Titus 1:1-4
Kreta lê aan skerwe! Wie moet die stukkies optel en weer aanmekaar plak? Suid-Afrika lê óók aan skerwe! Wie moet hiér optel en regmaak?
“Die regering!” sê ‘n koor van stemme. “Nee, die DA!” protesteer ‘n ander koor.
“Ons, die gelowiges!” sê Paulus. “Ek en jy, die gelowiges wat die Evangelie met Paulus deel!”
Maar wag. Nou loop ek mos die storie vooruit! Ons het reeds verneem dat Paulus hierdie brief aan Titus rig, maar dat dit inderdaad ook aan alle gelowiges geskryf is. Gewoonlik is ‘n briefaanhef ‘n kort en kragtige paar reëltjies wat sê wie die brief geskryf het en aan wie dit gerig is, met moontlik so ‘n ou tou-innie-bek groetetjie daarby.
Hierdie brief is egter anders. Dit is baie spesiaal, en gerig aan baie spesiale lesers, dus maak Paulus baie spesiale moeite met die aanhef. Gewoonlik lees ons by die aanhef verby, want dis mos nie belangrik nie. Maar hierdie een kan jy net eenvoudig nie anders as om deur te lees, en dan weer terug te gaan en te kyk of jy nie dalk iets gemis het nie. Ook maar goed so, want daar is so baie stof tot nadenke opgesluit in hierdie aanhef, dat jy beslis iets gaan miskyk. Lees hom dus gerus ‘n paar keer deur!
Paulus maak op ‘n besonderse manier die inhoud van sy prediking bekend as die fondament van die geestelike heropbou program van die gelowiges in Kreta.
Die vraag is: Wat is hierdie fondament dan? Ons het reeds gesien dat Kreta vasgevang is in ‘n spiraal van sosiale agteruitgang en wanorde. Die land is vrot van korrupsie, misdaad, leuens en onbestendigheid. Waar moet die gelowiges begin om te ontsnap uit hierdie web van wanhoop? Paulus se antwoord is eenvoudig: ‘n verhouding met God! Die één vaste punt waarvandaan alle geestelike heropbou moet begin, is by God!
Kyk nou mooi hoe Paulus hierdie situasie aan die mense van Kreta duidelik maak: God openbaar Homself aan die Kretense as die God wat sy woord hou, of anders gestel: as die God wat nooit kan lieg nie! Watter wonderlike koel lafenis is dit nie, in ‘n land waar jy niemand meer kan vertrou nie. Ook in Suid-Afrika is dit ewe waar, want korrupsie het só deel van die alledaagse geword. Om te lieg is deel van die lewe, en as daar nie openlik gelieg word nie, word die waarheid só verdraai dat dit dikwels totaal onherkenbaar is.
Die boodskap van die bestendige en volledig betroubare God moet dus weerklink in ons verwronge samelewing sowel as dié van Kreta. Dis nie maar ‘n versoek nie, dis 'n opdrag! Paulus stel homself bekend as die dienaar (slaaf) van God wat hierdie opdrag uitvoer, en by implikasie het ek en jy presies dieselfde opdrag.
Die vraag is egter of alle ongelowiges sal luister as ek en jy hierdie waarheid verkondig? Nee, sékerlik nie, maar dit sal uitverkorenes lei om in God te glo. Terselfdertyd sal dit ander gelowiges weer moed gee en hulle geloof versterk.
Ons besef maar ál te goed dat ons in ’n gebroke samelewing leef. Daar is natuurlik baie mense en organisasies wat daadwerklik iets daaromtrent probeer doen. Kyk jy egter mooi, dan sien jy dat hierdie hulp dikwels gepaard gaan met iets wat die helper daaruit kry vir homself. Die motief is dikwels selfverryking, groepsvoordele of sosiale status. As gelowige durf ons net een enkele motief vir so ‘n handeling hê, naamlik om God daardeur te dien. Wanneer ons in Suid-Afrika begin vra hoe ons God op die beste moontlike manier kan dien, dan sal daar hoop wees vir die samelewing. Inderdaad is hierdie hoop in die eerste plek gerig op die ewige lewe, maar dit het ook duidelike implikasies vir die lewe hier en nou.
In die eerste verse van die Titusbrief lyk dit of die opdrag slegs vir Paulus geld, maar as jy verder lees, raak dit duidelik dat daar ‘n gedeelde geloof tussen Paulus en Titus is, en dat Titus dus medeverantwoordelik is vir die opdrag om te preek. Vanoggend moet ons vra of hierdie gedeelde geloof nie dalk óók op jou en my van toepassing is nie? Dis baie gerieflik om te sê dat die dominee in diens van die gemeente staan, en dus die werk moet doen. Maar ek en jy, die “gewone” lidmate durf nie vingerswaaiend op die kantlyn bly sit en kritiseer nie. Dit is óók óns opdrag!
God wil vir jóú op ‘n unieke manier gebruik om Sy Woord uit te dra en in jou samelewing uit te leef. My pleidooi vanoggend is dat jy jou deur hierdie inspirerende brief laat lei en motiveer om jou tot beskikking van God te stel vir Sy geestelike heropbou program. Raak betrokke! Gebruik die talente wat God jou gegee het op jou eie unieke manier om te werk in die wingerd van God.
Gebed:
Here, ek stel my vandag beskikbaar om ook deel te wees van die span wat alreeds in U diens staan. Gebruik my asseblief net soos ek is, en gee my die krag en wysheid en deursettingsvermoë om enduit vol te hou.