Kolossense 1:9-14
Ek raak nie sommer opgewonde oor TV programme nie. Daar was egter 'n paar jaar gelede een wat my baie opgewonde gehad het: Varsity Sing. Die wonderlike harmonieë en hemelse musiek het my hoendervleis gegee en dikwels selfs in trane van aandoening gehad!
Vir so lank ek kan onthou, was ek al betrokke by koorsang. In die laerskool het ek al begin koorsing en later het ek in verskeie kerkkore gesing en elke oomblik daarvan terdeë geniet. Een wat ek veral geniet het om in te sing was die Rubato koor, 'n interkerklike koorgroep van Ballito wat ongelukkig 'n paar jaar gelede moes ophou bestaan. Om koor te sing was vir my seker een van die grootste hoogtepunte in my lewe. Nou moet ek egter maar tevrede wees om net saam met die gemeente in die kerk te sing!
Natuurlik is ‘n opvoering die hoogtepunt vir ‘n koor, maar elke oefening het my opgewonde gehad en elkeen het ek terdeë geniet. Om alleen te sing is nou nie juis opwindend nie, maar om saam met ander te sing wat almal entoesiasties is, laat my are bruis. Om te hoor hoe die wonderlike harmonieë rondom jou saamvloei om ‘n musiekstuk te vorm wat jou hoendervleis gee, is iets wat my baie opgewonde maak.
Dit is egter wonderlik om ‘n koorleier te hê wat jy kan vertrou, veral as hy nog sélf die koorstuk gekomponeer het. Om te weet dat hy elke stem deur en deur ken, want hy het elkeen persoonlik geskryf. Elke koorlid hang aan sy lippe om ‘n musiekstuk te leer en te bemeester. Hy leer jou presies watter gevoel hy verlang en watter klanke die koor moet voortbring. En wanneer iemand verkeerd sing, word hy met liefde reggehelp. Wanneer hy dirigeer, volg elkeen in die koor hom noukeurig en elkeen probeer sing presies soos wat hy dirigeer.
Dit is ‘n proses om ‘n koor van niks af op te lei tot een wat met gevoel en in harmonie die soetste klanke voortbring. Dit is eweneens ‘n proses waardeur God se gelowiges bekwaam gemaak word om in Sy hemelse koor te kan sing. Nee, ek praat nie van die koor van eendag nie, maar die koor wat reeds hier op aarde in die wêreld sing. En inderdaad is daar ook ‘n verskeidenheid van stemme in hierdie koor van God. Daar is alte en soprane, basse, tenore en baritonne. Ons het almal verskillende gawes, maar saam vorm ons ‘n eenheid wat in harmonie die asem van ons gehoor kan wegslaan.
Nes ‘n gewone koor, kan ons ook nie maar net skielik wegval en hemelse musiek maak nie. Daar moet opgelei word en hard geoefen word. Elkeen van ons moet baie mooi luister na die instruksies van die Groot Koormeester. Al die instruksies is natuurlik klaar neergeskryf in die groot “Koorboek”, die Bybel, dus kan ons gedurig naslaan presies wat die Koorleier van ons verlang. Maar omdat Hy die Koorboek persoonlik geskryf het, is dit van uiterste belang om te luister na presies watter intonasies Hy van ons vewag.
Hoe langer jy saam met ‘n koorleier werk, hoe makliker word dit om maar net na sy gesigsuitdrukking te kyk en te weet presies wat hy wil hê jy moet doen. Hoe beter ek die Groot Koormeester leer ken, hoe makliker word dit ook vir my om te weet wat Hy wil hê dat ek moet doen. As ek van ‘n kooroefening of twee wegbly, begin ek gou vergeet hoe om te sing. Gereelde bywoning van God se kooroefening is nét so belangrik, sodat my geheue vars sal bly en ek op my tone kan bly.
As iemand solo sing, is dit nie meer koor nie. Die bekoring van koorsang lê júís daarin dat die stemme saamvloei om ‘n harmonie te vorm. En dit geld presies net so vir God se koor, dat gelowiges saamwerk om te doen wat God verlang. Ek het netnou gesê hoe opgewonde ek is oor ‘n kooroefening. Gelowiges maak mekaar opgewonde om saam te kom vir ‘n oefening. Ek spring elke Sondag op en af van uitgelatenheid en ek kan nie wág dat dit tyd word vir die erediens nie, want dan sien ek almal weer en ons gesels en versterk mekaar. Daardie saam oefen is een groot fees! En net so geniet ek Bybelstudie geleenthede en Saterdagoggende se saam koffie drink en kuier met die manne van ons gemeente. Elke geleentheid waar ek saam met ander gelowiges kan saamwees, is vir my 'n fees!
Maar een ding moet jy duidelik begryp. ‘n Koor oefen met één doel voor oë: om ‘n uitvoering te gee wanneer hulle gereed is. Die koor van God kan ook nie net die hele tyd oefen nie! Daar moet gewerk word na ‘n doel: om ‘n uitvoering te gaan lewer.
Vanoggend is my gebed vir jou dat jy nie maar iewers op jou eie ‘n solo gaan probeer sing in die stort nie, maar dat jy deel sal word van die koor, indien jy nog nie is nie. Raak vertroud met elke noot en woord in die Koorboek. Daar sal beslis terme wees wat jy nie verstaan nie. Sluit aan by ‘n Bybelskool of Bybelstudiegroep. Daar sal jy leer wat die terme beteken, sodat jy die instruksies van die Koorleier beter kan verstaan.
En laastens: moenie net oefen nie - neem aktief deel!
Gebed:
Here, ek is so opgewonde oor elke kooroefening. Dankie vir daardie groot lekkerte wat U vir ons gegee het. Gee asseblief vir my die ywer en wil om aan baie opvoerings deel te neem!