Efesiërs 1:5-14
‘n Laaste gedagte oor die uitverkiesing. Dit is Januarie 1966 in Potchefstroom. Op die paradegrond staan ons manne ingeryg soos garnale aan ‘n sosatiestokkie. Garnale inderdaad, want die bloedige son het ons almal bloedrooi gebrand!
“Nommer 6508414, tree uit!” blaf die Sersant.
“Wat is my nommer nou weer?” Ek delf diep in my geheue om daardie belangrike nommer op te spoor.
“Nommer 6508414, waar is jy? Waarom moet ek vir jou wag?”
“Maar dis mos mý nommer daai!” Ek word in baie gekruide taal uitgevreet omdat ek nie vinnig genoeg reageer het nie!
Voel jy soms asof jy net ‘n niksseggende nommer is? Is alles ooit die moeite werd? Raak jy soms moedeloos omdat jy maar net ‘n ou spikkeltjie in die groot heelal is, en dat daar niemand is wat in jou belang stel nie? Die boek Prediker begin met sulke moedelose woorde: “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?”
Dalk is jy werklik eensaam, het jy niemand wat waarlik vir jou omgee nie. Maar wees vandag verseker: jy is NIE maar net ‘n nommer nie! Lees gerus weer Efesiërs 1:11, dan besef jy baie gou dat jy beslis nie maar net daardie stofdeeltjie is nie. Jy is baie spesiaal vir God! Só spesiaal, dat Hy eenmaal lank, lank gelede, selfs nog voordat daar tyd was, alrééds besluit het om jou deel van Sy volk te laat wees, jou dus uitverkies het. Ja, selfs nog meer: om jou Sy kind te maak! Hy het selfs so ver gegaan om Sy enigste Seun op te offer as losprys sodat jy deel van Sy familie kon word. Jy is dus met ander woorde eintlik ‘n aangenome kind van God. Jesus is God se Seun, en in Jesus is ons God se “aangenome” kinders.
Maak dit werklik saak dat ons aangenome kinders is en nie bloedeie kinders nie? Volgens die Romeinse regstelsel het ‘n aangenome kind destyds presies dieselfde voorregte gekry as ‘n bloedeie kind. Omdat God ons Sy “aangenome” kinders gemaak het, kry ons nou ook presies dieselfde regte en voorregte asof ons God se eie kinders is. In Galasiërs 4:5-7 skryf Paulus dat God ons vrygekoop het “sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken Vader! Jy is dus nou nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy Sy kind is het Hy jou Sy erfgenaam gemaak.”
Ek is dus nou gladnie meer daardie simpele nommer wat ek in my weermag dae was nie, maar ek het ‘n identiteit! Ek is iemand! Inderdaad iemand wat aan God behoort! Boonop is ek ook iemand wat totaal nuutgemaak is deur God persoonlik!
Hierdie dinge het egter nie maar sommer so toevallig gebeur nie. Dit was deel van God se noukeurige beplanning, alreeds baie lank terug. Wat beteken dit? Dit beteken dat God in totale beheer is. Sy plan het uitgewerk presies net soos Hy dit bepaal het. Hy het my en jou uitverkies om Sy kinders te wees. En Hy is ons Vader in die hemel wat vir ons omgee en sorg.
Maar daar is meer! In vers 13 en 14 sien ons dat God ons ‘n waarborg gegee het in die Heilige Gees, die Waarborg dat ons sal ontvang wat God ons belowe het. Wat het Hy belowe? Dat ons God se eiendom is, Sy kinders omdat Hy ons uitgekies het. Ons behoort volkome aan God, en niemand kan ons uit Sy hand ruk nie. Hy het as’t ware die seël van die waarborg dat alles eg is op ons afgedruk.
Dit gebeur wel soms dat ‘n gelowige twyfel oor sy kindskap. Ek het al met menige gelowige gesels, wat sê dat hulle nie seker is of hulle werklik die ewige lewe het nie. Die duiwel is die opperste leuenaar, en hy sal alles in sy vermoë doen om twyfel te saai by ‘n gelowige. Hy het dit alreeds daar in die tuin van Eden gedoen, toe hy vir Eva gevra het: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” Vandag vra hy: “Dink jy werklik dat jy gered kan word deur slegs in Jesus te glo?”
Het jy al ooit getwyfel? Of moontlik moet ek vra of daar iemand is wat nog nooit vir ‘n oomblik getwyfel het nie? As daar ooit sulke gedagtes by jou opkom, kan jy maar net weer Efesiërs 1:13 se laaste deel lees, en dit diep in jou hart gaan bêre: “In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as eiendom van God beseël.” Dit is finaal! Die stempel van egtheid is deur die Heilige Gees afgedruk sodat ons verséker, sonder enige twyfel kan weet: Ons is God se eiendom! Ons is uitverkies, en dus is ons God se kinders! Ons hét dus die ewige lewe! Verséker!
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag verseker kan weet dat U my uitgekies het, en dat ek aan U behoort en U kind is.