Om Jesus Te Volg

10 March, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Om Jesus Te Volg

Lukas 9:51-62

Die tyd het aangebreek vir Jesus se laaste reis, en Hy deel sy dissipels mee dat hulle na Jerusalem moes vertrek, ‘n reis wat hulle sekerlik ‘n goeie tydjie sou neem. Op hierdie stadium was hulle nog doenig in die omgewing van die meer van Galilea, en Jerusalem het reg suid gelê, sowat 150km ver. In vandag se terme is dit skaars ‘n uur of twee se ry, maar ons moet onthou dat hulle die reis te voet sou aanpak, en dat dit maar bitter stadig sou gaan, want oral is skares wat Jesus dringend moet sien met die een of ander kwaal. Boonop sou daar vele konfrontasies op hierdie stukkie pad wees met kerkleiers wat Jesus uit die weg wou ruim. Maar Jesus het ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om vir oulaas die twaalf manne te onderrig. Daar was nog so baie wat hulle moes leer, en die tyd het uitgeloop.

Dit is tóg interessant dat Lukas sê dat die tyd nader gekom het dat Jesus in die hemel opgeneem sou word. Hy verwys gladnie na die kruisdood en lyding wat op hande was nie. Vir Lukas was die hemelvaart die groot hoogtepunt, maar die kruisiging, opstanding ens. word natuurlik saamgevat in hierdie opmerking.

Hulle eerste bestemming was ‘n dorpie in Samaria. Iemand word vooruit gestuur om die verblyf vir hulle te reël, maar dan kom die eerste terugslag alreeds: die Samaritane wil Jesus nie in hulle dorp hê nie! Die gordyn word as’t ware vir ons op ‘n klein skrefie oopgetrek sodat ons kan loer na wat nog sou volg. Eintlik het die mense nie juis iets teen Jesus persoonlik gehad nie, maar die feit dat hulle op pad na Jerusalem was, het die Samaritane se bloed laat kook. Sien, hulle en die Jode was nou nie juis beste maatjies nie. Dit het begin by ‘n onderonsie baie jare tevore, toe die tempel ná die ballingskap herbou moes word. Die Samaritane wou kom help met die bouwerk, maar die Jode het geweier dat hulle help, omdat hulle nie rasegte Jode was nie. Die Jode beskou hulle as onrein, en hulle wil nie eers aan 'n Samaritaan raak nie. Dit het tot groot bitterheid gelei, wat honderde jare later steeds oorgekook het elke keer as ‘n Samaritaan en ‘n Jood ontmoet.

Die dissipels is só kwaad oor hierdie belediging dat hulle sommer vuur uit die hemel wil afroep om hierdie spul te verdelg. Jesus is verneder, en natuurlik ook die dissipels, en hulle soek wraak. Baie duidelik het al die dinge wat Jesus oor liefde gesê het, baie beslis nie ingesink nie. En boonop verstaan die dissipels nog gladnie wat Jesus se roeping is nie. Hy móés verneder word en Hy móés ly en verwerp word. As dissipels faal hulle bitterlik omdat hulle nog gladnie verstaan hoe die wil van God in en deur Jesus uitgewerk word nie.

Ek dink dat die groepie maar baie bekaf gevoel het na hierdie onderonsie, en dat Jesus hulle boonop daaroor moes teregwys. Een probeer die gespanne atmosfeer breek deur vir Jesus te sê dat hy Hom oral sal volg, nét waar Jesus ookal gaan. Jesus se antwoord het hom egter viervoet in sy spore gestuit, want Jesus verduidelik vir hom dat dit ‘n pad vol slaggate is. Toe begin ‘n hele gesprek oor wat dit beteken om waarlik ‘n volgeling van Jesus te wees. Van die manne het allerhande verskonings oor dinge wat eers gedoen moet word voordat hulle finaal volgelinge sou word.

Uit die gesprek word dit algaande duidelik dat daar baie opofferinge gemaak moet word as jy ernstig is om Jesus te volg. Jy moet ook presies weet wat vir jou voorlê voordat jy so ‘n besluit neem. Om maar net Jesus se leerstellings te aanvaar met jou verstand, is nie genoeg nie. Jy moet met jou hele lewe kies vir dít waarvoor Jesus staan.

Ons kan dit moontlik met ‘n trein vergelyk, ‘n trein wat op pad hemel toe is. Op die trein is daar ‘n klomp passasiers, en almal sit gemaklik agteroor en vergaap hulle aan die landskap wat verby flits. Hulle word bedien van kop tot tone terwyl hulle almal op pad hemel toe ry. Maar daar is ook die kelners en kokke en skoonmaakpersoneel wat moet werk om die passasiers gelukkig te hou. Voor in die lokomotief werk die arme stoker hom oor ‘n mik om die trein aan die beweeg te hou, en sy maat, die drywer, mag nie vir een enkele sekonde sy konsentrasie verslap nie, anders kan daar ‘n ongeluk kom. Natuurlik is die personeel ook op pad hemel toe. Die feit is dat daardie trein nooit die hemel sal bereik as die personeel nie daar is nie. Dalk moet ek myself afvra of ek een van daardie gemaklike passasiers is, en of ek een van diegene is wat baie opofferings maak om die hemeltrein aan die loop te hou?

As jy besluit dat jy jou gemak sou prysgee om ook een van die hemeltrein-personeel te word, dan is daar ook twee maniere om dit te doen: jy kry die kelner wat net werk om klaar te kry. En dan kry jy die een wat sy werk vir homself ‘n vreugde maak. Hy is altyd vriendelik, vertel grappies, en maak sy werk sy lewe. Ek kan ook kies om my Christenskap só uit te leef dat dit aansteeklik is, en dat almal kan sien dat, ten spyte van die opofferings, dit ‘n fees is om ‘n volgeling van Jesus te wees.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my liefde en vreugde wat uit my straal sodat mense sal lus wees om U volgelinge te word.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026