Johannes 7:25-31
Ken ek rêrag vir Jesus? Maar natúúrlik! Wat vir ‘n soort dom vraag is dit dan nou? Nee, dit is nie werklik so dom soos dit klink nie.
In Jerusalem was daar ‘n klomp mense wat die Huttefees bygewoon het wat óók gedink het dat hulle vir Jesus ken. Hulle was mos persoonlik by terwyl Hy siekes gesond gemaak het en hulle het Hom sélf hoor praat! Hulle het gesien waartoe Hy in staat was en hulle het elke keer verwonderd gestaan oor die ongelooflike dinge wat Hy vermag het.
Hulle was egter óók deeglik bewus van die feit dat die kerkleiers Jesus se bloed gesoek het en juis dáárom was hulle so verbaas dat Hy dit durf waag het om openlik te preek in die tempel. Die feit dat die owerhede nie ‘n vinger probeer lig het om iets teen Jesus te doen nie, was nog méér verbasend! Inderdaad het hulle telkemale wél gedreig om Hom dood te maak. Die mense het begin wonder of die Joodse Raad nie dalk tóg tot ander insigte gekom het nie. Het hulle nie dalk begin besef dat Jesus wél die Messias was nie?
Maar dan lig Johannes die sluier so ‘n bietjie oor die ware toedrag van sake, dat daar eintlik ‘n totaal ander rede was waarom hulle Jesus nie kon arresteer nie. In God se groot raadsplan was alles nog nie afgehandel vir Jesus se teregstelling nie. Sy tyd was nog nie daar nie en al sou die manne ook hóé hard probeer, sou hulle Jesus géén leed kon aandoen nie! God was in totale beheer van die situasie en alleenlik wanneer die presiese regte tyd aangebreek het, soos deur God bepaal, sou hulle die groen lig kry om Jesus dood te maak.
Vanoggend se groot vraag is egter of Jesus se volgelinge werklik geweet het wie Hy was? Dan moet ons prontuit sê: “NEE!”
O ja, hulle het gedink dat hulle Hom ken, maar eintlik het hulle Hom gladnie geken nie. Sommige het geredeneer dat wanneer die Messias sou kom, Sy herkoms eintlik ‘n groot misterie sou wees. Jesus kon beslis nie die Messias wees nie, al het Hy al hierdie wonderlike dinge gedoen, want daar was absoluut niks misterieus omtrent Sy herkoms nie. Ja, hulle het selfs Sy ouers, Josef en Maria geken. Waar was die misterie dan?
En dit was juis hulle héél grootste probleem, want hulle het Jesus se Vader gladnie geken nie! Weereens het hulle gedink dat hulle Hom ken, maar in hulle ywer om hulle Godsdiens te bedryf, het hulle totaal by die God van hulle Godsdiens verby geleef! In die proses het hulle God totaal verkeerd leer ken. Hulle het die wet só nougeset probeer uitleef, dat hulle totaal by die kern van die wet, naamlik die liefde verby geleef het. In die proses het hulle God se wonderlike liefde en genade gladnie eers raakgesien nie en daar het niks daarvan in hulle lewens oorgebly nie.
Hulle moes ‘n baie duur les leer, dat eers wanneer jy vir God waarlik ken, kan jy vir Jesus die Messias leer ken! Die teendeel is egter ewe waar: Jy kan slegs waarlik vir God leer ken deur Jesus. Praat ek in raaisels? Nee, eintlik gladnie, want Jesus ís mos God!
Nou, wat beteken dit dan werklik om Jesus te ken? Hierdie is ‘n vraag wat die afgelope 22 jaar wat hierdie dagstukkies al uitgestuur word, talle male gevra is. Die vraag is al menige keer in hierdie dagstukkies beantwoord. En ja, die antwoord word op talle plekke in die Bybel gegee, dikwels sommer baie reguit, onomwonde en onverbloem. Nogtans word die vraag steeds dikwels gevra: “Wat beteken dit om Jesus te ken?”
Moenie my verkeerd verstaan nie, ek raak beslis nie moedeloos as ek die vraag keer op keer kry nie. Inteendeel, ek is so opgewonde, want dit beteken dat iemand my uitnooi om die Evangelie met hom/haar te deel. En dit is die een ding wat my die meeste vreugde in die lewe gee. Stuur dus maar gerus jou vraag - ek beantwoord dit met groot liefde en beslis sonder om daaroor te kla!
Johannes gee op ‘n hele paar plekke die sleutel vir hoe om Jesus te leer ken. Joh 3:16 sê pertinent dat diegene wat in Jesus GLO, nie verlore sal gaan nie. Die sleutelwoord hier is: “Glo!” Joh 5:24 sê dat diegene wat in Hom GLO wat Jesus gestuur het, die ewige lewe het. Eweneens sê 1 Joh 5:13 dat die ewige lewe behoort aan diegene wat in die Seun van God GLO. Weereens die sleutelwoord: “GLO.” 1 Joh 5:10 sê: “Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in homself.” en vers 11: “En dit is die getuienis: dat God die ewige lewe vir ons gegee het.”
Alles kom dus neer op GELOOF. Om Jesus waarlik te ken, beteken dat jy in Hom glo. Dit is egter nie maar ‘n geloof aan Sy bestaan nie, maar dit beteken dat jy ál jou vertroue op Hóm plaas as jou Verlosser. Dit kom neer op ‘n persoonlike verhouding met Hom, net soos wat ‘n man en vrou in ‘n huwelik ‘n onlosmaaklike liefdesverhouding het. Die enigste manier om iemand werklik deur en deur te ken, is wanneer daar ‘n intieme verhouding met daardie persoon is. As ek dus sê dat ek Jesus ken, dan impliseer dit dat daardie verhouding ‘n werklikheid is. Die werklikheid is ook dat as daar nog nie so ‘n intieme verhouding is nie, dan ken ek Hom nog nie.
Ek bely vanoggend onomwonde: Ek ken vir Jesus! Kan jy dieselfde sê? Ken jy Hom?
Gebed:
Here, dankie dat ek U ken. Dankie dat U my gered het van die ewige verderf!