Om Te Neul By God

24 July, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om Te Neul By God

Matteus 15:21-28

Verskeie mense het my al die vraag gevra: “As ek van die Here iets vra, en God antwoord nie my gebed nie, mag ek dan aanhou vra? Dan is dit mos dieselfde as om te neul oor ‘n ding!” Paulus het ‘n “doring in die vlees” gehad, en hy het drie keer vir die Here gebid om dit weg te neem, maar die Here se antwoord aan hom was dat dit nie binne Sy wil val om dit weg te neem nie. Paulus het nie weer gevra nie. Beteken dit dat God later ‘n dowe oor draai as ons aanhou vra? Vandag se Skrifgedeelte handel juis oor so ‘n persoon wat aanhou kerm het.

Jesus het vir ‘n tyd uitgewyk na Fenisië, na die stede Tirus en Sidon, ‘n nie-Joodse gebied. Met enkele uitsonderings, het Jesus Sy prediking en genesings tot dusver beperk tot Jode, die Volk van God. Nou bevind Hy Hom egter in ‘n vreemde land met vreemde mense. Jy onthou seker nog dat die inwoners van Sy tuisdorp Hom verwerp het!

Op ‘n dag kom ‘n Kanaänietiese vrou en kerm al agter Jesus aan om asseblieftog haar siek dogter te help. Wat maak Jesus? Ons is eintlik verras wanneer ons sien dat Hy maak asof Hy haar nie hoor nie, en bloot aanstap. Die manne saam met Hom raak geïrriteerd met hierdie vrou wat so aanhou kerm. As hulle dit nie meer kan vat nie, sê hulle vir Jesus dat Hy haar asseblieftog net moet wegstuur, want sy hou aan en aan en aan.

Dan draai Jesus om. Hy laat haar duidelik verstaan dat Hy haar nie gaan help nie, want sy is mos nie ‘n Jood nie. Sy taak was spesifiek om die Evangelie aan die Jode, die uitverkore volk van God te kom bring. Onthou, dit was eers na Sy opstanding uit die dood wat Sy volgelinge die opdrag kry om die Evangelie na die ander volke uit te dra. Op hierdie stadium is dit egter nog net vir die Jode bedoel. Maar hierdie vrou is desperaat, en sy kom met allerhande argumente waarom sy ook deel moet kry van Jesus se bediening. Sy sal tevrede wees selfs met net die ou krummeltjies wat van die tafel afval. Sy verstaan baie goed, maar sy wil nie die uitverkorenes se “brood” afneem nie. Asseblieftog………

Hoe ironies is dit dat die geleerdes wat die Woord van God bestudeer het tot in die kleinste detail, vir Jesus verwerp. Hy is die Een van Wie die Skrifte vertel het, die Een oor Wie Jesaja so sielvol geskryf het. Hulle het alles geweet, nogtans het hulle Hom geminag en Hom uitgeskel vir alles wat sleg is. Tog kom hierdie heidense vrou uit ’n heidenland en sy spreek Hom aan op Sy Joods-Messiaanse titel: “Here, Seun van Dawid”!

Ja, uiteindelik het hierdie selfde vroom “Godsmense” tot die uiterste toe gegaan en Jesus laat doodmaak om sodoende vir altyd van Hom ontslae te raak. En God het vir Hom ‘n nuwe volk versamel uit al die heidennasies van die wêreld, soos Hy aan die eerste dissipels die opdrag gegee het: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die Evangelie aan die hele mensdom.” (Mar. 16:15)

Jesus het met deernis geluister na hierdie vrou wat nie wou ophou nie. Hy het geloof in haar gesien, geloof wat nie in die Skrifgeleerdes teenwoordig was nie. Hoe kon Hy haar versoek bloot ignoreer? Natúúrlik sou Hy dit nie ignoreer nie! Haar dogter is genees. Haar pleidooi het baie beslis nie op dowe ore geval nie. Wie weet, dalk wou Hy met Sy ignorerende houding en maak asof Hy haar pleidooi nie hoor nie, net toets hoe sterk haar geloof werklik is.

Om terug te kom by die vraag, of ek dan mag aanhou vra vir iets van die Here af: Ja, verseker! As Jesus ‘n nie-Joodse vrou sou help, alhoewel dit nie sy aanvanklike taak was nie, hoeveel te meer sal Hy nie sy kinders help nie. Hy is immers die Immanuel, God by ons, en Hy het belowe dat dit vir altyd so sal wees. Ons kan dus te alle tye verseker wees van Sy hulp, en ons mag maar, net soos daardie Kanaänietiese vrou, somtyds kerm by Hom. Anders as mense wat dikwels geïrriteerd met ons raak as ons aanhou en aanhou, sal Jesus steeds geduldig na ons luister. Soms voel dit asof Hy ons totaal ignoreer, maar wees verseker: Hy luister! Dalk wil Hy ook jou geloof daardeur toets. Dalk wil Hy juis jou geloof daardeur brei en sterk maak, sodat jy ‘n nuttige instrument in Sy hande kan word om in diens te staan om die Koninkryk van God uit te brei.

Natuurlik sal Hy nie elke versoek van jou toestaan nie, want soms is dit nie binne Sy wil nie. Paulus se doring was so ‘n geval. Maar jy mag maar aanhou vra totdat jy ‘n antwoord van God af gekry het.

Dikwels gebeur dit ook dat Hy jou gebed, jou pleidooi hoor, maar dat Hy dit dan op ‘n totaal ander wyse verhoor as waarop jy gehoop het. Ek het dit die afgelope paar jaar so intens ervaar, waar ek baie dikwels moes pleit vir uitkoms, moes pleit dat die Here voorsien. En dan voorsien Hy wél, maar op ‘n tyd en manier wat ek die minste verwag. Ek slaan dikwels my hande saam in verbasing en tegelykertyd in verwondering oor die weë van die Here wat so verrassend en vars is.

En ja, ek neul ook maar dikwels by Hom, en ek het nog nooit ‘n afjak gekry nie!

Gebed:

Dankie Here, dat ek maar by U kan neul, en dat U elke keer na my luister.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024