2 Johannes
Met die koms van internet het ons die kuns en saam daarmee die heerlike lekkerte van briefskryf byna totaal verloor. Soms stuur iemand darem nog 'n brief per e-pos, maar selfs dít raak skaars. Ons kommunikeer per sosiale media - Twitter (nou al afgekort tot X), WhatsApp of Facebook en dan is dit meestal slegs 'n kriptiese notatjie! Die lewe het gans te gejaag geword en daar is net eenvoudig nie meer tyd om te sit en skryf nie!
Ai, ek onthou nog uit my kleintyd hoe Oupa elke oggend van die plaas af gery het poskantoor toe. Terwyl hy daar langs die posbus gestaan het, het hy hulle al een-vir-een oopgemaak en vinnig gelees. Hy kon sy nuuskierigheid net nie beteuel om nog te wag tot hy eers by die huis kom nie! Natuurlik het die briewe dan van die een na die ander gegaan totdat almal hulle ’n paar keer oor en oor gelees het. En dan is die inhoud van die briewe tot vervelens toe bespreek!
Daardie briewe was die verlengstuk van die skrywer se persoonlikheid. Omdat hy nie persoonlik mens-tot-mens met jou kon gesels nie, het hy sy hart en siel uitgestort op die stukkie papier!
Ja, ek onthou nog so goed soos gister, toe ek in die weermag in ‘n tent op Potchefstroom se stowwerige vlaktes gesit het, dolverlief. My Mosbolletjie was bitter ver van my af en die verlange was baie groot. Saans het ek in die tent gesit en my liefde en verlange op 'n stukkie papier uitgestort. As daardie Jeep soggens in ‘n lang stofstreep van die dorp af kom, staan ek al klaar en rondtrippel van ongeduld en opgewondenheid vir ‘n brief van my geliefde! Ek het eers haar heerlike geur wat steeds kleef aan die koevert ingedrink en dit dan met bewende hande oopgemaak, vinnig deurgelees en dan onder ‘n boom gaan sit en elke woord ingedrink, oor en oor. Ai.....! Die nostalgie!
Dit was vroegoggend êrens in Klein Asië. Iemand klop aan die deur en as die vrou vir hom oopmaak, oorhandig hy ‘n papirusrolletjie aan haar, netjies opgerol en verseël met ‘n druppel was. Dis aan haar geadresseer en haar hande bewe liggies as sy die seël versigtig breek, want sy wéét sommer dat hierdie brief van gróót betekenis is! Sy is 'n gerespekteerde leier in die gemeente. “Van die oudste,” lees sy. “Dis van die Apostel Johannes af”, verduidelik sy onnodiglik vir die briefdraer wat beteuterd eenkant staan. “Ou man! Ou maaan! Ons het ‘n brief gekry van Johannes!” Sy is so opgewonde dat sy haar lag nie kan hou nie. “Aan die uitverkore vrou en haar kinders,” lees sy verder. “Ek gaan sommer dadelik die gemeente bymekaarkry,” dink sy hardop.
Dis nie juis ‘n lang brief nie. Die hele brief pas net mooi in op een standaard papirusvelletjie. Vinnig lees sy die brief deur en dan hardloop sy so vinnig as wat haar voete haar kan dra na ‘n ander gemeentelid. “Kyk net wat het ons gekry!” Sy is baie opgewonde. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand en daardie selfde aand nog is die hele gemeente bymekaar om te kom luister wat Johannes skryf. Baie dramaties lees die gemeenteleier die brief voor tewyl jy ‘n speld kan hoor val. Elke woord word ingedrink. Die brief word weer en wéér gelees, totdat elke stukkie simboliek uitgepluis is.
“Ja, hier het julle dit duidelik gehoor: ons moet mekaar liefhê! Apostel Johannes skryf sélf so!” lewer iemand kommentaar.
"Inderdaad! Maar moenie die waarheid vergeet nie, dis óók baie belangrik!" gee iemand anders sy bydrae.
“Ja, maar is dit nou rêrig nodig dat dit so oor en oor gesê word?” wil iemand anders weet.
“Natuurlik! Hy beklemtoon dit omdat dit so geweldig belangrik is! As daar nie liefde is nie, beteken ons geloof net mooi niks! En boonop beteken daardie liefhê óók dat ons volgens God se gebooie leef. Hier staan dit baie pertinent in die Apostel se brief!” Daar is ‘n onderlangse gebrom soos almal saamstem dat onderlinge liefde beslis ‘n baie belangrike ding is!
“Ek verstaan nog nie mooi van die antichris nie”, kerm iemand daar uit die agterbanke uit.
“Maar het jy dan nie geluister wat Johannes skryf nie? Dis die mense wat so knaend probeer om die dinge wat ons geleer is te ondermyn. Hulle wil net hulle eie teorieë oor die Evangelie op ons probeer afdwing. Jy moenie eers jou ore aan hulle uitleen nie! Vermy hulle, want nét miskien kan hulle jou ook beïnvloed. Bly liewer heeltemal weg van hulle af.”
“Ja,” beaam een ou gryskop, “die dinge wat Johannes ons geleer het oor Christus - dít is die wáre leer van God! As jy daaraan verander dan misken jy God. Maar as jy bly vashou aan hierdie geloof en dit uitleef, erken jy eintlik God vir Wie Hy wáárlik is.”
Daardie aand word daar baie laat kerkgehou en die kort briefie met sy skamele 245 woorde word oor en oor bespreek tot in die kleinste detail. Wat Johannes op daardie papirusrolletjie geskryf het is vandag nog nét so vars, relevant en belangrik vir my en jou, byna ‘n volle tweeduisend jaar later. Die boodskap, dat ons mekaar moet liefhê en dat ons moet wegbly van die “antichris,” staan steeds nét so vas!
Gebed:
Vader, ek dank U vir daardie briefie van Johannes. Skryf asseblief die liefde op die papirus van my hart sodat ek dit kan uitleef met alles binne in my!