Genesis 12:4-9
Alles is in rep en roer in die Abram-huishouding. Jare en jare se goed wat Sarai versamel het word opgepak vir die groot trek (ja dalk het Abram ook so ’n ou klein aandeeltjie gehad!) Daar word gehiet en gebied: “Versigtig met daardie kruik hy is kosbaar!” Van heinde en verre kom familie en vriende om vir oulaas te groet. Hulle skud hulle koppe meewarig: Wat het die ou man tog besiel om op vyf-en-sewentigjarige ouderdom te wil staan en trek? Nou nie dat hy juis beplan om na ‘n aftree-oord te gaan nie. Nee, hy wil op sy oudag nuwe wêrelde gaan ontdek. Hulle sê dat hy nie eers weet watter rigting hy gaan inslaan nie, glo net iewers suid .......
Die familie is vies vir Abram, want ‘n ordentlike man los mos nie sy familie sommer net so nie! Maar Abram is so opgewonde soos ‘n klein seuntjie wat op pad is Margate toe.
Nefie Lot kom so deur die oppakkery na die ou man toe: “Oom Abram, hoe lyk dit, kan ek nie maar saamgaan nie?” Hy sien net opwinding voorlê. Abram kyk sy broerskind op en af. Sal die mannetjie ooit opgewasse wees vir hierdie soort ding? Hy is maar ‘n bietjie van ‘n losbol. Mens weet nooit waarmee jy daar in die vreemde te doene gaan kry nie. Daar is juis fluisteringe van reuse en allerhande skrikwekkende barbare daar langs die Dooie See. En dan is daar die gerugte van die Goddeloosheid van die mense, glo iets aller-ysliks! “Ja, toe, pak dan maar op. Ons vertrek oor ‘n week.”
Dit was ‘n trek van epidermiese proporsies. Daar was kamele en nog kamele en nóg kamele, almal gelaai tot brekens toe. Die slawe het in stringe geloop, en dan was daar Abram se vee, groot kuddes wat hy vir homself versamel het in Haran. Ja, Abram kon sékerlik tevrede gewees het met homself oor hierdie rykdom wat hy opgebou het. Die Here was vir hom baie goed.
Dit het amper ‘n halfdag geneem vir almal om in beweging te kom. By die poorte van Haran staan skares familie en vriende en huil oor Abram. Dit is ‘n groot verlies.
Die Bybel sê nie vir ons hoe lank dit Abram geneem het om te kom by die plek wat die Here hom sou aanwys nie, maar sy reis moes sékerlik ‘n maand of twee-drie geduur het. Soos die kraai vlieg is dit meer as seshonderd kilometer van Haran af tot by Sigem, waar Abram vir die eerste keer uitspan. Daar by die groot waarsêersboom het die Here met Abram gepraat. Daar het Abram weer daardie stem in sy binneste gehoor, klokhelder, asof die Here hier reg voor hom staan: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,” het die Here vir hom gesê. Abram se mond val oop: “Aan mý Here? Gee U hierdie hele groot land aan my en my nageslag?” Dit het Abram nooit in sy wildste drome verwag nie. Eers was daar die belofte dat die Here hom ‘n nageslag sou gee, en dit terwyl sy liewe Sarai onvrugbaar is. En nou hiérdie belofte!
Abram het in aanbidding voor God neergeval. Dit is ‘n mooi land. Wat het hy wat Abram is, gedoen om dit te verdien? “Dankie Here, dankie,” prewel hy terwyl hy begin om klippe bymekaar te maak. “Hier moet ek ‘n altaar bou,” maal dit deur sy gedagtes, “’n altaar vir God. Hier sal ek ‘n offer bring aan die Here wat my veilig gebring het deur die gevaarlike, onherbergsame wildernis tot hier.”
God bou ‘n geloofsgemeenskap. Hoe doen Hy dit? Hy roep en Hy belowe. Geen dwang, die mens moet self kies. Hy word ‘n keuse gestel: hy kan in Haran bly, in die paradys, die land van oorvloed, daar waar hy soveel rykdom kon opgaar. Daar kan hy voortgaan met sy óu lewe, waar al sy vriende en familie waarskynlik afgodsaanbidders was. Of hy kan hierdie verskriklike waagstuk aangaan, om die onherbergsame wildernis aan te durf op pad na ‘n bestemming wat totaal onbekend is aan hom. Doen hy dit, stel hy homself totaal weerloos in die hande van God. Sou hy God genoeg vertrou om hierdie waaghalsige stap te neem?
Hy besluit om God onvoorwaardelik te vertrou. En wanneer hy dit doen, kom die groot verrassing: daar wag ‘n tweede belofte op hom, die belofte van ‘n ganse land wat aan hom sou behoort.
Abram antwoord deur die Here aan te roep (met woord), en deur ‘n altaar te bou (met daad). En dan begin hy deur die hele land te trek en oral tent op te slaan. Sodoende neem hy simbolies die land in besit. Nee, hy verower nie die land met ‘n groot gedruis nie, maar neem dit bloot simbolies in ontvangs. Dit is mos ‘n geskenk van God!
Hoe groot is my vertroue in God? Hoe ver is ek bereid om Hom te vertrou? Ek het al dikwels gesien hoedat mense die sendingveld invaar met slegs ‘n belofte van God. Dikwels is hulle bereid om alles prys te gee en te waag. En dan skud die familie en vriende meewarig die kop. Maar as jy hom ‘n ruk later raakloop, en jy sien dat sy klere deurgeskaaf is, maar die blydskap straal uit hom uit, dan weet jy dat dit nooit ‘n waagstuk was nie, maar dat hy slegs op God vertrou het. En God was getrou!
Gebed:
Here, so dikwels is my vertroue so klein. Versterk asseblief my lam knieë.