Nehemia se Lewe Bedreig

31 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Nehemia se Lewe Bedreig

Nehemia 6:1-19

VIDEO | OUDIO

Die bouwerk het einde se kant toe begin staan. Nehemia kon met tevredenheid toekyk dat ál die mure herstel was na hulle ou glorie. Al wat nou nog moes klaar kom, was die deure wat in die poorte moes kom, dan was alles afgehandel.

‘n Ent noord van Jerusalem was daar egter ‘n man wat gladnie gelukkig was oor die situasie nie – Sanballat. Om die waarheid te sê, was Sanballat en sy vriende, Tobija, Gesem die Arabier en al die ander vyande van Juda briesend van woede! Hulle het saamgesweer om vir goed van Nehemia ontslae te raak!

Dis tóé dat ‘n boodskapper een dag by Nehemia aankom met ‘n nota: “Kom, laat ons byeenkom by Kefirim in die Onovallei.”

Nehemia het sommer dadelik lont geruik! Hy skryf toe sélf ‘n nota en stuur dit aan Sanballat en sy trawante: “Dit is 'n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?” (6:4) Vier keer stuur Sanballat dieselfde boodskap, en elke keer wys Nehemia dit baie diplomaties van die hand “omdat sy verpligtinge dit nie toelaat nie.”

Toe Sanballat sien dat mooi praatjies nie werk om Nehemia in ‘n lokval te lei nie, verander hy sy taktiek. Weereens stuur hy ‘n brief aan Nehemia, maar hierdie slag maak hy bewerings van ‘n gerug wat die rondte doen dat Nehemia van plan was om homself koning te maak van Judea, en dat hy en sy Judeërs dan in opstand sou kom teen die koning van Persië! Dít was die éíntlike rede waarom hulle die mure van Jerusalem herbou het! Volgens die gerugte sou Nehemia selfs sover gegaan het om profete aan te stel wat sou verkondig dat hy alreeds koning was! Sanballat skryf dat hierdie gerugte al op pad was na die Persiese koning, en dat gróót moeilikheid op pad was! “Kom dan nou, laat ons bymekaarkom!” sluit hy sy pleidooi af.

Nehemia het hom bloot geantwoord dat Sanballat besig was om hierdie beweringe uit sy duim te suig! Hierdie was duidelik sielkundige oorlogvoering om Nehemia te probeer dwing om die werk te staak. Hy swig egter nie hiervoor nie, en hy wend hom tot God om sy hande sterk te maak.

Toe niks werk nie, huur Sanballat en Tobija ‘n vals profeet met die naam Semaja om ‘n “profesie” te maak dat Nehemia na die tempel moes vlug want iemand was besig om te beplan om hom dood te maak! Omdat Nehemia nie ‘n priester was nie, sou dit ‘n godsdienstige oortreding wees as hy dit sou doen, en hy sou hom die gramskap van die geestelikes op die hals gehaal het. Boonop sou dit ‘n vernedering wees as hy, die goewerneur sou vlug! Watter soort voorbeeld sou dit vir die volk wees? Dit was baie duidelik dat hierdie profeet omgekoop was om hom bang te maak met ‘n valse profesie om sodoende sy kredietwaardigheid by die mense te probeer vernietig!

Uit vers 14 kom ons agter dat hierdie nie ‘n geïsoleerde geval was nie, maar dat daar van verskeie kante af gepoog was om van Nehemia ontslae te probeer raak. So was daar byvoorbeeld ‘n profetes by name Noadja asook ‘n paar ander profete wat Nehemia probeer bangpraat het en sy werk in die wiele probeer ry het.

Nehemia het dwarsdeur al hulle plannetjies gesien en hom nie daaraan gesteur nie. “Wie sal, in my situasie, die tempel binnegaan sodat hy kan lewe? Ek sal nie gaan nie!” (v. 11) Hy het vasgebyt en bloot voortgegaan met sy taak!

In minder as twee maande, ‘n skamele 52 dae word hierdie reuse, byna-onmoontlike taak afgehandel om die vervalle mure van Jerusalem totaal te herstel. Almal wat daaraan gewerk het was gemotiveerd. Boonop was hulle nood baie groot, en hoe gouer dit afgehandel kon word, hoe gouer kon alles weer na normaal terugkeer en kon hulle ekonomie herstel. Dit het skoon die wind uit hulle vyande se seile gehaal! Baie van die volk se vyande het begin besef dat Nehemia en sy span onder die vaandel van God en met Sy hulp die werk afgehandel het!

Tóg was dit het einde niet! Die Samaritaanse vyandige optrede het steeds bly voortduur. Daar was byvoorbeeld noue bande tussen sekere Samaritane en Judeërs. Dit was nie alleen handelsbetrekkinge nie, maar ook ondertrouery, en dit het spanning veroorsaak. So was die hoëpriester, Seganja Tobija se skoonseun. Daar was egter géén sprake van enige versoening nie, en Tobija het aangehou om Nehemia te probeer bangmaak!

Ons moet maar ál te deeglik besef, dat as jy voluit die werk van die Here doen, dan sal die teenstand al hoe feller raak! Daar is egter slegs één raat daarvoor: om nóg nader aan die Here te leef en jou te verdiep in Sy werk! Moenie jou steur aan die bogpraatjies van kwaadstokers nie, maar verlustig jou in die Here!

Gebed:

Here, ek dank U dat daar soms teenstand is met die werk wat ek vir U doen, want dit herinner my daaraan dat ek op die regte spoor is. Versterk my Here, sodat ek U werk met onderskeid sal kan doen!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026