Markus 8:34-9:1
Skok is duidelik te lees op die gesigte van die twaalf manne. Jesus het so pas vir hulle vertel van hoe Hy moes ly, en dat Hy totaal verwerp sou word, dat Hy selfs doodgemaak sou word!
“Wat gaan van ons word?” Hulle het gesien toe Petrus die Meester eenkant neem om met Hom te praat. Hulle het gesien dat daar harde woorde geval het. Hulle het ook gesien dat die spraaksame Petrus doodsbleek en woordeloos was toe hy weer by hulle aansluit. Wat daar gesê is - Petrus wil nie praat nie. Maar dat hy hewig ontsteld is, is baie duidelik! En Jesus? Hy lyk steeds so kalm soos altyd, asof niks ooit gebeur het nie! “Hoe kry Hy dit reg?”
Jesus wink die skare nader. Hulle het alreeds weer in groot getalle begin saamdrom. Hy gaan sit op ‘n groot klip, en dan sê Hy: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red.”
Die mense brom en kyk met vraende oë na mekaar. “Wat bedoel hierdie Rabbi dan nou? Wie sal dan nou iemand se volgeling word, net om sy eie lewe in gevaar te stel?”
Jesus vra egter nie van Sy volgelinge meer as wat Hy Sélf bereid is om te doen nie. Ons het reeds gehoor hoe Jesus Sy eie lyding beskryf het, en wat Hy bereid was om deur te maak. Messiasskap het van Jesus sy totale lewe gevra. Dit het absoluut géén ruimte vir eie belang gelaat of om eers aan Homself, Sy eie veiligheid of eie gemak te dink nie. Dit het van Hom gevra om álles te gee om die Groot Versoening te bewerkstellig!
Toe Jesus dus van Sy volgelinge vra om hulleself te verloën en hulle kruis op te neem, was dit nie ’n onbillike versoek nie. Om jouself te verloën beteken om jou eie belange geheel en al opsy te skuif ter wille van Jesus. Om jou kruis op te neem, gaan nog ‘n stappie verder. Dit beteken dat jy nie alleen jouself bereid verklaar om swaar te kry nie, maar selfs bereid sal wees om die hoogste prys te betaal - om vir Jesus te sterf. As jy dus waarlik vir Jesus wil volg, moet jy baie duidelik besef dat daar nie noodwendig ‘n gemaklike lewe op jou wag nie. Jou totale lewe moet gerig wees op die Evangelie en jy kan maar seker daarvan wees dat dit lyding tot gevolg sal hê.
‘n Baie goeie voorbeeld van iemand wat hierdie woorde van Jesus tot op die laaste letter uitgeleef het, was Paulus. Daar het vir hom ‘n baie goeie toekoms voorgelê. Hy was ‘n briljante jong man met ‘n redenasievermoë wat onge-ewenaard was. Hy sou waarskynlik op die Joodse Raad gedien het, en ‘n hoë posisie kon beklee as dit nie was dat hy gekies het om eerder vir Jesus te volg nie. En nét daar begin sy kruistog! Hy is liederlik vervolg, gegésel, talle kere in die tronk opgesluit, gestenig, verwerp, uit die stad gejaag - en so kan ons aangaan. Uiteindelik het hy dan ook gesterf vir sy geloof. Paulus was ook nie die enigste nie - talle van sy tydgenote moes dieselfde prys betaal!
Waarom verwag Jesus so baie van Sy volgelinge? Hy verduidelik in verse 35 en 36 dat iemand wat alles gee om sy aardse besittings en lewe te verseker, maklik sy plek in die ewige lewe kan verloor. Wat is die belangrikste? Jou kortstondige lewetjie op aarde of ‘n lewe van ‘n ewigheid in die hiernamaals? Dit sou dom wees om die ewige lewe prys te gee ten koste van ‘n plesierige aardse lewe!
Die probleem is dat dit in die praktyk nie ‘n maklike keuse is nie. Daar is van Jesus se volgelinge wat sal terugdeins vir Hom en Sy woorde en hulle sal skaam daarvoor. Maar dan moet hulle baie goed besef dat Jesus, wanneer Hy terugkeer, Hom ook sal skaam vir hulle!
Terloops, hierdie selfde woorde van Jesus word so dikwels misbruik in die sosiale media om jou skuldig te laat voel as jy nie ‘n sekere boodskap sou aanstuur nie. Ek het ‘n kleintjie dood aan mense wat die Bybel so blatant, so skaamteloos misbruik!
Jesus sluit af met ‘n belofte wat vir baie mense al hoofbrekens gegee het: Dat sommige van die mense daar teenwoordig nie sou sterwe voordat hulle die Koninkryk van God sien kom het nie. Was dit ‘n fout? Jesus se wederkoms het dan nie plaasgevind nie? Daar is twee verklarings voor: Die eerste is dat daar ‘n wederkoms-verwagting by die gelowiges geskep is, iets wat ons vandag steeds het. As ons vandag die “tekens van die tye” lees, is ons nou nader as ooit aan die wederkoms. Die tweede verklaring is dat Jesus verwys het na een of meer van ‘n paar baie belangrike gebeure. Die eerste was Sy verheerliking op die berg (Markus 9:2-8). Dit kon ook verwys na Sy kruisiging. Een van die belangrikste dinge wat dáár gebeur het, was die hoogtepunt toe die voorhangsel van die tempel geskeur het en die skeiding tussen God en die mens vir goed weggeskeur het. By daardie geleentheid het die Romeinse offisier bely dat Jesus die Seun van God is, ‘n groot waarheid wat selfs die dissipels nie kon snap nie!
Ek dink dat Jesus se woorde van elkeen van ons introspeksie vra. Hoe ver is ek werklik bereid om te gaan om Jesus te volg?
Gebed:
Here, maak my asseblief bereid om die volle pad vir U te loop.