie arme vrou gedoen het, klink op die oog af baie edel en aangrypend. Maar sy het die idee van vas totaal verkeerd verstaan. Is dit verkeerd om te vas? In die NG Kerk word daar baie selde gepraat oor vas, want dit het van toenterjare af al ‘n “sektariese” reukie aan hom. Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat Jesus hieroor sê. Hy sê nie dat ‘n mens nie moet vas nie, maar Hy waarsku dat ons nie die idee van vas uit verband moet ruk nie. Ek het al so dikwels gehoor dat iemand dit uitblaker vir almal om te hoor: “Ek vas nou al vir ‘n volle week!” Jesus waarsku oor die gewoonte om met lang gesigte te loop en adverteer dat jy vas. Dit is ‘n baie persoonlike saak tussen jou en God. Moenie dat iemand daarvan weet nie.

Die vraag is: waarom vas ek? Is dit om God se arm te draai oor die een of ander saak? Dalk om God te smeek of dalk selfs te dwing om iets in jou lewe te doen? Baie beslis nie! Waarom het Johannes en Jesus en verskeie profete ‘n tyd in die woestyn deurgebring? Dit was ook ‘n vorm van vas. Om hulleself voor te berei op ‘n groot taak. Om met ander woorde hulle gedagtes te fokus op God. Vas het presies dieselfde doel: om jou gedagtes op God te fokus. En vas kan ook baie vorms aanneem. Dit is nie noodwendig kos nie. Jy kan byvoorbeeld ‘n vastydperk ingaan deur jou te weerhou daarvan om TV te kyk of die normale ontspannings-dinge in jou lewe te doen. Jes. 58:7 suggereer dat die eintlike vas nie is om kos uit te sny nie, maar sonde en liefdeloosheid! Die doel van vas moet wees vir jou om nader aan God te beweeg.

En terwyl jy besig is met daardie vas, moet niemand ooit enigiets vermoed nie. As iemand jou in daardie tyd iets aanbied wat jy wil uitsny - maak bloot ‘n niksseggende verskoning. Dit is so maklik om die idee te skep dat jy beter is as ander omdat jy vas! Dit plaas jou op ‘n “heilige” verhogie. Dit is ‘n slaggat wat die duiwel vir jou daar plaas, en trap jy daarin, kan jy netsowel ophou met jou vas! Dan het dit die betekenis én doel totaal verloor.

Gebed:

Here, help my asseblief om die betekenis van vas reg te verstaan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Kruisig Hom, Kruisig Hom!
29 April, 2024
Petrus se Verraad
26 April, 2024
Hosanna, Hosanna!
25 April, 2024
Nasaret Verwerp Jesus
24 April, 2024
Jesus se Doop
23 April, 2024