Nikodemus in die Nag

24 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nikodemus in die Nag

Johannes 3:1-4

Nikodemus was ‘n baie belangrike man. Hy was ‘n leiersfiguur onder die Jode, ‘n geleerde man wat toegewy was aan die wet van God. Hy was ‘n Fariseër en ‘n gerespekteerde leermeester. Maar hy was ook lid van die Joodse Raad, waar hy saam met die ander leiers belangrike besluite moes neem oor die Joodse gemeenskap. Ons lees drie keer in Johannes se Evangelie van Nikodemus. Die eerste keer wanneer hy in die nag na Jesus kom sodat sy mede-raadslede hom nie dalk saam met Jesus sou sien nie. Ja, hierdie leier was bang! Maar later, wanneer ’n groot krisis vir Jesus kom, en die kerkleiers Hom wil gevange neem, is dit Nikodemus wat onverskrokke vir Jesus probeer opkom. Nadat Jesus gekruisig is, en al Sy dissipels verdwyn het, was dit weereens Nikodemus, die Fariseër en Joodse Raadslid wat na vore tree en die nodige middele voorsien om Jesus se lyk te balsem. Ons sien dus dat nie ál die kerkleiers korrup was nie.

Maar wat het dáárdie nag gebeur?

Nikodemus het gehoor van hierdie nuwe Rabbi wat soveel opslae maak. Die wonderwerke waarvan hy verneem het was vir hom vreemd. ’n Klein stemmetjie hier binne in hom het vir hom bly sê dat daar baie meer in hierdie Rabbi is as wat hy, Nikodemus, wil erken. Hy móét net vir homself gaan uitvind wat aangaan. Dit is ‘n bietjie van ‘n verleentheid vir hom om openlik na Jesus te gaan, want hoe sou dit nou lyk as ‘n gerespekteerde leermeester wil gaan kers opsteek by ‘n Rabbi wat deur sy kollegas verag word? Die ander kerkleiers sê mos gedurig dat hierdie Man gladnie so kosjer is nie, hou nou nie juis die wet so nougeset nie. Wat sal sy Fariseër-vriende van hom dink? Nee, hy moet liewer onder dekking van die nag na Hom gaan sodat daar nie te veel vrae sal wees nie. En dan sal hy natuurlik sy woorde baie mooi moet kies om nie sy eie onsekerheid te wys nie.

Wanneer Nikodemus vir Jesus opspoor waar Hy besig is om die dag se gebeure met Sy dissipels te bespreek, voel hy bitter ongemaklik tussen die rowwe vissermanne en doodgewone mense. Nou moet hy wys dat hy darem nie sommer net ‘n hierjy-se ou man is nie: “Rabbi, ons weet dat U ‘n leermeester is wat van God af gekom het”, begin hy baie hoogdrawend, “want niemand kan hierdie wondertekens doen wat U doen as God nie by hom is nie.

Nikodemus hoop heimlik dat Jesus hom sal antwoord en bevestig dat Hy die Messias is, die Een waarvan hy al so baie gelees het in die Skrifte, en van Wie hy sy leerlinge al so baie geleer het. ‘n Tinteling gaan deur Nikodemus se liggaam: sê nou net hy het rêrag die Messias ontdek!

Maar Jesus sien dwarsdeur hom. Sy antwoord is gladnie wat Nikodemus verwag nie. Jesus sien Nikodemus se héél diepste behoefte raak, ‘n behoefte waarvan Nikodemus sélf nie eers weet nie: “Dít verseker Ek jou: as iemand nie opnuut gebore word nie, dan kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.” Jesus se antwoord slaan Nikodemus tussen die oë. Hy is stomgeslaan. Watter soort van antwoord is dit? Hierdie Rabbi praat in raaisels! ‘n Mens kan tog nie weer ‘n slag gebore word nie? Wat presies bedoel Hy daarmee?

Nikodemus is baie ernstig oor sy ontmoeting met Jesus. Hy kies sy woorde sorgvuldig en berekend. Nogtans is hy eerlik met sy vrae. As dit maar net nog ‘n oppervlakkige uitlokking was, soos so dikwels van die Fariseërs gekom het, sou hy openlik in die dag na Jesus gegaan het. Nikodemus het dus gehoop om waarlik iets van Jesus te leer. En hy was beslis nie teleurgestel nie!

Jesus se eerste antwoord het hom nou wel uitgeboul, maar Nikodemus kan sommer voel dat hier nog ‘n baie diep gesprek kan gebeur. Sommer met die intrapslag moet hy uitvind dat Jesus nie maar net die Wonderwerker is wat water in wyn kan verander nie, maar dat daar baie meer in Hom is. Hy verstaan Jesus se eerste antwoord dalk verkeerd, dalk 'n bietjie opsetlik! As Jesus sê dat iemand “opnuut gebore” moet word, gebruik Hy ‘n dubbelsinnige woord, wat ook kan beteken “van bo gebore”, met ander woorde dat dit ’n geboorte van God af is.

Jesus se gesprek met Nikodemus oor die wedergeboorte, sou hierdie man se ganse lewe verander. Dit is die héél belangrikste gebeurtenis in énige mens se lewe. Nikodemus se ore was gespits. Hy wou elke woord van hierdie gesprek indrink. Vir my en jou is hierdie gesprek ewe belangrik, en ons moet dit oor en oor en oor lees sodat ons herinner kan word aan daardie belangrike gebeurtenis in ons lewe, die dag toe dit gevoel het asof die son bollemakiesie slaan van blydskap. Ons kan dus ook nie anders nie, as om die volgende paar dae te spandeer aan hierdie gesprek.

Gebed:

Here, dankie dat ek saam met Nikodemus opgewonde kan wees oor daardie nuwe lewe wat alleen U kan gee deur die Heilige Gees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026